[Isabella Huisamen]
We Were Liars is ʼn TV-reeks wat definitief aan die hart se snare roer.
We Were Liars bring die jeugroman deur E. Lockhart na ons skerms. Die reeks speel af op die Sinclair-familie se pragtige, private eiland. Hier word trauma en liefde diep ervaar en die waarheid word ontbloot.
Cadence Sinclair, die hoofkarakter, het ʼn traumatiese ongeluk wat tot geheueverlies gelei het, beleef. Haar familie word aangeraai om haar nie oor die detail van die ongeluk in te lig nie, want dit kan ʼn gevoel van skuld by Cadence skep. Cadence se doel tydens haar vakansie is om uit te vind wat werklik gebeur het en hoekom niemand haar wil vertel nie. Sy pak die avontuur saam met haar niggies en nefies, wat ook haar beste vriende is, aan. By die draaipunt van die reeks word die waarheid ontbloot en kykers word in trane en skok gelaat.
We Were Liars bestaan uit een seisoen van ag episodes, wat elkeen ongeveer ʼn uur lank is. Die reeks verken temas oor familieprobleme, onsekerheid, tienerliefde en angs. As jy ‘n aanhanger van Outer Banks is, sal jy beslis van We Were Liars hou, aangesien dit ook oor tieners gaan wat saam grootword en moeilike take aanpak.
Die akteurs en aktrises in We Were Liars is nie baie bekend nie, maar dit is interessant om ʼn groep vars gesigte op die skerm te sien. Hulle is jong volwassenes en dus kry hulle dit reg om tieners se gevoelens vas te vang en effektief oor te dra. Hulle kom voor as mense waarmee jy kan vereenselwig. Dit maak die reeks net soveel meer geloofwaardig en dit laat toe dat die hartseer oomblikke in die reeks rou voorkom as gevolg van die simpatie wat by die kykers geskep word.
Die grootste kritiek wat We Were Liars ontvang, is dat sekere kykers die episodes langdradig vind. Hulle voel dat die storielyn te lank vat om interessant te raak, maar tog bevat dit van die onverwagste draaipunte wat die meeste kykers al beleef het. Dit is wel die moeite werd as jy geduldig is en van stories met skokkende eindes hou.
As jy een van daardie kykers is, gee gerus vir We Were Liars ʼn kans om jou in totale verbasing te laat.
Isabella Huisamen
Isabella is mal oor hokkie en swem. Wanneer sy nie besig is op die sportveld nie, spandeer sy tyd met haar hond.