[Micke de Jager]
Ek dra julle almal liggies in my hout:
duisende halwe name, halwe beloftes,
halwe trane wat nooit geval het nie.
Jy kom soggens met deurmekaar hare,
druk jou hande warm op my blad,
en vir ’n rukkie is daar net asem
en die son wat deur die venster val.
Ek hoor julle lag, fluister, hardop droom,
soms ’n sug wat te groot is vir sestien,
maar dan weer ’n storie oor gisteraand
en hoe alles skielik sin maak.
My merkies is nie wonde nie, dis julle spore:
“matriek 2026”,
’n fyn getekende ster.
Maar in my jaarringe bly die warmte van hande wat geglo het, van oë wat nog hoop gehad het,
van daai oomblikke toe julle net julleself was.
Ek dra die eggo van jou lag soos hars wat stadig hard word.
Wanneer die laaste skoene wegstap en die ligte dof word, bly ek staan:
’n leë troon met julle spore in my jaarringe,
’n stil getuie dat iets hier gegroei het,
al is dit net vir ’n seisoen.
Sit nog ’n bietjie, asseblief.
Voor die volgende klok lui en ek weer stilletjies wag
vir die volgende hart om my te kom vashou.
Micke de Jager
Micke is ’n kunsliefhebber met ’n sagte hart vir haar twee worshondjies. Sy geniet dit om te teken, na musiek te luister of ’n goeie storie of fliek te ervaar.
