’n Jaar vir almal: mnr. Brand en juf. Ingpen se wyse raad

[Etienne van der Merwe]

Gewoonlik skryf ’n joernalis vir ’n sekere groep mense: die teikenmark. Gewoonlik skryf ’n joernalis vir vergoeding en gewoonlik het ’n joernalis werkservaring. Ek voldoen aan geen van hierdie vereistes nie. Ek wil wel probeer om hierdie artikel so interessant en verteerbaar moonlik te maak. Hopelik kan jy hier ‘n nuwe brokkie breinkos vind.

Dit is ons elkeen se unieke verantwoordelikheid om te sorg dat ons ons tyd met wysheid bestuur. Eleanor Roosevelt het gesê gister is in die verlede, môre is onbekend, maar vandag is vir ons geskenk.

Ons is elkeen vasgevang in ons eie jaar. Die eksamens is om die draai. Ons bring tyd met ons vriende deur. Ons is besig. Ons is te besig om te dink.

Ons besef gereeld dat ons tyd te min is. Dit is van toepassing op baie aspekte van die moderne lewe. Vandag is daar so baie goed om te doen dat dit maklik word om belangrike dele van ons lewens af te skeep.

Ek sou egter waag om voor te stel dat dit nooit ’n mors van tyd is om te dink hoe om die beste van jou jaar te maak nie. Ek het dus met meneer Brandt en juffrou Ingpen gepraat en raad by hulle gekry oor hierdie verskynsel.

Meneer Brandt se antwoord op my vraag: “Hoe verander ’n mens jou ingesteldheid?” was ‘n verwarde: “Joh.”

Hy is van mening dat leerders se grootste probleem met skool is dat hulle voel asof hulle nie inpas nie. Die vangplek met hierdie skynbaar voor-die-handliggende stelling is dat hoe meer jy voel soos ’n buitestander, hoe meer tree jy op soos ’n buitestander en hoe meer word dit die werklikheid.

Jou ingesteldheid word deur sekere faktore bepaal. Van die groot invloede sluit jou sielkundigde samestelling en watter fase van jou lewe jy jouself in bevind, in. Meneer Brandt se raad vir hierdie kwessies is dat jy moet besluit wat jy wil bereik en hoe jy dit gaan aanpak. Daarna moet jy agter die kap van die byl kom en besluite neem om dit aktief na te streef.

Ons het saamgestem dat jou vriende ’n belangrike rol in hierdie proses speel. Jy benodig ondersteuning en jou vriende is die hoofvoorsiener daarvan. Jy kan vriende maak met mense wat gedeelde belangstellings het.

Mense wat saamwerk, is soos ’n Lego-struktuur. Elke blokkie dra by tot die asemrowende geheel. Mense word dikwels geïnspireer deur mense wat hulself verbeter, wat daartoe lei dat jy ’n groep vriende en ondersteuners kan opbou deur volgehoue inspanning.

Meneer Brandt lê klem op ’n oopkop-ingesteldheid. Hy is van mening dat mense wat ’n beperkte siening het en weier om te verander in ‘n doodloopstraat is.

Daarteenoor is oopkop mense meer geneig om hulself uit hul gemaksone te haal, wat glo van kardinale belang is. Deur jouself in ongemaklike en nuwe omgewings te plaas, nooi jy verbetering en groei in jou lewe. Hy is van mening dat hierdie groei en uitdaging ’n belangrike deel van die lewe is wat jou toelaat om lewe ten volle te leef.

Hy aanvaar dat hierdie groei teen ’n koste van ongemak en pyn kom, maar glo dat die eindresultaat die moeite werd is.

Juffrou Ingpen het ook waardevolle insette gelewer. Op die vraag: “Hoe moet ’n graadaggie vriende maak?” het juffrou Ingpen geantwoord: “Dis ’n goeie vraag.” Juffrou Ingpen glo verder dat die mense wat skool die meeste geniet, die ekstroverte en leergieriges is. Dit is omdat dit noodsaaklik is om te voel dat jy behoort. Dit is makliker as jy betrokke is by die skool omdat jy vriende by daardie aktiwiteite maak en voel dat jy ’n doel het.

Juffrou Ingpen het my ingelig dat die meeste van jou vriende op skool gemaak word op grond van gedeelde belangstellings of met mense met wie jy gereeld in kontak is – die mense rondom jou, in klasse en in aktiwiteite.

Dit kan moeilik en riskant wees om vriende te maak. Eensaamheid lei daartoe dat jy geïsoleerd voel en negatief raak.

Sy glo ook dat dit belangrik is om uitgedaag te word, maar glo dat dit op ’n natuurlike, spontane wyse gebeur deur groepe, sosiale gebeurtenisse en die skoolsisteem.

Na aanleiding van die vraag: “Wat laat ’n jaar uitstaan?” het sy ’n broodnodige begrip aangeraak – sukses. Wat is sukses en hoe meet jy sukses?

Sy het uitgelig dat dit maklik is om te sien wat die samelewing beskou as ’n sukses, maar om almal oor dieselfde kam te skeer, is malligheid. Wat elkeen uit die jaar wil kry, is soos hul eie vingerafdruk – uniek. ’n Mens kan nie vir ander voorskryf hoe om hul jaar te lewe nie, want ons is nie hulle nie.

Kernbegrippe is egter om aanpasbaar te wees, elke oomblik te geniet, nie onbereikbare doelwitte te stel nie en om foute te aanvaar en aan te beweeg.

‘n Suksesvolle jaar kan wees om te sê: “Ek staan steeds, ek is nie platgeslaan nie.”

Leef jou jaar, maar leef dit saam met jou mense. Moenie bang wees om iets nuuts te probeer nie, netnou geniet jy dit! Aanvaar wat jy al gedoen het en dat nie alles sal uitwerk nie. Laastens, hou jou doelwitte bereikbaar en aanpasbaar sodat jy elke oomblik ten volle kan leef.

Hopelik het hierdie leek bewys dat skryfreëls net voorstelle is en dat jy alles met ’n oop kop moet aanpak.

Etienne van der Merwe

Hierdie skrywer is soos ‘n menslike Swiss Army-mes: Hy bons tussen programmering, lees, krieket, wiskunde, ekonomie en debat asof dit geen probleem is nie.