[Jurgen Steyn]
Die Departement van Basiese Onderwys (DBO) het ‘n besluit geneem om kodering en programmering ‘n groter deel van leerders, vanaf graad R tot graad nege, se kurrikulum te maak. Dit is ‘n nuwe fase van onderwys wat vir leerders digitale vaardighede kan aanleer, soos digitale geletterdheid, virtuele werklikheid, aanvullende werklikheid, masjienleer en hoe kunsmatige intelligensie werk.
Die doel van die program is om vir leerders probleemoplossingsvaardighede aan te leer en om kreatiwiteit en rekenaardenkvaardighede te verbeter. Maar wat kan dit vir leerders beteken? En gaan dit hulle regtig help in die lewe? Wel, om te begin, kan dit beroepskeuses en geleenthede vir baie leerders uitbrei en vermeerder, en dit verminder ongelykhede tussen leerders van alle agtergronde, omdat dit vir almal ‘n geleentheid bied om tegnologies te vorder. Behalwe vir die beroepe wat dit skep, kan hierdie deel van die kurrikulum ook leerders se logika, probleemoplossingsvaardighede en patroonherkenning verbeter, wat alles noodsaaklik in ons moderne, digitale samelewing is.
Dit is alles baie positief, en feitlik noodsaaklik om te kan regkom in vandag se wêreld, maar soos alles wat te goed klink om waar te wees, kom hierdie nuwe veld van onderwys ook met probleme. Een van hierdie probleme, is dat die meeste onderwysers self nie tegnologies gevorderd of opgelei is nie, of dat skole wat nie rekenaars, internet of elektrisiteit kan bekostig nie, agter sal raak. Nog ‘n probleem is dat die kurrikulum klaar oorlaai is en kodering sal dus net nog druk daarop plaas, wat ander belangrike vakke kan benadeel.
Daarom, as die nuwe stelsel reg geïmplementeer word, en alle skole toegang tot die nodige hulpbronne kan kry, sal dit moontlik een van die belangrikste en beste besluite wees wat die DBO al ooit geneem het. Maar as hierdie struikelblokke nie oorkom kan word nie, sal dit ongelykhede kan vererger, en as dit heeltemal sou misluk, sou dit ‘n massiewe vermorsing van tyd, hulpbronne en geld wees.
Jurgen Steyn
Jurgen is ‘n passievolle kok en permanent geboei deur sy gunstelingaksieboeke. As hy nie binnenshuis besig is nie, speel hy gholf of hy ry padfiets. Jurgen se gunstelingskoolvakke is Engels en wiskunde.