Liewe lesers

Liewe lesers

Weet julle wat beter is as pizza en jou gunsteling-Netflix-reeks? Hierdie nuwe uitgawe! Die regte kombinasie tussen skoolverwante sake en indiepte-artikels is die beste manier om te ontsnap van die berg wat voor ons lê… die Junie-eksamen.

Tan tan tan …

(Dit was ‘n wiskunde-grap as julle nie agtergekom het nie).

Alle grappies op ‘n stokkie. Die Junie-eksamen is ‘n realiteit en kan sommiges angstig maak.

Liefste matrieks (van Leah): Elke aand wonder die meeste van ons wat die toekoms inhou en of ons werklik gereed is om die grootmenswêreld aan te pak. Terwyl dit soos ‘n klippie in ons skoen pla, moet ons nog fokus op ons eerste matriekeksamen. Die lewe voel so onregverdig! Die goeie nuus is, daar is ander onsekere gesiggies om jou. Pak hierdie eksamen aan met ‘n Koffieblik-koffie in die hand en die wete dat daar vir elke onsekerheid ‘n antwoord is. Selfs vir daardie onmoontlike projektielbewegingsom. Ja, daar was ‘n antwoord. Nee, ek het dit nie gekry nie. Geniet elke oomblik terwyl jy kan. DF is tog die plek waar die beste herinneringe gemaak word.

Wonderlike graad 11’s: Julle is uiteindelik volwaardige seniors, want graad 10 was nog altyd die vreemde middelkindfase. Ons is al almal pootuit vir die konstante stemmetjies van onderwysers en ouers wat ons herinner dat hierdie die belangrikste akademiese jaar van ons skoolloopbaan is. Selfs al moedig ons almal aan om hard te leer vir die komende eksamen, moedig ons julle net so sterk aan om pret te hê en nie te veel te stres as jy sleg gedoen het in daardie een wiskunde-klastoets nie, want daar is altyd ‘n volgende keer.

Oulike graad 10’s: Hopelik het die vakveranderingsmalligheid al effens bedaar. Ten spyte van die feit dat die graad 10’s die middelkind van die hoërskool is (Ons praat definitief nie van die somerbal-kaartjie-kaskenades nie.), is dit steeds ‘n opwindende jaar met ‘n Junie-eksamen wat handel oor slegs die vakke wat jy gekies het. Julle gaan vinnig leer om blokdae te waardeer.

Gemiddelde graad 9’s: Jy vind uiteindelik jou plekkie in die hoërskool. Jy is nie die kleinste nie en die meeste seniors begin nou om jou in die oë te kyk. Geluk. Graad 9 is ‘n lekker jaar omdat julle wiskunde nog doenbaar is … Geniet daardie gevoel so lank as wat jy kan. In ‘n oogwink het beide van ons gedeeltes van ons graad 9 jaar, danksy Covid-19, verloor. Geniet hierdie dae soveel as wat jy kan. Die werk voel soms moeilik, maar ons weet dat hierdie eksamen ‘n groot sukses vir julle sal wees.

Korrels: Almal onthou hulle eerste dag in graad 8. Eendag gaan jy wakker word en by die skool instap as ‘n senior. 2027 is vinniger om die draai as wat julle dink. Liefste graad 8’s, gryp elke oomblik aan. Gaan koop elke Donderdag ‘n oliebol en moet nooit ‘n medley-aandoefening misloop nie. Hierdie is die dae wat jy gaan onthou. Alle voorspoed met julle eerste eksamen. Leer hard en luister na die onderwysers. Hulle weet ‘n ding of twee.

Die doel van die Herout is om vermaak vir ons lesers te bied. En om vir hulle ‘n manier te gee om te ontspan en ontsnap van die alledaagse lewe. Ons is opgewonde om die nuwe uitgawe met julle te deel.

Kan sampioene jou in ‘n zombie verander? Hoe red jy ‘n kat wat in ‘n geut vassit? Is dit die moeite werd om Triangle of Sadness te kyk?

… Jy sal net uitvind deur verder te lees.

DF-groete.

Leah en Jana

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

4 − 2 =