[Naomi Deacon]
Nanoplastiek is ’n tipe mikroplastiek wat tussen een en 1 000 nanometers groot is. Ter vergelyking: dis omtrent ‘n 100 keer kleiner as die breedte van ’n menslike haar.
Nanoplastiek is te klein vir mense om met die blote oog te sien en gevolglik versprei dit verskriklik maklik. Dit word in die see, landbougrond, kos, die lug en selfs in mense gevind. Dis reg – plastiek is nou al so ’n groot deel van ons samelewing dat dit binne-in ons voorkom. Navorsers van die Universiteit van Columbië het in 2024 ’n studie gedoen wat bewys dat daar min of meer 100 000 stukkies nanoplastiek per liter gebottelde water is.
Nanoplastiek vorm wanneer groter stukke plastiek afbreek in kleiner stukkies mikroplastiek en dan nog verder totdat dit nanoplastiek vorm. Dit kan afbreek as gevolg van sonlig of die gereelde gebruik daarvan wat dit verweer. Wanneer plastiek afbreek tot die punt dat jy dit nie meer kan sien nie, is daar baie min wat mense kan doen om die impak daarvan op die omgewing, mense en diere te verminder.
Alhoewel nanoplastiek klein is, kan dit steeds skade aan mense doen as daar genoeg daarvan in hul liggame is. Mense neem dit in deur water te drink en kos te eet waarin dit teenwoordig is, dit in te asem en, in gevalle waar die nanoplastiek verskriklik klein is, kan dit deur hul vel beweeg. Nanoplastiek kom veral voor in mense se harte, breine en longe en daar is studies gedoen wat daarop dui dat dit tot hartaanvalle, beroertes, kanker en neurodegeneratiewe toestande soos Alzheimers en demensie kan lei.
Daar is op die oomblik geen bekende manier om ontslae te raak van die nanoplastiek wat in mense se liggame is nie. Dit is ook onprakties om te probeer om dit heeltemal te vermy, omdat daar oral nanoplastiek teenwoordig is. Tog is daar wel stappe wat jy kan neem om die hoeveelheid plastiek wat jy inneem, te verminder.
1. Bly weg van plastiek wat jy slegs een keer kan gebruik
Deur plastiek wat slegs een keer gebruik kan word, te vermy, verminder jy die hoeveelheid plastiek wat potensieel kan afbreek in nano-partikels. Dit is voordelig vir die gesondheid van jou omgewing, jouself en jou medemens. Gebruik liewer plastiekprodukte wat meer duursaam is, sodat die kanse dat dit sal afbreek, noemenswaardig kleiner word of produkte wat heeltemal van ’n ander materiaal gemaak is, byvoorbeeld glas.
2. Vermy winkelgekoopte gebottelde water
Botteltjies water wat in winkels gekoop word, bevat skokkend baie plastiek. Daarom is dit veel gesonder om kraanwater te drink en dis nog beter as jy dit ook kan filtreer.
3. Moenie warm kos of drankies in plastiekhouers sit nie
Hitte veroorsaak dat plastiek vinniger afbreek, al kan jy dit nie self sien nie. As jy warm kos in ’n plastiekbakkie stoor of jou kos in ’n plastiekbakkie warm maak, kan die stukkies nanoplastiek daaraan vasklou. Dit is beter om kos in glashouers warm te maak en warm kos in winkels wat in plastiekpakkies voorkom, te vermy. Warm drankies soos koffie, tee en warmsjokolademelk moet ook nie in plastiekkoppies gehou word nie – om presies dieselfde redes.
Selfs die papierkoppies waarin koffie by koffiewinkels verkoop word, het ’n dun lagie plastiek aan die binnekant. As jy koffie gaan koop, is dit ’n goeie idee om jou eie beker, wat verkieslik uit metaal gemaak is, saam te bring en te vra dat hulle jou koffie daarin maak. Sommige koffiewinkels moedig dit ook oor die algemeen aan omdat dit beter vir die omgewing is.
Nanoplastiek is ’n groeiende probleem waaroor daar nog vele navorsing gedoen moet word voordat die volle impak wat dit op mense en die omgewing het, verstaan kan word. Daarom is dit belangrik dat ons die nodige voorsorgmaatreëls tref voor die situasie handuit ruk.
Naomi Deacon
Naomi bring haar skooldae met ’n neus in haar boek en ’n pen in haar hare deur. Die verf op haar hande spreek boekdele oor haar kreatiwiteit, maar as dit groen is, is dit van die plantjies wat sy kweek.