[Cara Booysen]
Op 8 Oktober het 50 opgewonde graad 11’s vanaf DF se parkeerterrein gery, op pad na ‘n onvergeetlike avontuur. Teen die middag van 13 Oktober, val daardie einste graad 11’s moeg, gebrand en lus vir hulle eie bed in hulle ouers se arms. Tussen hierdie twee tydstippe is daar tonne herinneringe gemaak wat so lank gaan hou soos die foto’s wat op die toer geneem is.
Leerders het vir die busrit na Namibië hul pienk toerhemde gedra (die een kleur wat nog nie vantevore gekies is nie). Hul tasse is gepak met veels te veel kos, netjiese porsies opgemaak in ziplock-sakkies. Ongelukkig het selfs dít nie gekeer dat die water in hulle koelhouers hulle kos laat swem het nie.
Deur die aand se rit, is daar stoppe by Piketberg en Klawer gemaak vir badkamer toe gaan en Redbulls koop. Teen die tyd wat die bus in Springbok gestop het, het die leerders in die gange, op die vloer en soms oor al die sitplekke (en vriende) gelê en slaap. Dit sal nie beskryf kan word as die beste slaapsessie ooit nie: Sommiges kon eenvoudig nie aan die slaap raak nie en ander het na drie uur van probeer, moed opgegee.
Na die langdradige stop in Springbok, waar leerders twee uur lank moes wag vir die Spar en Wimpy om oop te maak, kom die reis na Amanzi Trails amper tot ‘n einde. Al wat nog voorgelê het, was om te stop by Vioolsdrif en Noordoewer se grensposte en die Shell Garage net binne die grens van Namibië, waar almal vir hulle melk en biltong gekoop het.
Teen omtrent 13:00 is elke leerder en hul roeimaat se besittings en kos verdeel tussen vier 25 liter-emmers en een koelerboks met ys. Een van die gidse, Uttu, het die reëls van die rivier en die toer verduidelik nadat al die kano’s gepak is. En so begin die ware avontuur!
Die tweede helfte van die dag het baie rustig verloop op die water. Soos met elk van die drie aande het leerders die grondseile uitgelê en hulle slaapsakke oopgerol. Wat kenmerkend van daardie aand was, was dat die warm wind hulle byna weggewaai het en dié wat nog in die vroeë ure van die oggend wakker was, het ‘n pragtige pienk en blou meteoriet gesien.
Op die tweede dag was die groep so fluks dat hulle al ‘n groot gedeelte van die volgende dag se kilometers afgelê het. Daar was drie hoogtepunte op die roete daardie dag: die Duimafdruk, Entrance Exam- en Deadmans-stroomversnelling. Om in die Oranjerivier te swem, klink heel aangenaam, maar op die roeitoer beteken swem dat jou kano óf waterskep óf heeltemal onderstebo draai.
DF hou aan om rekords te breek, want dié toergroep hou die rekord vir die langste treintjie by die Hammerkop-stroomversnelling af, met 20 mense gelyktydig ingehaak!
Die groep nader die volgende dag die hoogtepunt van die toer toe die gidse hulle teen die berge op na ‘n verlate floriedmyn lei. Wanneer hierdie kristalle in die kole van ‘n vuur gegooi word, gloei dit helderblou en skiet soos vuurwerke. Alle eksperimente is onder veilige leiding van die gidse gemonitor.
Later die dag het die graad 11’s die Sambok-stroomversnelling aangepak: die woesste en moeilikste stroomversnelling van die toer. Sodra almal wat “geswem” het hul bote parkeer het, het hulle die rivier oorgegesteek en ‘n paar keer by die rustige deel van die stroomversnelling afgespring.
Die laaste slaapplek was op ‘n effense skuins grasperk wat onder ‘n verlate diamantmyn geleë is. Daardie aand is ‘n talentskou deur van die graad 11’s en die gidse aangebied. Hulle was Uttu, Frans, Romanus, John en Zach. Hulle het die toer vir die groep vergemaklik en baie opwindend gemaak. Onder andere is daar gedans, gesing, stories vertel en verskriklik baie gelag.
Op die laaste dag is die groepfoto by die Witches Hat-formasie geneem. Daar is ‘n paar speletjies op die sandbank gespeel en nog ‘n paar kilometers verder het die groep gestop vir nog ‘n paar spronge van die rotse af.
Uiteindelik, na 63 kilometer, het die roeitoer tot ‘n einde gekom, maar dit was nie perfek sonder ‘n heerlike potjiekosaandete en die aand se slaap saam met die muskiete by Amanzi se basiskamp nie.
Baie dankie aan juffrou Van Hulst en haar familie en vriende wat hierdie toer een van die beste vakansies gemaak het. Indien jy vrae het oor enige ander aspekte van die toer, vra vir juffrou Van Hulst of enige graad 11-leerder.
Cara Booysen
Cara is mal oor kuns in baie vorme. Sê vir haar van n boekstalletjie of een wat kuns uitstal en sy is daar. Sy vind inspirasie in die alledaagse en is altyd bereid om te gesels oor die kuns wat jóú inspireer.
