[Lohen Chamberlain]
Oraait, kom ons begin dan nou en laat ek jou vertel. My storie as spioen begin in die Tweede Wêreldoorlog, toe ek oor die Berlynse muur gespring het en gevlug het na die Weste. Dit was nou nie eintlik vlug nie, ek het net vinnig gehardloop – daardie jare kon ek nog. Iemand uit die Suid-Afrikaanse regering het my gesien en my genader en gevra of ek nie sal belangstel om deel van die weermag te word nie.
Natuurlik het ek ja gesê en ek het maar in die aande gesit en orrel gespeel in die militêre kapel. Daar het ’n sersant-majoor na my toe gekom en gevra of ek nie sal belangstel om ’n bietjie spioenasiediens te doen nie.
Ek moes toe kyk wat aangaan, want elke keer as dit na twaalf is en dit word donker begin die vensters klap. Almal wou weet wat is dit tot ek uiteindelik op die spoor van Ou-Man-Jas afgekom het.
Ou-Man-Jas is gedwing om in die koue sonder ’n jas wag te hou en hy het so koud gekry dat hy gevries het en hy is daar dood. Dit is toe waar die ding van die sluipskutter en die sluipmoordenaar ingekom het, want toe vra die militêre magte vir my of ek kan ontslae raak van die persoon wat hom so laat vries het.
Een oggend moes ons gaan draf – sesuur in die oggend op die nat gras. Toe ons by ’n hoë muurtjie kom, het ek agter die verdagte persoon gehardloop en net voor hy oor die muurtjie sou spring, het ek hom gestamp. Hy het natuurlik gesig eerste in die muur geval, al sy tande verloor en sy eie tong afgebyt sodat hy nooit weer kon praat nie. Hy kon my ook nie aanwys as die aanrander nie. Dit is baie sleg as jy die eerste keer iemand uithaal, maar die tweede en die derde keer is baie beter, want dan het jy nie meer ’n gewete nie.
Twee dinge, soos jy sal weet, wat ek al geleer het in my tyd as skerpskutter: Jy moet nooit vir iemand vertel as jy iemand uithaal nie, jy moet ook nooit die naam noem van die persoon wat jy uitgehaal het nie. Wanneer jy iemand uithaal, moet jy nie lang stories praat nie. Jy moet net skiet en klaarkry en aangaan met jou lewe.
Hoekom DF, Meneer?
Dinge het verander in Suid-Afrika en toe vra hulle my om bietjie te kom ondersoek instel by die Hoërskool DF Malan, want hier in DF gaan soms baie snaakse dinge aan. Kinders kom partykeer boekekamer toe en soort van kry hulle boeke en dan word hulle tas net by die venster uitgegooi. Die kind self verdwyn net. So ook onderwysers. Soos ek gesê het, ek praat nie oor sulke gevalle nie.
Nou is ek hier in die laaste paar jare aangestel om seker te maak dat alles by DF reg loop en dat ek kan ontslae raak van kinders wat vir my snaakse vrae vra. Ek het eendag ’n baie groot geveg opgetel met die polisie. Ek was gevestig hier by die skool en ek was nie dom nie , ek het presies geweet wat aangaan. Toe kom hier eendag ’n matriekmeisie aan wat skielik kom inskryf by die skool. Ek sê nou vir jou, ek het haar net een kyk gegee en gedink: Jy is nie 16, 17 of 18 nie, jy is omtrent 24. Ek het my verskriklik vererg, want ek het geweet sy is deur die polisie hier geplant. Een, op soek na ’n sluipmoordenaar, en twee, om my werk te kom oorneem. Dit was ’n kwessie van twee dae, toe kom haal sy boeke en toe het ek met haar afgereken. Sy het eerder in die Spar gaan werk toe ek met haar klaar is.
Word kinders regtig aan hul toonnaels in die boekekamer opgehys?
Ja, kyk dis meer ’n teatrale metode, maar die feit dat die ander kinders weet dat sulke goed gebeur, is baie belangrik. Dit was al die jare my plan om die kinders bang te maak vóór hulle by my kom, dan is daar nie moeilikheid nie. Ons het ook boodskappe gestuur – die seniorraad het my nogal baie gehelp daarmee – om vir die laerskoolkinders te laat weet: Wanneer jy in daardie man se omgewing is, dan moet jy nie ’n geluid maak nie, jy moet bid dat jy nie by hom klas het nie en so aan.
Ek het ’n kind gehad wat 15 jaar nadat hy die skool verlaat het vir my gesê het: “Meneer as ek by Meneer klas gehad het, het ek al die vorige periode begin bewe. Ek moes aan die bank vasklou dat ek nie my van die banke af bewe nie.” Hy het dit snaaks genoeg oorleef. Dit is beter om te lewe as om moeilikheid te maak. Mettertyd het dit begin verander, want ek het die kinders gedwing om opstelle te skryf en om te lees en hulle het al hoe beter gedoen. Kinders wil nou graag by my klas hê.
Daar is gerugte dat die ringe wat Meneer dra afgevat is by vermoorde Mafialede. Wat het Meneer te sê oor daardie saak?
Dis waar. Jou probleem met sulke uithaal van Mafia-mense is dat jy nie altyd die geld kry nie. Kyk, ons het ’n stelsel. Hulle het my rekening, dit word deur twee stelsels op rekenaar gevoer deur die Kaaiman-eilande en daar word vreeslik baie geld inbetaal, want ek vra nogal heelwat om ’n Mafialid uit te haal. Partykeer, na ek ’n Mafialid uitgehaal het en hy verdwyn, is daar ringe oor of klere oor. Aangesien ek nie genoeg betaal word nie, het ek besluit om maar bietjie goud te versamel.
