Napoleon Bonaparte: Die Kleine Korporaal

[Dirk Hagen]

Hy het van ʼn beskeie begin op die klein Italiaanse eiland, Korsika deur die hiërargie van die Franse leër beweeg tot hy die Franse kroon self op sy kop geplaas het om hom te doop as keiser van die Franse. Baie beskryf hom as die arrogante klein mannetjie met die ego van ’n reus! Napoleon Bonaparte, oftewel, Napoleon 1, het van ’n onmerkwaardige geboorte in ’n geringe Korsikaanse adelstand ’n pad tot roem, militêre sukses en uiteindelik sy rol as keiser van die Franse volk gevind.

Daar is min karakters uit die geskiedenis so kenmerkend soos Napoleon Bonaparte, tog is hy ‘n omstrede karakter.  Daar is ʼn groep geskiedkundiges wat die Le Petit Corporal bestempel as ’n persoon met kleinmannetjie-sindroom en hom in dieselfde kamp plaas as  boosaardiges soos Stalin en Hitler.  Ander is fanaties oor sy strategiese meesterbrein asook sy vermoë om letterlik van ʼn eenvoudige korporaal, die magtigste man in die 19de eeu te word. Hy is ‘n bewys dat iemand met  talent, vermoë en ambisie die hoogste posisie in die land, wat vroeër slegs vir koninklikes beskore was, kon beklee. Om sewe koalisies van oor ses lande aan te durf, sit nie in enige persoon se broek nie.

Jy kan my in die tweede groep plaas. As 13-jarige tjokkertjie, het hierdie geheimsinnige man my guns gewen nadat ek die magiese Paleis van Versailles net buite Parys besoek het.  Die bekende skildery, “Napoleon Crossing the Alps” deur Jacques-Louis David, het my aandag vasgevang en na ʼn volle tien minute staring contest met Napoleon, moes my ma my ʼn dertig euro Napoleon-standbeeldjie belowe om my van Napoleon te skei. Die standbeeld staan tot vandag toe op my lessenaar. 

Kom ek laat egter my vreemde obsessie met die man vaar en praat oor die nuutste spoegspatter. Ek is seker almal het al gehoor van Ridley Scott se nuwe epiese, historiese drama naamlik Napoleon wat handel oor die Keiser self. Hierdie rolprent is gegrond op die verhaal van Napoleon Bonaparte en beeld hoofsaaklik sy magtige opkoms deur die weermag, sowel as sy verhouding met sy eerste vrou, Joséphine Bonaparte uit. Napoleon word vertolk deur die eksentrieke Joaquin Phoenix en Joséphine deur die beeldskone Vanessa Kirby.

Let wel: Hierdie artikel bevat gebeure wat in die rolprent afspeel. As jy nog nie die fliek gekyk het nie, moet asseblief nie verder lees nie!

Die 2 uur en 40 minute rolprent, Napoleon, fokus op bekende slagvelde, onder andere dié van Austerlitz en Waterloo, wat Napoleon se militêre loopbaan gemaak en gebreek het. Dit beklemtoon met baie realistiese, visuele beelde wat somtyds regtig  steurend is, die bloedige werklikheid van oorlog en hoe 2,5 miljoen soldate die emmer geskop het tydens Napoleon se ekspedisies.  

Alhoewel baie van die tonele werklik pragstukke is met puik kostumering, blyk dit dat Scott nog nooit ʼn geskiedenisboek opgetel het nie. Sy weergawe van Napoleon sit die pot soms heeltemal mis.  Die tonele waar Napoleon op die piramides in die Egiptiese veldtog skiet en hoe hy die teregstelling van Marie Antoinette aanskou, is histories verkeerd. Dit is te verstane dat die verhaal effens aangepas moet word vir dramatiese effek, maar as ʼn Napoleon-aanhanger wil ek beslis nie ʼn rat voor die oë gedraai word nie. Dit skep ʼn wanindruk, veral onder mense wat nog nooit met Napoleon kennis gemaak het voor hierdie rolprent nie, wat blyk die oorgrootte meerderheid te wees.  

Michael Broers, ‘n skrywer van verskeie boeke oor Napoleon wat draaiboekvergaderings oor die rolprent bygewoon het, het sy opinie gelug oor die ware feite in die rolprent rakende hierdie legendariese leier  en stem saam met bogenoemde. Hy sê die volgende: “After watching the Director’s Cut, Scott asked me, ‘Is there anything you violently object to?’ And I said it’s the bit during the divorce scene, where Napoleon slaps Josephine. It did not happen. Secondly, it’s out of character. He would never do a thing like that.”

Broers gaan verder voort om aan te voer dat daar ‘n wanopvatting is oor Napoleon as misoginis, wat deur die bogenoemde aangevuur word. Hoe kan jy iemand wat ‘n geweldige voorstander van vroulike onderwys is, as ’n misoginis beskou? Napoleon het seker gemaak dat sy eie susters ‘n goeie opvoeding kry, wat teen die norm was van daardie tyd. Hy het drie akademies vir meisies op die been gebring en het planne gehad vir nog vyf akademies wat meisies dieselfde onderwys as seuns sou gee. Hy het gevoel dat die jong vroue wat met sy generaals, sy ambassadeurs en sy predikante gaan trou, net so goed opgevoed moes wees as hul mans. Sy twee bekwame susters is verantwoordelike rolle as heersers in Italië gegee en hy het beaam dat sy voorkeuropvolger, Josephine se dogter is. Ridley Scott beeld Napoleon egter uit as ʼn man wat sy eie vrou slaan wat ʼn voorbeeld is van misoginie oftewel vrouehaat.  Dit is ’n volslae leuen wat ’n bitter pil is om te sluk. 

