Annika van Zyl
Die gedruis en gedreun van 2023 is alomteenwoordig. Net waar jy kyk, is iemand op ‘n drafstap met ‘n rugsak agterna. “Hallo!” hier en “Hoe gaan dit?” daar, weergalm deur die gange terwyl koffies en cappuccino’s naarstigtelik by die Koffieblik afgesluk word.
Voor jy jou oë uitvee, bedaar die geraas en oomblikke van stilte daal neer. Dit is wanneer jy vir jouself vra, wat nou? Selfrefleksie, dagdroom en tyd met jou troeteldiere help, maar ‘n mens kan net soveel keer vir Buster die bal gooi. Hier is vyf luilekker stokperdjies vir ledige oomblikke.
- Leer ‘n paar frases in ‘n nuwe taal
Volgens statistieke word Spaans deur ongeveer 550 miljoen mense gepraat. Die toepassing, Babbel, kan jou help om vinnig die naaste treinstasie tydens jou besoek aan Madrid op te spoor. Adios!
- Foto’s met karakter
Jou alledaagse omgewing is miskien baie meer interessant as wat jy aanvanklik gedink het. Wanneer jy vir iets of iemand wag, gebruik jou foon se kamera om jou area vanuit ‘n ander hoek te verken.
- Sterrekyk
Fliek en springmielies is ‘n fees, maar net buite die deur lê ‘n magdom van onderstebo en agterstervoor patrone wat in die naglug wegkruip. Die Big Dipper is ‘n goeie beginpunt met toepassings soos Night Sky en Star Walk wat kan help met jou laatnag-ontdekkings.
- Callanetics
Die hokkie- en landloopseisoen klop hard aan die deur. Wie sal nee sê vir ‘n paar splinternuwe kuitspiere? Callanetics is ‘n reeks kleinspier-herhalingsoefeninge wat op die plek uitgevoer kan word. Instagram is vol idees en oefeninge!
- Leer gebaretaal
Volgens die WGO leef bykans 20% van die wêreldbevolking met gehoorverlies. ASL sign language is ‘n toepassing wat gebaretaal toeganklik maak. So help jy nie net jouself nie, maar ander ook.
In die gees van kameraadskap, kom ons deel ons stokperdjie-idees met mekaar. Vertel vir die Dee-Effer langs jou hoe jy daardie ledige oomblikke ‘n bietjie meer opwindend maak. Luister en probeer dit self, dalk ontdek jy iets wat jou lewenslank sal baat en geluk bring.