Merkwaardig, maar onbekend

[Noa du Plessis]

Die geskiedenis is vol merkwaardige mense wat ons wêreld hervorm het tot waar dit vandag is, maar tog leer ons aansienlik minder oor die vroue wat in hierdie verandering ‘n rol gespeel het. 

Dit is nie te sê dat vroue nie ’n rol gespeel het in die vorming van ons wêreld nie, hulle is net grotendeels deur die geskiedenis onder die mat ingevee. Hierdie is vroue wat die onmoontlike gedoen en die ondenkbare bereik het.

Lyudmila Pavlichenko 

Lyudmila Pavlichenko is in 1916 in Oekraïne gebore, reg in die middel van die Russiese Rewolusie. 26 jaar later was sy ’n luitenant in die Tweede Wêreldoorlog en het bekend geword as die beste skerpskutter in die Sowjetunie.

Aan die begin van die Tweede Wêreldoorlog was Pavlichenko ’n jong dame in haar middel-20’s. Toe die oorlog uitbreek en die Nazi-weermag Rusland aanval, het Pavlichenko geweier om op die kantlyn te sit. Op die ouderdom van 24, het sy by die Sowjetweermag aangesluit as ’n skerpskutter en vinnig ’n volwaardige soldaat geword.

In 1941 tydens die beleg van Odessa, ‘n geveg wat tussen 8 Augustus en 17 Oktober plaasgevind het, is Pavlichenko vir die eerste keer na die gevegsveld gestuur. Binne daardie twee maande het sy 187 Nazi-soldate doodgeskiet en die bynaam Lady Death verdien.

Na daardie geveg het die Rooi Weermag haar as ’n volwaardige soldaat erken en haar vyande het haar as ’n ernstige bedreiging beskou. Sy is daarna tot luitenant bevorder en het voortgegaan met haar loopbaan as skerpskutter tot 1942. Teen daardie tyd het sy al 309 bevestigde teikens geskiet, wat haar die tweede mees dodelike skerpskutter ter wêreld maak.

Na die oorlog het Pavlichenko uit die weermag getree en haar meestersgraad in geskiedenis voltooi. Sy het die res van haar lewe as ’n onderwyseres spandeer. 

Prinses Khutulun

In antieke Mongolië was daar drie vereistes waaraan mans moes voldoen om as volwaardige vegters beskou te word: perdry, pyl-en-boogskiet en stoei. Prinses Khutulun het aan al hierdie vereistes voldoen. Sy was ‘n sterk vegter en ‘n bekende  stoeikampioen regoor Mongolië. 

Prinses Khutulun het geweier om met enige man te trou wat sy as swakker as sy geag het, en sy het dit bitter duidelik aan haar pa, die Khan, gemaak. Kaidu Khan het baie respek vir sy dogter gehad en het selfs openlik gesê dat van al sy kinders hy die trotste op haar is, maar hy wou gehad het dat sy moes trou. Hulle het tot ’n ooreenkoms gekom. Enige man wat haar in ’n stoeiwedstryd kon oorwin, sou haar hand wen. As hulle egter verloor, moes hulle honderd perde aan haar oorhandig. Hierdie prinses het uiteindelik meer as 10 000 perde besit – en nooit getrou nie.

Kaidu Khan het sy dogter hoog geag en haar dikwels saamgebring op veldtogte, baie afhanklik van haar wysheid tydens oorloë. Sommige geskiedkundiges glo dat hy haar só hoog geag het dat hy haar die volgende Khan wou maak om oor Mongolië te heers. Maar Khutulun was nie geïnteresseerd in daardie rol nie nie, en het eerder verkies om haar pa se weermag te lei, as om oor sy koninkryk te regeer.

Sy is in 1306 in ’n geveg oorlede en het haar naam vir ewig in die geskiedenis van Mongolië gekerf as die Mongoolse stoeiprinses en ’n volwaardige vegter.

Zheng Yi Sao

Dit is 1808 in Chinese-beheerde Viëtnam. Die seerowerkoning, Cheng I, is in ’n storm oorlede en die federasie van seerowers wat hy opgebou het, is in chaos. Die hoofkapteine van die magtigste skepe het bymekaargekom om ’n nuwe leier te kies. Die persoon wat hierdie rol moes oorneem, het groot skoene gehad om vol te staan. Gelukkig het hulle nie ’n man nodig gehad nie, net een volwaardige vrou.

Cheng I was tussen 1801 en 1807 die seerowerkoning van Viëtnam. Hy het die seerowerfederasie gestig en die grootste vloot in Viëtnam opgebou. Maar agter elke sterk man is daar ’n sterk vrou, Zheng Yi Sao. Hoewel Cheng I die hoof van die seerowerfederasie was, was sy vrou, Madam Zheng, die vrou agter die sukses. Sy was die rede waarom die seerowers so ryk geword het. Terwyl haar man die suidelike waters van Viëtnam beheer het, het sy die waardevolste mark in China bestuur: die soutmark. Elke southandelskeep moes belasting aan hulle betaal as hulle veilig oor die seerowerwaters wou reis.

Na haar man se dood by die vergadering van die nuwe seerowerfederasie, het Madam Zheng onmiddellik sterk navore getree. Sy het gewys op die sukses wat sy saam met haar man behaal het, en beloftes gemaak van nog groter oorwinnings wat sou kom as sy die seerowerkonginin sou wees. Al was sy ’n vrou, was daar min teenkanting teen hierdie voorstel. In Viëtnam is dit tradisioneel dat daar van vroue verwag word om by die huis te bly en kinders groot te maak, maar hierdie mense was nie goeie Viëtnamese burgers nie. Dit was glad nie ongewoon dat ’n vrou haar man se vissersboot oorneem ná sy dood nie. Hoekom sou dit dan anders wees vir ’n vloot? Só is Madam Zheng in 1808 gekroon as die hoof van die nuwe seerowerfederasie.

Madam Zheng het die res van haar lewe as ’n ryk vrou in die soutbedryf uitgeleef. Sy het die seerowerfederasie ryker gemaak as ooit, en soos ’n waardige leier vir haar volgelinge voorsien toe sy besef het haar tyd as seerowerkoningin kom tot ‘n einde.

Soos ons dankbaarheid wys aan dié wat ’n bydrae gelewer het tot ons wêreld, moet ons nie die vroue vergeet wat ook bygedra het tot die proses nie. Hierdie was slegs drie van die merkwaardige vroue in ons geskiedenis, maar daar is talle meer wie se stories net so ongelooflik is. Laat ons dankie sê aan die vroue wat saamgewerk het om ons wêreld te vorm tot wat dit vandag is.

Noa du Plessis

Noa se skryfstyl was nog altyd ‘n bietjie uniek: meer informeel as die gewone. Haar leuse is: Wees uniek! Niemand wat normaal is het al die wêreld verander nie!