Een aspek van Napoleon se lewe wat wel die ware Jakob is en deur die rolprent korrek weergegee word, is dat Napoleon se kop vol muisneste was. Josephine het daarvoor gesorg! Napoleon is aanvanklik “verslaan” deur Josephine en het passievolle liefdesbriewe vanaf die slagvelde vir haar geskryf.  Sy was egter meer konserwatief met haar liefde. Dié twee se liefdesverhaal was hartsverskeurend. Die feit dat Napoleon van Josephine moes skei, omdat hulle nie kinders kon kry nie en ʼn alliansie wat hy moes aanknoop tussen Oostenryk en Frankryk met die trou van Marie-Louise, breek baie Napoleon-aanhangers se harte (myne insluitend). Die rolprent plaas só baie fokus op hul verhouding, dat Scott skynbaar vergeet het dat die film eintlik oor Napoleon handel en nie “Napoleon and Josephine:  A Romance’’ nie. 

Die toneel wat vir my wel wys dat hierdie fliek voorwaar deur ʼn Brit gemaak is, is die toneel waar Napoleon die hertog van Wellington ontmoet. Alhoewel die twee nooit werklik ontmoet het nie, beeld dit die hertog uit as ʼn ses voet monster van ʼn man wat basies sy kop teen die plafon van die HMS Bellerophon, ‘n Britse seilskip, kap. Die hertog word uitgebeeld deur Rupert Everett met ʼn lengte van ses voet vier. In werklikheid was Napoleon vyf voet ses en die hertog vyf voet agt. ʼn Skrale verskil wat oorgedramatiseer is deur Ridley Scott wat ‘n mens nie anders kan beskryf as Britse propaganda nie. Dit is mos juis die Britte wat die gerugte versprei het dat Napoleon kort was, alhoewel sy lengte eintlik gemiddeld was in daardie tyd. 

Behalwe dat Napoleon verder uitgebeeld word as ʼn seksbehepte man wat ingee aan sy primitiewe drange gepaard met vloermoere en ʼn eienaardige Amerikaanse aksent van Joaquin Phoenix se kant, is hierdie rolprent na my mening ʼn flop.  Dit doen Napoleon se naam groot onreg aan. Die rolprent Napoleon behaal ʼn swak gradering van 6.4 uit 10 volgens IMDb.  My persoonlike gradering is 4 uit 10 aangesien dit nie my dors les na die ware feite rakende Napoleon nie.

Ridley Scott het ook bewys dat hy kritiek nie goed hanteer nie. Hy het  geskiedkundiges se bekommernisse oor die historiese akkuraatheid afgejak deur op die kritiek te reageer via die The New Yorker met ʼn arrogante “Get a life.” Ongelukkig vir Scott, het die film tot sy misnoeë geen toekennings by die 2024 Oscars ontvang nie, nadat hy na bewering gesê het dat dit hoogtyd is dat hy ʼn Oscar kry.  

Napoleon se lewe is veels te kompleks om op te som in ʼn eenvoudige rolprent onder drie ure of selfs meer. Ek stel voor dat jy alles met ʼn knippie sout neem indien jy hierdie rolprent gaan kyk. Daar is werklik pragtige tonele wat briljant is soos die slagvelde, maar die akkuraatheid oor Napoleon se loopbaan, sjarme, triomfe en mislukkings, skort. 

Ek sou diegene wat meer oor Napoleon te wete wil kom, aanraai om die 1970 historiese rolprent, Waterloo te kyk. Dit beeld Napoleon se sjarme perfek uit en is histories korrek. Sergei Bondarchuk was aan die stuur van hierdie rolprent met Rod Steiger as Napoleon Bonaparte. Vir die boekwurms onder julle, sou ek Andrew Roberts se Napoleon the Great sterk aanbeveel. Dit is ʼn lywige boek, maar is die beste geskrewe materiaal oor Napoleon ter wêreld. 

Tyd en kennis het dalk Napoleon se skitterende reputasie aangetas, maar die legende leef werklik voort.  Napoleon was ʼn man in murg en been wat die wêreld op sy eie aangevat het in die naam van sy mense en hul ideale. Sommige mense mag hom dalk as ’n tiran haat en sommige mag hom dalk verafgod as ‘n militêre genie.  Maar een ding is seker: Die naam, Napoleon Bonaparte sal tonge laat klap tot die oordeelsdag. 


Dirk Hagen

Dirk se gunstelingtydverdryf is om in die middernagtelike ure koerant te lees met speckled eggs aan sy sy. Hy is versot op reis, alle vleis, gesprekke rakende politiek en die onbekende verken. Dirk se grootste vrees is mense wat langer as hy is.