’n Boek ’n dag laat mnr. Visser wag

[Ellie Herbst]

In vandag se tyd, die era van tegnologie, word dit al moeiliker om boeke te lees. Daar is altyd ander, meer dringende dinge wat jy moet doen of ander maniere hoe jy jou vrye tyd wil spandeer.

Lees is egter ’n belangrike deel van ons daaglikse lewens. Dit word so dikwels gebruik om werk te doen, om eksamens te slaag en om slegte nuus te ontvang, dat ons soms vergeet dat lees pret kan wees! Daar is so baie goeie boeke wat jy kan lees as jy wil lag, huil, leer, ’n boek teen die muur gooi, enigiets! Jy kan óf ontsnap van die wêreld en alles wat daarin gebeur óf jy kan meer daaroor leer.

Daar volg dan die vraag: Hoe kan jy meer boeke begin lees? Hier is ses wenke wat jou hopelik sal help:

  1. Begin met korter boeke

As jy lanklaas ’n boek gelees het, gaan jy nie skielik ’n 500 bladsy oud-Engelse klassieke boek kan lees nie. Dit gaan moeilik wees om één so ‘n boek te lees, jy gaan nie twintig boeke wat so lank is kan lees nie. As jy te vroeg te hoog mik, sal jy dalk sukkel en moed verloor en dan gaan jy jou doelwit begin prysgee.

Begin met iets meer realisties. Lees eers boeke wat 100 tot 200 bladsye lank is of begin met ’n grafiese roman (Hulle tel ook as boeke, net soos e-boeke en oudioboeke). Met die tyd sal jy vinniger boeke kan lees en jy sal ook beter kan fokus terwyl jy lees. Dit is wanneer jy langer of moeiliker boeke kan begin lees.

Onthou net: Solank as wat jy begin, sal jy verbeter.

  1. Lees gereeld, selfs al is dit net vir kort tye

“Perfection is the enemy of good enough” – as jy wag vir die perfekte omstandighede om te lees, soos wanneer jy drie ure oor ’n naweek het, terwyl dit reën en jy ’n koppie warmsjokolade drink, sal jy nie baie gereeld kan lees nie. Die kanse is dan groter dat jy daardie “perfekte tyd” sal gebruik om iets anders te doen, soos flieks kyk, deur sosiale media blaai of werk doen omdat jy ’n belangrike sperdatum die volgende dag het.

As jy 20 bladsye van jou boek per dag lees, kan jy in minder as drie weke ’n boek met 400 bladsye klaar lees! Lees vir die 20 minute voordat jy uit die bed klim in plaas daarvan dat jy dit op sosiale media spandeer. Gebruik dit dus as ’n geleentheid om jou gewoontes te vervang met iets meer produktief en iets meer pret.

  1. Herlees jou gunstelingboeke

Deur dié boeke te lees, kan jy meer uitvind oor watter tipe boeke jy van hou. Dalk hou jy van ’n spesifieke skrywer se styl en kan jy meer van hulle boeke probeer lees. Miskien was die wêreld waarin die gebeure afspeel interessant. Lees word baie makliker as jy boeke lees waarvan jy werklik hou.

Jy kan baie maklik boeke vind wat soortgelyk is aan jou gunstelingboeke as jy weet waar om te soek. Vra vir jou vriende of soek vir aanbevelings op die internet op webtuistes soos www.goodreads.com. YouTube het ook video’s waar mense hulle gunstelingboeke en aanbevelings bespreek.

  1. Vind jou genre

Die genre waarvan jy hou, kan vir jou ’n goeie idee gee van die tipe boeke wat jy moet lees. Jou gunstelingboeke sal waarskynlik vir jou ’n idee kan gee oor die genres waarvan jy sal hou. Oorweeg ook die tipe flieks en TV-reekse waarna jy kyk of watter vakke jy van hou. As jy byvoorbeeld van geskiedenis hou, sal jy dalk biografieë of boeke oor historiese fiksie wil lees. Dalk is jou gunstelingfliek gebaseer op ’n boek, soos Harry Potter, The Hunger Games en Twilight en dan kan jy dié boeke lees (Die boek is altyd beter as die fliek!). Hou vir eers by die genres waarvan jy hou. Nadat jy meer of vinniger lees, kan jy begin uitbrei na genres wat soortgelyk is of selfs eksperimenteer met genres wat heeltemal anders is.

  1. Maak notas

Nee, jy hoef nie notas te maak asof jy ’n literatuurtoets oor die boek gaan skryf nie. Hou net ’n leesjoernaal of skryf sommer in die boek self met ’n potlood (Moenie bang wees om ’n boek te “beskadig” nie, solank as wat dit jou eie boek is.) oor enigiets wat jou aandag trek. Skryf die grap neer wat jy later vir jou familie wil vertel, ’n teorie oor wat later in die boek sal gebeur of die aanhaling wat jou amper laat huil het. Dit is ’n goeie manier om meer gefokus te bly op die storie en albei metodes is goed om verskillende redes. As jy besluit om ’n leesjoernaal te hou, kan jy skryf oor watter boeke jy al gelees het, waarvan jy gehou het en enigiets anders wat uniek is oor die boek. As jy besluit om jou boek te annoteer, kan jy al jou notas herlees wanneer jy weer die boek lees. Dalk sien jy dat ’n vriend ook ’n nota gelos het wanneer jy die boek vir hulle geleen het.

  1. Maak vriende wat ook van boeke hou

Dit kan mense wees wat jy van jou skool ken, familielede of mense van ’n boekklub. Dit is meer waarskynlik dat jy sal aanhou lees as ander mense jou aanmoedig. Hierdie vriende sal vir jou goeie boeke kan aanbeveel in die genres waarvan jy hou en julle kan oor die boek gesels nadat jy dit klaar gelees het.

Lees is ’n belangrike deel van ons samelewing en sal altyd belangrik wees, maak nie saak of jy die hiërogliewe op die binneste mure van die piramiedes probeer ontsyfer of as jy ’n e-pos vir die derde keer oorlees nie. In ’n wêreld waar lees bestaan, sal boeke ook bestaan. So tel daardie boek op wat al vir drie jaar op jou boekrak sit, sit jou foon vir twintig minute af en geniet net die storie voor jou.

Ellie Herbst

Ellie is die een wat op sportdae met ‘n hoop boeke op die pawiljoen deurbring. Haar kop is in die wolke, maar haar voete is stewig op die grond geplant. Sy hoop om eendag ‘n kinderboekskrywer of joernalis te word.