Ons vir jou Suid-Afrika

André Venter

Die matroos het die mooiste beeld eerste gewaar.

Hy kyk na die sterk klip wat voor hom staan. Groter as rots en so plat soos ‘n tafel. Na ‘n leeftyd op die see is die einde uiteindelik in sig vir die Drommedaris. 

Suid-Afrika, die asemrowende skip. Hierdie gaan ‘n florerende land wees. Hy gaan oor die grootste branders kan vaar. Hy gaan op wêreldskaalse vlakke handel dryf en die land gaan geboorte gee aan atlete ; sterker as díe van Athene. Dit sal leiers kweek wat revolusies gaan begin. O, die mooie land!

Wel, so het Kaptein van Riebeeck hul vertel…

Maar die matroos maak sy oë toe en sien beelde van die skynmooie land. Soos ‘n skip op onstuimige water, is die land naby aan sink. Hy sien kinders wat sterf van honger en dors. Mense wat hunker na die vleispotte van Egipte. Hy sien geld wat uit die behoeftiges se hande gegryp word. Mense se lewens word van hulle af weggeraap met die trek van ‘n sneller. Grootskaalse korrupsie word gepleeg. Die skip probeer sy mas bo water hou. Hoe kan die kaptein van die skip vir hom ‘n diamanttroon bou, as die slawe nie eers kan eet nie?

Die matroos kyk op na die berg wat voor hom staan en wonder, waar kom sy hulp vandaan?

Soos die matroos se skip vreesaanjaende storms oorleef het, net so sal die land ook. 

Dié wat vir jare en jare onderdruk is, het revolusies begin en die storm is getem. Droogtes het die nasie weer dankbaar gemaak vir wat hulle het en die sluise van die hemel het oopgegaan. Korrupsie is geopenbaar – die gekke, dwase, hebsugtiges en oneerlikes word agter tralies gedwing

Alhoewel die skip deur die donker, duistere dieptes gedobber het, het hy weer die lig gesien. Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie. 

Met ons land en met ons nasie sal dit wel wees, God regeer.

One Comment

Comments are closed.