Kap jou kop vir sukses

[Etienne van der Merwe]

Het jy al gesien hoe parkour-atlete teen mure uithardloop? Hoe ongelooflik hulle veerkrag is en hoe hulle vinniger as vuurpyle kan opskiet? Ek is al min kere so vasgevang soos wanneer ek dié guru’s bewonder. 

Het jy besef dat gedurende die dae en weke en maande van oefening, hulle voet dalk, net miskien, kan gly? In plaas van ‘n grasieuse sprong, vreet hulle die muur. Dis dalk ‘n jammerte, maar die werklikheid skrik vir niks.

Rag’n’Bone Man se woorde maak hier sin: “I`m only human after all”. En Stephan McCranie het gesê: ”The master has failed more times than the beginner has ever even tried”.

Hulle sê dat die jong brein ‘n spons is wat inligting gretig opneem, maar het iemand jou al vertel hoe hierdie proses lyk? Miskien het jou ouers jou iets probeer leer oor leer. Hoe hulle geleer het. Hoe hulle dink leer lyk. Of jou selfs gestuur vir ‘n kursus.

Nou weet jy van die verskillende tipes leerders – kinesteties of visueel. Jy het miskien verdere navorsing gedoen en ken nou die Leitner-sisteem of jy studeer nou met klassieke musiek (Obscure 18th century composers – The Best Colleges) of het geleer oor interval-leer of oor al hierdie wetenskapgedrewe tegnieke. Daar is egter steeds ‘n probleem: Jou skoolwerk verbeter nie.

Daar is tye wat dit voel asof daar ‘n muur is wat tussen jou en die bemeestering van die werk staan. Gegewe ‘n gunstelingsondebok, Wiskunde, kan ons ‘n paar interessante afleidings maak.

Daar is sekere voorafbepaalde sienings oor hierdie vak. Die grootste een is dat jy dit of kan doen of dis totaal en al buite jou bereik. Daar is ‘n paar bydraende faktore hier. 

Die probleem stam grootliks uit die siening van die vak en algemene stigmas. Daar word aanvaar dat wiskunde totaal irrelevant is vir die meeste beroepe en dus hoef jy nie jou energie daarop te mors nie. Nog een is dat, omdat jou vriende of familie nie daarvan hou nie, sal jy ook nie.

Dit lei tot ‘n omgewing waar wiskunde en wetenskappe amper uitgesonder word vir die mense met natuurlike aanlegte vir die vakke, alhoewel dit glad nie waar is nie. Al wat mense terughou, is hoe hard hulle probeer en hoe graag hulle dit wil

Veral in jongmense kan die brein maklik nuwe verbindings vorm om nuwe goed te leer. Dit word neuroplastisiteit genoem en as gevolg daarvan sê dr. Jo Boaler van Stanford dat geen hoër-vlak idee buite bereik van studente is nie. Dr. Lieb Liedenberg (OptimiClassroom) stel voor dat algemene teenargumente uit persoonlike ervaring kom en dus nie wetenskaplik bewys kan word nie.

Dit stem ooreen met die twee bronne wat vir my die geloofwaardigste is: wetenskap en persoonlike ervaring.

OptimiClassroom het ‘n artikel gepubliseer waarin hulle die resultate van onafhanklike navorsing saamgevat en verwerk het. Hulle het bevind dat die grootste teenstander van wiskundige prestasie die siening is dat intelligensie ‘n konstante is en dat die mense wat geglo het dat hulle kan groei en verbeter, wel beter presteer.

Bob Ross het gesê dat talent belangstelling is wat (herhaaldelik) toegepas word. Niks kan meer aanklank by my vind nie. Daar is tonne gesegdes soos dat 10 000 ure benodig word om ‘n meester te word. Ek het dit al opgelet in my akademie (Daar is omtrent ‘n 10% verskil in vakke waarin ek belangstel en nie belangstel nie.), my sport en my stokperdjies. Om te oefen en leer en weer te oefen en weer te leer is ‘n stadige en pynlike proses, maar dit is broodnodig. Jy leer nie uit suksesse nie, maar uit die mislukkings! Ek het agtergekom dat wanneer ek meer tyd aan ‘n sekere belangstelling bestee, maak ek meer foute, maar ek leer dan ook daaruit. 

Vir my is programmering ‘n groot passie en my passie hiervoor is aangehits deur David Heinemeier Hansson se woorde. Hy redeneer dat die towerkuns van programmering lê in die goed wat jy nog nie ken nie en dat wanneer jy dit aanleer, die gevoel vanaf “Ek het geen idee hoekom dit gebeur of werk nie” na “Die rekenaar doen presies wat ek wil hê dit moet!” skuif. Die idee is om die towerkunstenaar te word, nie die toeskouer wat betower word nie.

As jy verby hierdie uitdrukking kan kom, dan sien jy dat Hansson jou tot passie en leergierigheid aanhits. Die regte towerkrag van passie is dat dit onbelangrik is of jy val of struikel of jou kop teen die alomteenwoordige muur kap, want daar is iets om te leer en passie sal die les deur selfs die dikste skedel kan dryf.

Ten slotte het die Nobelpryswenner vir wiskunde, Laurent Schwartz gesê dat hy in graad 11 klinkklaar oorreed is dat hy dom is omdat hy altyd baie lank gevat het om die antwoord te kry. Nou is hy daarvan oortuig dat dit irrelevant is hoe jy daarby uitkom, maar dat ‘n diep verstaan van die onderwerp ter sprake, die grootste bousteen van sukses is.

Al wat ‘n mens hoef te weet van sukses, is dat dit nie in die lig van die wennersbeker gevind word nie, maar in die sweet en trane wat dit voorafgaan.

Etienne van der Merwe

Hierdie skrywer is soos ‘n menslike Swiss Army-mes: Hy bons tussen programmering, lees, krieket, wiskunde, ekonomie en debat asof dit geen probleem is nie.