’n Nuwe naam, ’n nuwe era: DF Akademie

[Caro Francois]
Met trots en opgewondenheid verwelkom ons die nuwe naam van ons skool – DF Akademie. Hierdie verandering is meer as net ’n nuwe bord by die hek of ’n aanpassing op papier. Dit is ’n simboliese stap in die rigting van groei, insluiting en ’n nuwe visie vir die toekoms van elke leerder wat in DF se skoolgange loop.
DF was onlangs besig om deur ’n betekenisvolle proses van naamsverandering te gaan. Hierdie besluit is nie net sommer oornag geneem nie. Dit was die resultaat van deeglike oorweging, oop gesprekke en betrokkenheid van die hele skoolgemeenskap. Ouers, onderwysers, leerders en oud-Dee-Effers het almal ’n sê gehad in die pad wat ons vorentoe wil stap. Uiteindelik is die nuwe naam, DF Akademie, goedgekeur. Dit weerspieël ons VRIEND-waardes, akademiese uitnemendheid en groei.


Wat hierdie verandering so spesiaal maak, is dat dit nie beteken ons vergeet waar ons vandaan kom nie. Inteendeel, die DF in ons naam bly trots staan as ’n brug tussen ons geskiedenis en die pad vorentoe. Soos meneer Conradie dit onlangs gestel het: “Ons is nog steeds DF – niks verander nie.” Hierdie woorde bring kalmte en sekerheid, want ons harte klop nog steeds blou. Die letters DF staan nou vir dux fidelis wat getroue leier in Latyn beteken.
Die toevoeging van Akademie is egter ’n vars en moderne weerspieëling van wat ons na strewe – om ’n sentrum van leer, ontwikkeling en drome te wees. Dit spreek van ’n plek waar elke leerder hule volle potensiaal kan bereik, nie net akademies nie, maar ook op sportgebied, kultuur en persoonlike groei. ’n Plek waar almal welkom is en waar elke stem waarde het.


Daar is reeds ’n nuwe energie op die terrein. Ons sien dit in die gees van die leerders, die passie van die onderwysers, en die opgewondenheid oor dit wat nog voorlê. Dit skep ’n gevoel dat ons regtig op pad is na iets groter, iets betekenisvol.


DF Akademie is meer as net ’n naam. Dit is ’n belofte. ’n Belofte aan elke leerder dat hulle deel is van ’n instansie wat hul uniekheid eer, hul drome ondersteun en hul toekoms ernstig opneem. ’n Belofte dat ons nie stilstaan nie, maar altyd groei, saamleer en saambou aan ’n gemeenskap wat trots is om deel te wees van DF.
Wat maak DF regtig spesiaal?


Dit is nie die nuwe naam of die geboue nie – dis die mense. Die leerders wat elke dag opdaag met drome in hul harte. Die onderwysers wat met passie en toewyding lesse aanbied. Die vriende wat mekaar motiveer in klaskamers en op die sportvelde. Dit is hulle wat hierdie skool ’n tuiste maak.
Mag DF Akademie vir baie jare nog ’n plek van lig, inspirasie en herinneringe wees – waar die verlede en toekoms hande vat en iets besonders skep.

Caro Francois

Caro hou daarvan om tyd saam met haar familie en vriende deur te bring. In haar vrye tyd luister sy graag na musiek, lees boeke en droom groot oor haar toekoms.