[Don-Lin Hoon]
Wanneer jy in die middag huis toe gaan, is jou ma en pa seker daar. Myne is nie. ’n Nuwe huis en ‘n nuwe gesin – dit is nogal ’n groot aanpassing wat glad nie maklik is nie. Ek moes leer om nie in die middag huis toe te kom, my skoene uit te skop en op my bed te val met die televisie aan nie. Ek moes in ’n nuwe roetine aanpas.
My reis het in 2024 begin. Ek is deur MOI (Moedertaal Ontwikkeling Inisiatief) gekies om ’n beurs te ontvang. MOI is ’n inisiatief wat beurse aan Afrikaanssprekende leerders in die Wes-Kaap verskaf om vir hulle ’n beter hoërskoolloopbaan te gee. Die beurse word aan leerders gegee wat strewe na sukses, sterk leierseienskappe het en wil leer en presteer. Hulle verskaf nie net beurse aan die leerders nie, maar ondersteun hulle emosioneel, fisies en geestelik. MOI voldoen ook aan die volgende sterk waardes: nederigheid, waagmoed, vennootskap, uitnemendheid en rentmeesterskap. Die inisiatief dra elke kind se belange en sukses op die hart.
In 2025 was daar verskriklik baie uitdagings, selfontdekking en klomp toetse wat ek moes skryf voordat ek vir hierdie beurs aanvaar kon word. Behalwe vir die feit dat ek die nuwe reis moes begin, was ek baie senuweeagtig omdat ek in ’n ander dorp moes gaan woon. Behalwe daarvoor, woon ek nou ’n nuwe skool by en het ’n nuwe adres ver weg van my ouers en familie.
Die aanpassing was nie maklik nie, maar die eerste dag toe ek my nuwe gesin ontmoet het, het al my vrese en angstigheid net verdwyn asof my siel kon aanvoel dat ek nou tuis is – die plek waar ek behoort. Ek kon toe die geleentheid kry om saam met die lieflike gesin te woon. Behalwe vir die feit dat ek in ’n nuwe huis woon sonder my ouers aan my sy, woon ek nou in ’n huis met ‘n gesin van agt mense. Dít is nou vir jou ’n aanpassing. Ons almal moes leer om mekaar se spasie te respekteer, gemaklik te raak met mekaar en selfs saam te eet.
My tyd hier in die skool en die nuwe huis is fantasties. Ek kon die geleentheid kry om deel te neem aan die DTBS-flashes en het besluit om meisiesrugby te speel. Ek is opgewonde om in die aand te kan aantrek en net in die pad af te stap skool toe in my snaakse uitrusting met verf op my gesig vir die medleys.
Die skool self is iets waarna ek die meeste uitgesien het, maar toe ek die eerste dag by die skoolhekke van DF Akademie ingestap het, was ek skielik angstig en bang soos ’n normale tienermeisie tussen ’n groep vol onbekende gesigte. Ek was skoon verras oor hoe lekker dit eintlik is. Wiskunde is tot op hede my gunstelingperiode van die dag.
Hierdie laaste twee weke is die perfekte voorbeeld van die bekende gesegde, “Alles vat tyd”. Ná net ’n paar dae vind ek my voete in die lang skoolgange, met leerders wat mekaar stamp en stoot met hul groot tasse en ander wat haastig is omdat hulle laat gaan wees vir ’n klas. En voor ek my oë kon uitvee, is ek laat in die aand besig om die laaste paar woorde vir my Heroutartikel te tik voordat ek my wiskundehuiswerk aanpak.
Don-Lin Hoon
Don-Lin is in graad 8 en sy is mal oor skryf en lees. Sy hou van die natuur en is altyd reg vir ‘n nuwe avontuur.
