Mickayla Olivier
DF se glansgeleentheid van die jaar, Mnr. en Mej. DF, keer na drie jaar terug. Nadat die Covid-19 pandemie die wêreld tot ʼn stilstand gebring het in 2020, het baie DF-tradisies byna verlore gegaan, Mnr. en Mej. DF inkluis.
Dié glansgeleentheid is nie net ʼn modeparade of ‘n vertoning nie, maar ʼn fondsinsameling vir Aksie Omgee. Die deelnemers moes elkeen geld insamel en die wenners het dit geskenk aan ‘n liefdadigheidsorganisasie van hul keuse.
Daar word maande lank aan die vertoning beplan. Die deelnemers oefen danse, hoe om soos regte modelle op die loopplank te loop en oefen gesigsuitdrukkkings. Michayla Kotze, Mej. Persoonlikheid 2023 sê: “Ons het die danse stukkie vir stukkie aangeleer en toe uiteindelik alles bymekaar gesit. Dis ongelooflik hoe juffrou Booysen met ‘n groep kon werk waar dans nie regtig ons forté is nie, maar die eindproduk was iets besonders.”
Rebekka Stokenström, 2023 se Debutant sê dat die voorbereidingsproses haar gunstelingdeel was, aangesien me Filmalter die proses maklik en lekker gemaak het. Sy sê ook dat sy nuwe vriende gemaak en leer ken het.
Toe die aand van 20 April uiteindelik aangebreek het, het die aktiwiteitsentrum gegons met opgewondenheid. Om sewe-uur het die eerste optrede begin en die gehoor is verwelkom met ‘n pragtige klavierstuk deur Juan Visagie en ‘n dans geïnspireer deur Alice in Wonderland, deur die finaliste. Die twee optredes het die gehoor ‘n voorsmaak gegee van die hoё gehalte van die produkie wat deur die res van die aand verwag kon word. Kanya Pieterse het die seremoniemeester, Success Lekabe, bekendgestel wat die verwelkoming en bekendstelling behartig het. Die finaliste is toe amptelik aan die gehoor bekendgestel deur ‘n kort video en het hul informele drag op die loopplank gemodelleer. Na ‘n briljante sangitem deur Daniёl Voster het die finaliste die gehoor betower met die volgende loopplankitem, ontwerpershoede ontwerp deur gr. 11- en gr. 12-ontwerpers.
Na ‘n kort pouse het die finaliste hul laaste dansitem opgevoer en me Lekabe het die bedankings en gelukkige trekkings afgehandel. Weereens het Daniёl Voster die gehoor bekoor met nog ‘n voortreflike sangitem. Dit was nou tyd vir die finaliste se laaste loopplankitem, die formele drag. Die finaliste het almal ongelooflik gelyk in spesiaal gemaakte uitrustings deur Manjeefiek Couture. Juan Visagie het ‘n laaste klavieritem gelewer voordat die wenners aangekondig is. Na oomblikke van spanning is die Debutant (Rebekka Stokenström), Mnr. en Mej. Persoonlikheid (Zander Enslin en Michayla Kotze) en Mnr. en Mej. DF (Simon van Eeden en Ingrid Klopper) aangekondig.
Vraag-en-antwoord-sessie met die wenners en Me Filmalter:
Hoe voel dit en wat beteken dit vir jou om Mej. DF te wees?
Ingrid Klopper: Ek is opgewonde oor alles wat voorlê! Dit is vir my ‘n baie groot eer om ons skool te kan verteenwoordig. Mej. DF beteken vir my om ‘n rolmodel te wees deur vriendelikheid en deernis te toon. Ek sal ook graag ‘n kultuur van empatie en trots in ons skool wil kweek.
Hoe voel dit en wat beteken dit vir jou om Mnr. DF te wees?
Simon van Eeden: Om Mnr. DF te wees is baie anders as wat ek verwag het. Ek is baie trots op die feit dat ek Mnr. DF is, want ek weet ek het baie hard gewerk en lang ure ingesit daarvoor. Dit beteken baie vir my om hier te wees, want ek was altyd baie skaam met nuwe mense (wat ek nie goed geken het nie) en dit het my geleer om gemakliker met mense te wees.
Wat is jou gunstelinguitrusting wat jy gedra het?
Al die wenners het saamgestem dat die formele uitrustings, ontwerp deur Manjefeek Couture, hul gunstelinguitrusting is.
Wat was die moeilikste gedeelte van die voorbereiding vir Mnr. en Mej. DF?
Zander Enslin: Om te leer dans was die moeilikste aangesien ek voorheen net ‘n bietjie kon dans. Dit was ook moeilik vir my om voor almal op die verhoog te dans en te loop.
Het jy enige raad vir jonger leerders wat beoog om deel te wees van Mnr. en Mej. DF in hulle matriekjaar?
Ingrid Klopper: Dit is ‘n ongelooflike lekker proses. Jy leer baie en maak nuwe vriende en herinneringe wat jy vir die res van jou lewe sal koester. Dit verg egter baie tyd en opoffering, so hou dit in gedagte.
Michayla Kotze: As MTBS-dirigent het baie mense vir my gesê om nie ook aan Mnr. en Mej. DF deel te neem nie en dat dit te veel gaan wees, maar dit het my nie gestop nie en ek is nie vir een oomblik spyt nie. As jy wil deelneem, gaan daarvoor! Jy maak herinneringe en bou vriendskappe wat jy vir altyd sal onthou. Jy leer ook baie van jouself, maar wees bereid om hard te werk en jou alles te gee.
Hoe was dit om Mnr. en Mej. DF as Juffrou se eerste groot projek by DF aan te pak?
Me Filmalter: Ek is bevoorreg dat die skool my vertrou het met so ‘n groot projek en het ongeag die baie harde werk en senuwees dit baie geniet! Dit was veral ook vir my spesiaal om met elke finalis ‘n pad te loop en om hulle deursettingsvermoë, persoonlike groei, passie en toegewydheid binne die ses maande periode te ervaar.
Die ondersteuning en hulp van elke onderwyser, ouer asook DF se talentvolle leerders het bygedra tot die uiteindelike sukses van die kompetisie.
Wat was Juffrou se gunstelingdeel van Mnr. en Mej. DF?
Me Filmalter: Die hoogtepunt vir my van die aand was om die groei en selfvertroue wat in elke finalis plaasgevind het, te kon waarneem en deel te kon wees van die eindproduk. Laastens maar nie die minste nie is my dankbaarheid vir die Aksie Omgee-fondse wat die finaliste op ‘n kreatiewe wyse ingesamel het ten einde ‘n verskil te maak waar nodig.
Het daar enige iets onverwags op die aand gebeur?
Me Filmalter: Danksy almal se harde werk was die aand na my mening ‘n reusesukses!
Die aand was definitief ‘n groot sukses en ‘n briljante manier om een van DF se tradisies terug te bring.