Klik of klim – kies self jou kennispad

[Jimmy Wiggins]

Kunsmatige intelligensie, O kunsmatige intelligensie!
Waarom is jy dan juis kunsmatige intelligensie?

Oukei, ek moet erken. Dit het dalk nie heeltemal dieselfde effek as Romeo s’n nie, maar dit is ’n goeie vraag om te vra in die veranderende wêreld van KI.

KI is slim, vinnig en kan amper alles doen waarvoor jy nie tyd het nie. In ’n wêreld waar daar verskeie programme en toeps is wat binne sekondes opstelle, opsommings en selfs wiskunde-antwoorde volledig kan voltooi, ontstaan die vraag: As daar sulke alternatiewe is, wat is die doel daarvan om dit self te doen? Daar is dan soveel makliker maniere.

Wat gebeur as die hulp ’n kruk word? Of jy word op heterdaad betrap?

Die gebruik van KI kan langtermyn-probleme veroorsaak wat jou laat struikel op maniere wat jy eers later besef. Daarom wil ek die skadukant van kunsmatige intelligensie bespreek.

In alle eerlikheid: skool kan soms dol raak. Huiswerk staan teen die dak en take hou net aan ophoop. Om elke hoek en draai loer die DF-kultuur van betrokkenheid – ’n kultuur wat elke leerder positief beïnvloed, maar soms tydrowend kan wees. Dus kan KI help om die skoolwerk bietjie vinniger afgehandel te kry. Vir baie leerders is die versoeking net te groot. So swig hulle onder die druk en gebruik KI vir onetiese redes – nie as hulpmiddel nie, maar as ontsnapping.

Die herhaalde gebruik spaar dalk tyd vandag, maar jy skiet jouself in die voet sodra dit kom by werklike leerwerk.
“Baie geluk met jou A!” sê jou ma met trots.
Maar … is dit regtig jóú A?

Hier lê die kern van die saak: die gebruik van KI gaan nie net oor etiese standaarde soos plagiaat nie, maar oor jou eie innerlike standaard. Oor of jy werklik jou sukses verdien.

Herhaalde gebruik van KI lei ook tot ’n gebrek aan basiese vaardighede soos kritiese denke, kreatiewe skryf en eie navorsing. Jy verloor die geleentheid om jouself te slyp.

Neem net in ag dat KI nie sleg is nie. Dit is ’n wonderlike hulpmiddel vir navorsing en om jou gedagtes te orden, maar nie om vir jou te dink nie. KI is soos ’n universele GPS: dit is daar om vir jou rigting te gee, maar jy moet steeds self die pad stap. Soms sal jy van die pad afdwaal, maar dit is deel van jou reis en dis hoe jy groei.

Die boodskap van die artikel is eenvoudig: Kies kennis bo kitsoplossings. KI moet reg gebruik word. Moenie toelaat dat dit jou lui maak of jou leerproses versteur nie.

Op die ou einde is daar geen hulpmiddels as jy toetse of eksamens skryf nie. Leer en vorder in die lewe gaan oor wie jy word, hoe jy dink en hoe jy groei – nie oor ’n program wat dit namens jou doen nie.

Jimmy Wiggins

 Jimmy is ’n groot liefhebber van films, hetsy oud of nuut. Hy geniet ook gholf en buitelugaktiwiteite. Jy sal hom nooit hoor kla as hy ’n koppie warmsjokolade in sy hand het nie.