[Amé Breytenbach]
Oupa. Vir my is dit altyd die reuk van biltong en brandstof wat eerste in my gedagtes opkom – met ‘n sagte tikkie rook daarby. Die hartseer agter hierdie woord druk op my hart.
Kinderjare is gekenmerk deur vakansies op die plaas – mielies en spanspek met Ouma se soetkoek. Ek hoor nog hoe my onskuldige lag van die trekker af eggo, altyd vanaf Oupa se skoot.
Eers toe die egskeiding voltooi is, het ek besef dat my wêreld nooit die volle prentjie vertoon het nie.
Wonde is geskep, oues oopgekrap. Van hulle is dieper as wat enige iemand kon raai.
1971
André Nel sit eenkant op ‘n versplinterde heining en kyk uit oor sy stukkie grond. Sy bors swel met trots as hy dink aan die ure se geploeg en geplant; aan die oes wat sal volg.
Sy toekoms vertoon rooskleurig, nes die pienk wolkies wat bloos vir die sakkende son.
Dit maak nie eens saak dat hy op sewentien skool moes verlaat en nie ‘n woord Engels verstaan nie. Vir solank as wat hy die stukkie land het, is alles die moeite werd.
Sy pa wat hom van hulle plaas af gejaag en as ‘n nikswerd opgeteken het, die lang dae in die weermag en die traumatiese gevegte op die grens.
Selfs hoe hy sy vrou en dogter met tye afgeskeep het in sy reis om uit die put van minderwaardigheid te klim.
André sidder as hy daaraan dink om soos sy pa te word. Dieselfde passie vir boerdery vloei in hulle are – maar André het homself belowe dat syne uit liefde sal kom en nooit uit perfeksionisme nie.
Terwyl die laaste sonstrale aan die heuwels lek, belowe André homself weereens om al die liefde in sy hart te deel met die mense aan sy sy. Mag hierdie passie in hom nooit belangriker as dit raak nie…
Hede.
Die prentjie van Oupa in my kop moes met tyd verander. Hy is nie die wolf wat dit bedoel om ons familie uitmekaar te skeur nie.
Hy is net ‘n man met ‘n storie agter die mure van sy hart.
Amè Breytenbach
Amé is lief vir lees, dans en tyd saam met haar gesin spandeer. Sy sal altyd oplossings vir ‘n probleem probeer vind, al flop dit partykeer.