[Lynn-Marie Louw]
Met twee kwartale agter die rug, het die juniors van ons skool al verskeie geleenthede gehad om by die DF-familie in te skakel. Die spoed waarteen hoërskool beweeg, maak tog dat ‘n mens sommige dinge misloop. Weet almal ooit dat daar iets soos ‘n junior toneelgroep is?
Aan die begin van die jaar kon DF Malan se aspirant-akteurs hul beste voetjies voorsit om deel te word van die skool se toneelgroep. Na afloop van die oudisies – en baie kopkrap – is twee groepe gekies om aan die werk te spring met die produksies vir die jaar.
Die twee groepe is die #been-there-done-that, #ervaring-is-priceless seniors en dan die #nat-agter-die-ore, #ek-hou-van-toneel juniors.
Om deel van hierdie twee groepe te wees, gaan oor veel meer as net speel-speel toneel op ‘n saal se verhoog. Die akteurs moes gedurende die Junie-vakansie hul laatslaapoggende opoffer en woeker met hul stukke wat deur ons eie juffrou Eygelaar geskryf is. Daar was in Julie reeds drie geleenthede waar hulle hul verhoogproduksies – met klank, ligte, grimering en props – moes opvoer.
Terwyl jy nou hierdie artikel lees, vra jy dalk vir jouself: hoekom toneel? Toneel bied ‘n mens die kans om jouself opsy te skuif. Dit bied jou die kans om die wêreld deur iemand anders se oë te beleef – deur letterlik in iemand anders se skoene en klere te klim. Op die verhoog is jy nie alleen in beheer nie. Jy en jou mede-akteurs word gedwing om as ‘n span te funksioneer. Die vertoning se sukses kom neer op hoe afhanklik julle van mekaar is om elke storie realisties, met natuurlike vloei, uit te beeld.
By DF Malan is daar verskeie geleenthede wat aan ons gebied word om onsself voor te berei vir die toekoms. As jy deel van toneel is, leer jy ‘n klomp vaardighede wat jy juis buite die klaskamer en in die grootmenswêreld kan toepas. So, as die geleentheid homself dus weer voordoen, moet to act or not to act nie eers meer ‘n vraag wees nie. Neem die eerste tree en word deel van die junior toneelgroep!
Lynn-Marie Louw
Lynn-Marie is ‘n gr. 8-boekwurm wat hou van kultuur. Sy hou van skryf en stories oor nonsens vertel.