[Nienke de Vaal]
Die RVR-tuinklub, gestig ter ere aan Ruben van Rooyen, het gedurende die afgelope paar maande al ’n klomp projekte aangepak om DF se tuinareas op die skoolterrein lewe te gee.
Die tuinklub is amptelik op 6 April deur me. Lorinda Smit gestig. Me. Smit het Ruben so ’n jaar en ’n half gelede deur haar dogter, Tobey, ontmoet.
“Hy was mal oor plante en het sy eie klein tuintjie buitekant sy kamer begin. Toe hy uitvind dat ek baie van plante weet, het hy die heeltyd vir my vrae gestuur en ons het tuinmaakvriende geraak,” vertel me. Smit hoe sy Ruben beter leer ken het.
Een van Ruben se nuwejaarsvoornemens was om iets aan DF se tuine te doen. Hy het aan die begin van die jaar die idee van ’n tuinklub vir me. Smit voorgestel en gevra of sy sal help met die ontwerp daarvan. Na Ruben se heengaan op 19 Maart, is die voortuin in ’n gedenktuin omskep.
“Die tuinklub is ’n belofte wat my ma aan Ruben gemaak het die laaste keer wat sy vir hom gesien het. Sy het hom belowe dat sy nie sal vergeet nie en dat ons die skool se tuine sal opgradeer en die tuinklub namens hom sal stig. Dit is ’n manier waarop hy steeds kan voortleef by DF,’’ deel Tobey, een van Ruben se beste maats en ’n tuinklubvoorsitter.
Die amptelike inhuldiging van die RVR-gedenktuin saam met die Afrikaans-tuin agter Ruben’s Rest, het op Donderdag, 8 Mei plaasgevind. ’n Joernalis van die Tygerburger het dié geleentheid bygewoon en ’n pragtige artikel daaroor geskryf wat jy gerus ook kan gaan lees by https://tygerburger.co.za/kyk-ruben-leef-voort-in-df-se-tuin/
Die gedenktuin het nou al uitgebrei na ’n skadutuin, ‘n voortplantingstasie en ’n groentetuin wat op pad is. Die mees onlangse uitbreiding is die nuwe kuierarea wat binnekort die tuiste van die Koffieboom en RVR-tuinwinkel gaan raak. Die opening hiervan is op 1 September op Lentedag.
Me. Smit noem: “Daar is nou verskriklik baie werk wat gedoen moet word voor 1 September. Daar is nuwe rolverdelings binne die klub wat moet gebeur, werk wat toegeken moet word en skedules wat uitgewerk moet word. Die water- en besproeiingsaanlegte vir die groentetuine sowel as die gedenktuin, skadutuin en voortplantingstasie moet ook uitgesorteer word. Baie groot borge moet gewerf word vir ons om dit alles te kan doen.’’
Die tuinklub is afhanklik van borge om al hulle uitbreidings en projekte se onkostes te dek en die publiek word uitgenooi om gerus te help ondersteun.
Lidwerwing is belangrik om die klub se volhoubaarheid te verseker en daar het al baie mede-tuinwerkers, Dee-Effers en gretiges aangesluit vandat dit gestig is. Die lidwerwing wat in die laaste paar weke plaasgevind het, het die klub tot 60 lede laat groei.
“Ek glo Ruben sal baie trots wees op alles wat ons as sy maats saam bereik het en kon skep in die tuin. Dit is regtig iets baie spesiaal om te weet dat jy in Ruben se tuin sit, op Ruben’s Rest of om te sien hoe die skoenlappers rondvlieg, ’’ vertel Tobey.
Ruben se merkwaardige menswees het ’n saadjie geplant in almal wat hom geken het se harte. Daardie saadjie inspireer ons om meer om te gee. Ruben se hart, wat oorgeloop het van passie vir die natuur en DF, is die rede vir die skep van die tuinklub. Die tuinklub is ’n manier om Ruben se nalatenskap lewendig te hou en getuig van sy blywende impak op die mense rondom hom.
Hier volg ’n gedig, geskryf deur me. Smit, wat op Donderdag, 8 Mei met die inhuldiging van die gedenktuin voorgelees is.
Tuinkind
In vroegoggend dou
drup ween-druppels en val op
enkel, diepgroen blare –
‘n weerkaatsing in herinnering
veelkleurig in pienk en geel
Miertjies trippe-trap ligvoets
tussen grondkorrels sonder om te steur;
en goggas jubel in blydskap vir ‘n siel
groter as ons almal
Middag trek ‘n vlies-wolkie in ‘n ligte briesie en groet saam
Die briesie sing om die baksteen-muur
(waar niks ooit wou groei nie)
en seën dit in sang
Laat namiddag roep die briesie saggies
en nooi die voëltjies in koor
Hul prys die Genade en Liefde;
die Natuur in Sy volmag en onthou die stem wat in hul ore nooit sal stil wees nie
(VaL Smit ©️)
Nienke de Vaal
Nienke is ‘n massiewe aanhanger van die alledaagse estestiese. Sy geniet boeklees en goeie films. Kuns en geskiedenis is haar gunstelingvakke en sy sal graag in diep gesprek gaan oor enigiets te doen met die Middeleeue of vintageklere.