[Amé Breytenbach]
Die Herout het hierdie kwartaal die voorreg gehad om met DF se nuwe skoolhoof van volgende jaar, meneer Hannes Oosthuizen, te gesels. Ons is opgewonde om hom uiteindelik te ontmoet en sien uit na die nuwe hoofstuk in die DF-verhaal.
Wou Meneer nog altyd ‘n onderwyser word? Indien nie, wat was Meneer se kleintyd-droomwerk?
As kind wou ek baie graag ‘n skrywer word. Op ‘n stadium het ek ook gedroom daarvan om ‘n loopbaan in krieket te hê. Die onderwys as beroep was wel later ‘n openbaring in my lewe en is tans bitter verrykend. Dit is ‘n voorreg.
Wat was Meneer se vakke op skool?
Afrikaans Hoërgraad
Engels Hoërgraad
Wiskunde Hoërgraad
Natuur en Skeikunde Hoërgraad (Fisiese Wetenskappe)
Aardrykskunde Hoërgraad (Geografie)
Rekeningkunde Hoërgraad
Fisiologie Hoërgraad
Rekenaarstudie Hoërgraad
Ekonomie Hoërgraad
Waar het Meneer grootgeword?
In Bethlehem in die Vrystaat.
Vertel ons meer van Meneer se vorige skool?
Ek was die afgelope 17 jaar verbonde aan Witteberg Hoërskool, wat ook my alma mater is. Dit is ‘n besondere plek en het my geleer hoe mooi die kleur “blou” is. Ek kon my liefde vir onderwys in al sy aspekte daar uitleef. Dit is ‘n skool wat vêr bo sy gewigsklas kompeteer.
Wat is iets wat Meneer van DF hou?
Ek is ‘n baie sterk akademikus en kan my maklik vereenselwig met DF se sterk akademiese standaard. Geen skool kan ‘n bloudruk van ‘n ander wees nie en die DF-opregtheid staan redelik sterk uit. Dit gee ‘n mens baie om mee te werk. Ek is opgewonde oor hoe DF kan groei van daar af.
Hoekom het Meneer gekies om aansoek te doen vir die pos by DF?
Daar was drie oproepe na my ter motivering. Die laaste een was ‘n oproep na my hart… ‘n DF-ma het my gebel.
Watter drie waardes is volgens Meneer belangrik vir ‘n skool om suksesvol te wees?
Opregtheid
Eerlikheid
Respek
Wat is die mees komiese insident wat Meneer al in Meneer se klas beleef het?
Tydens ‘n matriek-ekonomieles het ‘n seun my versoek om asseblief net ‘n paar tree na regs te skuif, aangesien die son só van my voorkop af skyn dat hy nie op die bord kan sien nie. Ek het gehuil soos ek lag.
Wat is Meneer se gunstelingsport?
Krieket is my eerste liefde. Dit is ‘n spel wat nie net besonder mooi is nie, maar ‘n mens vele lewenslesse leer.
Watter aktiwiteite geniet Meneer in Meneer se vrye tyd?
Ek geniet ‘n rondte golf en is gaande oor lees. Die trek na die Kaap gaan duur wees as gevolg van al my boeke.
Wat is Meneer se gunsteling-Bybelvers?
Ek het nie juis ‘n gunsteling nie, aangesien die Bybel so ‘n ongelooflike getuienis is. Ek wend my wel baie tot Johannes 3:30. “Hy moet meer word en ek minder.”
Watter plek sal Meneer nog eendag wil besoek?
Ek hou baie van die eenvoud van die natuur, so dus die Angel-waterval in Venezuela en selfs die Okavango Delta via die soutpanne van Botswana.
Vertel ons van Meneer se gesin?
My vrou se naam is Gerda; sy is ‘n arbeidsterapeut wat spesialiseer in handterapie. Sy is ook ‘n ongelooflike violis en musikant.
My oudste seun se naam is Nico (10). Hy deel my liefde vir sport en lees.
My dogter, Adalé (8), is ‘n vlinder en mal oor dans, kuns en musiek. Sy sal heeldag swem as ons haar nie keer nie.
My jongste seun, Gideon (4), is mal oor karretjies en alles wat met wiele werk.
Hulle almal is my hele hart.
Waarna sien Meneer uit vir volgende jaar?
Om die DF-kinders te ontmoet, ‘n pad saam met hulle te stap en saam met hulle te droom. Saam is niks onmoontlik nie.
Nou vir ‘n paar vinnige vragies om ons nuwe skoolhoof van naderby te leer ken.
Berg of see?
Berg én see.
Koffie of tee?
Koffie
Winter of somer?
Winter
Sjokolade of lekkers?
Sjokolade
Honde of katte?
Honde
Kamp of hotel?
Kamp
Bel of boodskap?
Bel
Digitaal of pen en papier?
Pen en papier
Sushi of steak?
Steak
Rugby of krieket?
Krieket, maar rugby is maar ook in ons bloed.
Ons wens Meneer en Meneer se gesin alle voorspoed toe met die Groot Trek na die Kaap en staan reg om Meneer volgende jaar op die DF-manier te verwelkom.
Amé Breytenbach
Amé is lief vir lees, dans en tyd saam met haar gesin spandeer. Sy sal altyd oplossings vir ‘n probleem probeer vind, al flop dit partykeer.
