[Amelia Deacon]
Een taal, 1 200 kinders, maar slegs twee stemme. isiXhosa is die tweede mees gesproke taal in die land, maar net twee leerders kan ’n Xhosa-gesprek voer.
Ek moes in graad 7 ’n keusevak vir hoërskool kies. isiXhosa is nog altyd ’n taal na aan my hart. Ek was vreeslik opgewonde om my passie vir Afrika-tale te deel met 2026 se graad 8’s in die Xhosa-klas.
Ek onthou nog die dag wat my ma ’n e-pos van die skool gekry het om te sê dat ek ’n ander keusevak moes kies. Vyf leerders is ontneem van die geleentheid om ’n nuwe taal te leer, want vyf kinders is nie genoeg om ’n klas te vorm nie.
Die ergste van alles is dat dit in 2025 ook gebeur het, want Dee-Effers ag nie die taal as belangrik nie. Ek en my sussie neem isiXhosa as ’n ekstra vak ná skool by juffrou Pauw, want daar is nie ’n ander opsie nie. Twee Xhosa-stemme is steeds nie genoeg om ’n verskil te maak nie.
Benjamin Lee Whorf het gesê: “Tale vorm die manier wat ons dink en bepaal waaroor ons kan dink.” Xhosa bou families en bring gemeenskappe en kulture bymekaar. Naomi Deacon (my sussie) het gesê: “Xhosa lê in die hart van Suid-Afrika.”
Ek glo dat dit tyd is vir die hart van Suid-Afrika om ’n pols te kry. Umntu ngumntu ngabuntu beteken ’n mens is ’n mens deur ander mense. Wys jou liefde en praat in iemand anders se moedertaal. Jy weet nooit wat dit werklik vir iemand beteken nie, maar neem ’n kans en wees die ekstra stem.
Amelia Deacon
Amelia is ‘n graad 8-meisie wat na skool haar tyd in haar geliefkoosde balletskoene deurbring. Wanneer sy nie besig is om te dans nie, skryf sy die gedigte en stories wat al heeldag in haar kop rondhardloop, neer.