Die eerste ring het ek op 25 gekry. Ek was baie jonk en dit was ’n moeilike ou man wat ek moes uithaal. Ek het sommer ook sy kierie gevat vir ’n aandenking, maar dit vertel ek vir niemand nie, want netnou kom soek hulle getuienis. Die ander ring wat ek het, is ’n Mafia-baas van Sisilië s’n. Hy het in een van die duurste hotelle gebly, maar hy het die mense daar so gedreig dat hulle my laat kom het. Ek was lieflik ingevlieg Sisilië toe na die lieflikste hotel, ek sê vir jou dit was ’n wonder. Toe ek hom optel, het ek vriende met hom gemaak en gesien hy het nogal ’n mooi duur ring aan. Ek het hom uitgehaal. Ek dink die ring wat ek by hom gevat het, is amper R30 000 werd. Hulle het sy stukke in die see gevind, want haaie het hom gekry.
Is Gert Visser ’n skuilnaam?
Skuilname word oral gebruik in die spioenasiewêreld, veral as jy groot geld ontvang. Jy het verskillende skuilname, soos wat mense verskillende wagwoorde vir hul rekenaar het. By die skool het hulle ’n doodgewone rekenaar. Die geld word ongelukkig nie hier inbetaal nie, want dis op die donker net en op die donker web. Jy weet natuurlik, uit die aard van die saak, dat ek ’n rekenaarboffin is en dat ek alles van rekenaars weet. Aangesien ek op die donker web baie keer opdragte en geld kry kan ek nie vir jou sê dat my naam ’n skuilnaam is nie. Dit is wel ’n baie gerieflike naam om te gebruik, want dit is kort.
Is Meneer van plan om hierdie dekade af te tree?
Ek gaan aftree wanneer ek lus is. Ek het nou die hoogtepunt van my gesondheidsbestaan bereik, ek is hierdie jaar sewentig. Mans op sewentig weet die meeste, hulle doen die meeste, hulle het die meeste energie en hulle dink die meeste nonsens uit. Ek het nou nog ’n kontrak met die skool aangegaan om nog twee jaar te werk, want eintlik wil ek self besluit wanneer ek aftree. Ek wil nie deur ’n kontrak gedwing word om af te tree nie. Hier is nog so een of twee karaktertjies wat uitgehaal moet word. Dit is veral daar in graad 10.1, waar daar outjies is wat nie lees nie. Hulle toekoms lyk baie, baie donker.
Vind Meneer meer aanklank by Raka of Koki?
Nee, definitief Raka. Ek is verskriklik jammer vir Koki. Koki het ’n perd opgesaal wat hy nie kon ry nie. Sy grootste probleem is dat hy nie geweet het wat die mense dink nie. Wanneer jy ‘n koning of ’n leier is, moet jy weet wat die mense dink. Hy het te min te doen gehad met die vrouens. Hy het nie besef hoe boos hulle kan wees agter Raka aan nie. So ek is eintlik aan Raka se kant. Raka het gegaan, hy het gekry wat hy wou hê en gemaak wat hy wou. Ek is vas oortuig daar is in elke mens se lewe ’n Raka. ’n Mens moet net seker maak van die balans.
Ek hou van Raka. Hy laat hom nie voorsê deur enigiemand nie. Hy is soms ’n bietjie dom, maar ek bedoel hy het gewen. As iemand dom is, moet hy ly en Raka het almal voor die voet platgevee. Ek hou nie van mense wat verplets is nie. Ek hou nie van mense wat skaars asemhaal in hierdie bestaan nie. Jy moet dinamies leef. Jy moet jou eie wil hê en jy moet lieg as jy in die moeilikheid is. Dit is ’n kuns wat ‘n mens ontwikkel na die 70ste leuen wat jy vertel, want as jy lieg moet jy eenvoudig lieg, jou leuens onthou en jy moet nie ’n lang storie daarvan maak nie.
Wanneer het Meneer se optog teen “was” begin?
Weet jy, ek het al hoeveel kere vir julle gesê moenie “was” gebruik nie. Dit was van die begin af, want mense het “was” verkeerd gebruik. Daar is niemand wat “was” reg gebruik nie. Ek is baie jammer om dit te sien. Te veel kere as jy na die radio en die predikante luister, gebruik hulle “was” verkeerd. Dit is net irriterend. So, wat is die kortste pad? Moet dit net nie doen nie. Ek bedoel, wat is die kortste pad oor ’n rewolwer? Moenie een hê nie. Moenie ’n kanon hê nie. Moenie ’n atoombom hê nie. Moet dit net nie hê nie, want as jy dit het, dan gebruik jy dit. Moenie “was” gebruik nie, want dan maak jy nie daardie fout nie.
Kyk, jy ken die koppelwerkwoorde. Jy ken dit uit jou kop uit. Nou kan jy vir jouself gaan vra, wanneer jy “was” gebruik: Het ek hom saam met ’n byvoeglike naamwoord (of ‘n byvoeglike bepaling of -bysin) gebruik? As jy dit nie saam met ’n byvoeglike naamwoord gebruik het nie, dan is dit verkeerd.
“Jy moet onthou, is jou selfoon af? Ja, sit dit af, nou…”
Lohen Chamberlain
Lohen hou homself besig met debat en rekenaarprogrammering en knoop graag spitsgesprekke aan oor enigiets onder die son.