[Anlia Taljaard]
Boereplaas – CJ Visser
O boereplaas, geboortegrond!
Jou het ek lief bo alles.
Al dwaal ek heel die wêreld rond,
waar so gelukkig, so gesond?
O boereplaas, geboortegrond!
Jou het ek lief bo alles.
O moederhuis, waar ooit so tuis?
Jou het ek lief bo alles.
Die wêreld, rykdom, prag en praal
kan jou verlies my nooit betaal.
O moederhuis, waar ooit so tuis?
Jou het ek lief bo alles.
O moedertaal, o soetste taal!
Jou het ek lief bo alles.
Van al die tale wat ek hoor,
niks wat my siel ooit so bekoor.
O moedertaal, o soetste taal!
Jou het ek lief bo alles
Septembermaand was Erfenismaand. ’n Tydperk waar almal hul erfenis kon vier. Ek wil graag oor ons eie grootste erfporsie roem: Afrikaans! Sy is ons moedertaal, ons erfenisskatkis propvol digkuns en kultuur, kennis, godsdiens, intellek, sagmoedigheid, vergifnis en uithouvermoë, van lirieke en literatuur. Sy is boonop amper offisiëel 100 winters oud in 2025! Wat ’n juweel. Wat ’n fees gaan dit nie wees nie.
Daar is volgens kenners by National Geographic meer as 3 800 kulture en 7 000 tale in ons wonderlike wêreld. Wie is jy sonder jou erfenis? Verbeel jou ’n wêreld sonder kleur, diepte, kontras en vorm! Dit is ’n wêreld sonder erfenis en taal. Almal met dieselfde taal, musiek en denke. Dit klink net hartseer.
Jou erfenis word nie net aangeleer nie, dit is ingebore en word verder uitgeleef. Dit word deel van jou menswees vanaf jou geboortedag tot die dag wat jy jou kop neerlê. Ons moedertaal maak ons spesiaal en uniek. Erfenisdag gee jou juis daardie geleentheid om so bietjie te roem oor jou pragtige land, kossoorte, kultuur, godsdiens, feeste, liedjies en gebruike.
Marilize Swanepoel skryf ietsie mooi oor ons Afrikaanse erfenis. Sy sê: “Afrikaans sit die vonkel in vonkelwyn, dit sit ’n kinkel in enige kabel, ’n huppel in enige stap en kan soos geen ander taal kranig kletter op sy eie kraakvars manier.”
Afrikaans is die derde grootste taalgroep in Suid-Afrika met 7 miljoen moedertaalsprekers, naas Zoeloe (11,5 miljoen) en Xhosa (8,1 miljoen). Daar is meer as 10 miljoen Afrikaans tweede taal sprekers in Suid-Afrika wat dié taal praat en verstaan. Interessant genoeg word meer boeke per jaar in Suid-Afrika in Afrikaans as Engels gepubliseer. Afrikaans is ook ’n volledige wiskundige, tegnologiese, biologiese en wetenskaplike taal met nagenoeg 1 miljoen woorde. Dit word as vak aangebied op universiteite regoor die wêreld vanaf Nederland, Pole, Rusland, Amerika, België en Duitsland. Selfs Microsoft, Google en Nokia bied Afrikaans as keusetaal aan. In Namibie, Zambia, Zimbabwe, Australië, België, Botswana, Kanada, Duitsland, Brittanje, Lesotho, Malawi, Nederland, Nieu-Zeeland, Swaziland, Noord-Amerika en Suriname praat 725 000 mense Afrikaans. Buite die grense van Suid-Afrika verstaan 27,5 miljoen mense Afrikaans of praat dit as ’n tweede taal.
Afrikaans het ’n ryke geskiedenis. Die erfporsie het egter nie altyd so ’n maklike pad gehad nie. Afrikaans is gevorm uit drie tale en nasies se bydraes. Dit het alles in die Kaap begin met die aankoms van die Hollanders vanuit Europa in 1652. Die Hollanders het later slawe uit Maleisië na die Kaap gebring en met die Khoi handel gedryf. Afrikaans is dus gevorm uit grootliks Hollands, Khoi en die Maleis-Portuguese taal. Sommige woorde uit Maleis-Portugees word nog net so in vandag se Afrikaans gebruik soos: baie, koejawel, blatjang, bobotie, sosatie en piesang. Ander woorde uit die Khoi-groep word ook nog net so in moderne Afrikaans gebruik: abba, boegoe, dagga, kierie, koedoe, kwagga, aitsa en eina.
Die Kaap het vroeg in die 1800’s, toe die Britte die Kaap oorgeneem het, baie verengels. Die Britte het ’n verengelsingsbeleid gehad om Afrikaans en Nederlands te verdring. Baie boere het dus na die binneland getrek. Die vader van Afrikaans was Arnoldus Pannevis. Hy het die eerste keer die taal Afrikaans genoem toe hy agterkom die dialek verskil baie van die oorspronklike Hollands. Arnoldus was ’n taalkundige en onderwyser by De Gimnasium, ’n privaatskool vir Hollandsprekende kinders. Gedurende daardie tydperk was daar drie soorte Afrikaners in Suid-Afrika. Daar was Afrikaners met Hollandse harte, Engelse harte en “regte” Afrikaners met Afrikaanse harte, wat lojaal aan die taal en kultuur van Suid-Afrika was. (Vanuit prof. W. Carstens se ATM-lesing, 26 September 2013)
’n Volk se trots lê tog in sy erfenis en sy verlede, sy foute en sy oorwinnings. ’n Goeie kennis van jou geskiedenis is die boustene van jou erfenis. R.W. Johnson sê juis die Afrikaner se erfenis is oral om ons te sien. Afrikaners se erfenis is nie net gebou op rugby, braai, volkspele, boeremusiek en Die Groot Trek nie. Dit is gebou op die liefde vir ons taal en die waardes van harde werk en deursettingsvermoë, hulpvaardigheid en innovasie wat daarin verskans is. Mag ons dit altyd najaag!
Die Afrikaner is een met sy taal en godsdiens, sy behoefte om te bou bly voortbestaan. Alle ander volke voel beslis ook so oor hul taal en erfenis. Deur jou erfenis te bewaar, respekteer en eer jy ook dié wat voor jou geloop het.
Totius stel dit die mooiste: “’n Taal is ’n sielskrag wat deur geen ander krag verbrysel kan word nie. Die siel is onoorwinbaar. Teenstand kan daarteen opskuim, maar dit staan geplant soos ’n rots. Dis ook nie net ’n klank nie … ’n letter, ’n simbool nie. Dit is ’n fyn weefsel, ’n tere aroma wat al die lewensdinge vir ons ontwasem en deur aar.” (Volksblad, 17 Februarie 1977)
[Foto: Danike Colyn]
Anlia Taljaard
Anlia se gunstelingvakke is geskiedenis en wiskunde.
Sk is mal oor kuns en het vir twee jaar in Australië gewoon.