Koffiekultuur vir elke persoonlikheid

[Lynn-Marie Louw]

Koffie het deesdae ‘n groot deel van ons lewens geword. Ons hoor gereeld: “Moenie met my praat voordat ek nie my koffie gehad het nie” en “Bly kalm, drink ‘n koffie.” Is dit as gevolg van die feit dat ons so bederf is met ‘n koffiewinkel om elke hoek en draai? Waar elke barista sy bone as die beste ag? Of is die koffie in jou hand ‘n groter statussimbool as jou versameling Stanleys?

Kyk bietjie na die topdrie bekende tipes koffie: espresso, cappuccino en yskoffie. ‘n Mens kan maklik ‘n persoonlikheidstipe by hierdie drie groepe pas.

Jy kry die mense wat soggens uit die bed spring en die nuwe skooldag met ‘n doel aanpak. Hulle speel nie speletjies nie. Hulle is gedrewe. Hulle laat almal se punte sleg lyk. Na skool is dit opwarm vir A-span hokkie en koor daarna. Sonder twyfel is hulle die espresso-drinkers, waar melk ‘n bysaak is.

Dan is daar die rustige mense wat nie maklik deur enige iets gegooi kan word nie. Hulle daag redelik betyds by geleenthede op, sien alles rondom hule raak en geniet die oomblik waarin hulle is. Hulle slagspreuk in die lewe sal moontlik wees: werk harder en nie slimmer nie. Húlle drink sekerlik cappuccino’s. Gehalte koffie, maar met volroommelk. Dalk nog met ‘n suikertjie by om die bitterheid verder uit te balanseer.

Laaste, en onder ons jongmense vir seker nie die minste nie, is die yskoffiedrinkers. Moenie hierdie koffie met ‘n frappé, wat met ysblokkies en espresso gemaak word, verwar nie. ‘n Behoorlike yskoffie word met koffiepoeier en meestal roomys gemaak. Hierdie koffieliefhebbers gee nie om oor die geur en kwaliteit van die koffie nie. Hulle is meer agter die soetigheid van die roomys aan. En die fronse wat hulle van die “regte koffiedrinkers” kry – dit word dadelik ignoreer. Hoe kan ‘n mens dan oor iets anders as die yskoue nagereg in jou hand dink en omgee? Hulle leef absoluut vir die oomblik en die oomblik is soet! Al wat hul dag nog beter sal maak, is ‘n selfie in Starbucks op hul Whatsapp-status vir die wêreld om te sien.

So is koffie meer as net ‘n drankie. Dis ‘n leidraad aan toeskouers oor wie jy is. Alleen met jou bestelling by ‘n koffiewaentjie of om ‘n klein tafel saam met jou ou laerskoolvriende. ‘n Leefstyl. ‘n Tradisie.

So, wat is jou koffiekultuur?

Lynn-Marie Louw

Lynn-Marie is ‘n gr. 8-boekwurm wat hou van kultuur. Sy hou van skryf en stories oor nonsens vertel.