‘Nie nog ’n leesperiode nie…’

[Mieke Verster]
Alhoewel 2025 klaar baie verrassings vir die leerders van DF Malan (of sal ek sê DF Akademie) ingehou het, was leesperiodes definitief nie op enige van ons bingo-kaarte nie. Hierdie periodes is geskep uit die goedheid van die DF-personeel se harte, maar hoe voel die leerders daaroor?


Leesperiodes is aan die begin van 2025 by DF bekendgestel, met die hoop om kinders se algemene kennis, sowel as hul liefde vir lees, te bevorder. Daar word elke oggend gelees van mense se lewensverhale, soos dié van Novak Djokovic, Eva Perón, Vincent van Gogh en vele meer, en elke oggend word ons geskok deur hoe min mense hierdie bekende name ken. Alhoewel daar steeds leerders is wat hierdie periodes gebruik om te kyk hoe baie jipklikkies hulle op Instagram gekry het of om die nuutste stories by hul vriende uit te vind, is daar wel sommige Dee-Effers wat die waarde van hierdie periodes insien. Hier word die koring van die kaf geskei.


Dit is min dat jy ’n graad nege- en matriekleerders sien saamstem oor enige iets, maar Emma Steffen, Mia Blaauw en Carene Wiggens hamer definitief op dieselfde aambeeld met hul opinies oor die leesperiodes.


“Uit my ervaring is die nuwe leesperiodes ’n effektiewe manier om Dee-Effers se leesvermoëns, sowel as hul algemene kennis te verbeter. Dit is ’n geleentheid vir verryking vir elkeen met ’n leergierige ingesteldheid. Baie leerders mag dit dalk egter meer geniet om eerder te lees oor aktuele wêreldkwessies, maar as ’n geheel is dit ’n uitstekende inisiatief in die skool.”


“Ons onderwysers het ’n probleem raakgesien en dit probeer aanspreek, maar die oomblik as jy vir ’n tiener sê dat hulle iets móét doen, gaan hulle nie wil nie. Ek dink ook dit sal baie meer effektief wees as elke graad ’n leesstuk kry oor sommige van die struikelblokke in hulle lewens. Ek weet byvoorbeeld glad nie hoe om na matriek alleen te bly of hoe om met geld te werk nie, terwyl dit iets is wat ek deur ’n leesstuk beter begrip oor kon kry.”


“Ons leesstukke fokus baie op universele onderwerpe, maar ek dink dit sal kinders baie meer bevoordeel as ons byvoorbeeld meer op ons eie land se stories en nuus fokus. Ja, dit sal dalk bietjie meer vervelig wees, maar om te weet wat jou land se ekonomiese status is en hoe ons land gaan lyk oor tien jaar is net so, indien nie meer belangrik as om te weet wanneer Djokovic sy eerste Grand Slam gewen het nie.”


Sommige van ons graad tien- en elfleerders voel ook dat hierdie leesperiodes nie op die ooblik effektief genoeg gebruik word nie.


“Dit sal dalk meer voordelig wees as die leesstukke handel oor onderwerpe waarin die leerders belangstel, want baie van die vrae is verskriklik eenvoudig en ʼn mens leer amper niks daaruit nie. Aan die ander kant kan dit ook voordelig wees, want dit dwing die leerders om te lees, maar hoe weet ons almal lees dit werklik?”


“Ek weet baie mense lees nie eintlik in leesperiodes nie, en ek is self ook soms skuldig, maar ek probeer om so af en toe in te neem wat in die leesstukke staan. Ek voel sterk daaroor dat ’n goeie oplossing kan wees dat die stukke verkort word en deur mense geproeflees word óf dat leerders ’n keuse het tussen die verpligte leesstuk en hul eie leesboeke.”


“Ek glo dat die leesperiode tyd is wat verlore gaan. Die 15 minute wat gebruik word om te lees, gaan nie ’n groot genoeg verskil maak in leerders se woordeskat en taalgebruik nie en die meeste leerders vergeet ook onmiddellik wat hulle gelees het, so dit verhoog ook nie algemene kennis nie.”

Ons sien wel dat die leesperiodes groot sukses by ons graad agts en neges het, deur Lynn-Marie Louw en Klia de Jager se opinies.
“Ek dink dit werk baie goed. Dit help my om met meer begrip te lees en te fokus op die kleiner aspekte van ’n storie, wat veral belangrik is wanneer jy ’n toets skryf of net lees in die algemeen. Dit is beslis die moeite werd.”


“Ek dink leesperiodes maak definitief ’n verskil, veral in die jonger grade. Dit help met begrip en konsentrasie en dit gee vir ons ’n rustige begin aan ons dae. Ek sien hoe party leerders lees meer begin geniet en hulle algemene kennis meer verbreed.”


Al is daar uiteenlopende opinies oor leespeiodes van ons Dee-Effers, kan hierdie periodes met ’n paar veranderinge ontwikkel in nog ’n Grand Slam idee vir DF. DF-onderwysers, die bal is nou aan julle kant van die baan.

Mieke Verster

Mieke se gunstelingstokperdjies is om netbal te speel, boeke te lees en om vir 6-jariges gimnastiek af te rig. Haar vriende en familie beskryf haar as entoesiaties en gedrewe en sy pak enige uitdaging met selfvertroue aan.