Kaylin Grobler
Die skepping is ‘n kunswerk van lewe waarin ons onsself bevind. Net soos die see, die ruimte en ondergrondse ontdekkings, is ons liggame ‘n wonder wat ons die voorreg het om te ontdek.
Soos wat ons meer leer oor wat om en in ons is, besef ons toenemend dat ons eintlik baie min weet. Net soos wat ons breine die vermoë het om konstant te ontwikkel en verander gebasseer op ons inset – só ontwikkel en verdiep ons begrip oor die lewe om ons. Hier is ‘n paar voorbeelde van nuwe ontdekkings oor die wonderlike kunswerk: ons liggame.
Interstitium – ‘n geheime skokbreker vir jou organe
In 2015 het dokters in Mt. Sinai Beth, Israel ‘n pasiënt se galbuis ondersoek vir kanker. In die verlede sou dokters die weefsel verwyder het om onder ‘n mikroskoop te ondersoek. Die vloeistof in die weefsel moes gedreineer word om die weefsel onder ‘n mikroskoop te bekyk en dié sou self inkrimp. Hiérdie keer het die dokters ‘n klein mikroskoop op ‘n draadjie gehad wat hulle gebruik het om die weefsel in die vloeistof te ondersoek. Waar hulle voorheen gedink het daar slegs vloeistof was, was ‘n troebel netwerk van kollageen-proteïene en vesel! Die naam van hierdie vloeistof gevulde kompartamente is interstitium wat “tussen in” beteken en dit kom amper oral in ons liggaam voor. Hierdie netwerk bied struktuur aan die vloeistof in ons liggaam. Dit is ook ‘n skokabsorbeerder wat organe beskerm.
SLYM – nie jou tipiese bedekking vir ‘n paddastoel nie
Vordering in neurobeelding en molekulêre biologie het wetenskaplikes vroeër hierdie jaar in staat gestel om ‘n nuwe lagie in die meningeale laag – net onder die oppervlak van die skedel van die brein te vind. Hierdie ontdekking kan lei tot beter begrip van siektes soos veelvuldige sklerose, SSS-infeksie en Alzheimers.
Die SLYM (Subarachnoidal LYmphatic-like Membrane) is ‘n dun lagie wat deel vorm van die limfsisteem wat verantwoordelik is vir afvalverwydering in die brein. Die SLYM dien as ‘n beskermende lagie na aan die oppervlak van die brein om die goeie en slegte stowwe van mekaar te skei. Dit reguleer die CSF (serebrospinale vloeistof) se vloei van die brein. Die CSF is ‘n kleurlose vloeistof wat voorkom tussen die brein en ruggraat, waar die sentrale senuweestelsel sit wat afval- en voedingstowwe vervoer en die brein en ruggraat ondersteun en beskerm teen beserings. Die SLYM is ‘n medium vir CD-45 immuunselle wat op soek is na tekens van inflamasie en infeksie. Daar is ‘n direkte verband tussen beserings van die SLYM en brein-gebasseerde siektes. Hierdie ontdekking beteken dus baie vir mediese ontwikkeling en ons kennis van die menslike liggaam.
Daar is elke jaar talle ontdekkings wat gemaak word oor die menslike liggaam – iets waarmee ons al letterlik vanaf die mens se bestaan elke dag te doen het. Hier volg ‘n paar vrolike feite oor ons liggame:
- Ons neuse kan meer as 1 triljoen reuke uitmaak; dit is een van die sensitiefste sintuie;
- Ons breine kan nie op twee dinge gelyk fokus nie; dit kan wel baie vinnig konsentrasie tussen twee dinge heen-en-weer ruil (maar dit kan lei tot verswakte konsentrasie);
- Die oog is die mens se vinnigste spier;
- Ons ingewande strek langer as ‘n kameelperd se nek; en
- Ons breine vervaardig genoeg elektrisiteit om ‘n klein gloeilamp te laat gloei (20 W).
Hoe langer ons die kuns van lewe ervaar, hoe meer begin ons die fyn verfkwas-hale raaksien. Jy is wonderlik gemaak deur Iemand wonderlik.