Premier-hokkie: meisies met passie

[Mieke Verster]

Die premier-meisiehokkiespan werk baie hard om DF trots te maak en is passievol daaroor om hulle skool se naam hoog te hou. Famke Treu (kaptein), Carma Naudé, Karoline Bodenstein, Minke van Niekerk, Amelie Retief, Christie Janson, Emma du Toit en Emma Steffen vertel ons meer oor die lewe van ‘n premier-hokkiespanlid.

Hoe lank het jy geoefen om in die premierspan te kom?

Emma Steffen: Ek speel al my hele lewe lank hokkie, maar ek dink sodra jy in graad ag kom, begin DF-hokkie jou al voorberei vir die premierspan deur jou fiks te hou en jou vaardighede uit te brei.

Amelie: Ek speel al van graad een af hokkie, maar dit was nooit my hoofprioriteit nie. Dit was altyd tennis, tot in graad ag waar ek vir die eerste keer die A-span gehaal het en die spangees en liefde vir hokkie gevind het. Ek het in graad 9 in die onder 16A-span dit my doel gemaak om harder as die ander te oefen en my alles in te sit om die premierspan te maak.

Emma du Toit: Ek oefen my hele hokkieloopbaan al om in die topspan te kom. Dit het in 2021 my doel geword om in die premierspan te kom, so dus twee jaar.

Moes jy enige opofferinge maak om in die span te kom of te bly?

Minke: Ek speel al my hele hoërskoolloopbaan vir die meisieskrieketspan, maar moes dit die meeste van die tyd opoffer vir hokkie-oefeninge. Hokkie moet altyd jou eerste prioriteit wees in die span. 

Christie: Ek het in 2022 vlak 9 in artistiese gimnastiek bereik. Ek moes daardie jaar hokkie opgee om my laaste jaar van gimnastiek my alles te gee. Aan die einde van die jaar het ek somerliga gespeel en is gekies om saam Nederland toe te gaan. Ek moes met gimnastiek ophou, omdat ek nie beide kon doen nie. Dit was ‘n baie moeilike besluit, maar ek is baie gelukkig met my besluit!

Karoline: Ek moes ophou met dans (iets wat ek vir 10 jaar gedoen het), want my lyf kon nie beide sportsoorte hanteer nie.

Carma: Hokkie was nog altyd my eerste keuse, maar ek het in graad ag opgehou met tennis, omdat hokkie al my tyd opgeneem het.  

Watter karaktereienskappe benodig ‘n goeie hokkiespeler?

Famke: Aanpasbaarheid en goeie selfvertroue is wat ‘n premierhokkiespeler skei van ‘n ander span. Premierspelers moet ten alle tye hul beste kan gee en bereid wees om heeltyd uit hul gemaksone te kom. Baie spelers wil graag in die premierspan wees en daar gaan baie kommentaar oor jou spel gelewer word. Jy moet genoeg selfvertroue hê dat dit jou nie affekteer nie en dat jy teen sterk spanne kan speel sonder om te swig onder druk.

Emma du Toit: Hulle moet dissipline en deursettingsvermoё hê en ook hardwerkend wees.

Minke: Die karaktereienskappe wat ‘n goeie hokkiespeler maak, is iemand wat passie het. As jy passie het vir die sport en die span, is jy dadelik ‘n beter hokkiespeler as iemand wat nie passie het nie. Positiwiteit is ook ‘n goeie karaktereienskap, want as daar byvoorbeeld ‘n doel ingaan en jy raak negatief, dan speel jy slegter as die persoon wat positief is en aanhou speel tot die eindfluitjie blaas. 

Christie: Iemand wat doelgerig en ‘n spanspeler is.

Watter karaktereienskappe gaan teen jou tel as ‘n hokkiespeler?

Karoline: Sodra ‘n speler nie die res van die span vertrou of respekteer nie, sal dit die span negatief beïnvloed. Die span is ‘n eenheid en as daar ‘n speler is wat negatief is of nie inkoop in die span nie, sal die span negatief beïnvloed word. 

Amelie: Ongeduld, iemand wat nie goed luister of bereid is om te leer en hard te werk nie.

Famke: Slegte eienskappe is slegte tydsbestuur, arrogansie en bang wees.

Na wie kyk jy die meeste op in jou span en hoekom?

Karoline: ⁠Ek kyk op na Carma, want sy is iemand wat deursettingsvermoë het en passie en liefde vir die sport toon. Jy sal nooit vir Carma vang kla oor enige iets nie en sy sal altyd uit haar pad gaan om enige iemand te help en ondersteun. Tydens wedstryde gee Carma altyd alles en dit motiveer my ook om myself verder te druk. 

Christie: Megan is ‘n positiewe speler op en van die veld af. Sy is baie fiks en druk almal om hulle beste te doen. Ek kyk baie op na haar. 

Emma Steffen: Ek kyk die meeste op na Liné. Sy is ‘n ongelooflike hokkiespeler, maar belangriker as dit, is sy ‘n ongelooflike mens. Ek voel ek kan baie by haar leer op en van die veld af en daarom is sy een van my grootste rolmodelle.

Carma: Almal in die span het ‘n ander persoonlikheid en dit bind ons span, so elke dag is daar iemand anders na wie ek opkyk!

Famke: Ek kyk die meeste op na ons goalie. Sy is briljant en hou aan met dieselfde dryfkrag, al is daar vyf balle verby haar.

Hoe was jou ontgroeningsproses?

Emma Steffen: Ek is tans steeds besig om ontgroen te word. Die juniors mag nou al vir amper twee maande nie ons beenhare skeer nie en ons oefen met ons hokkiehemde verkeerde kant om. Die juniors word na verwys as “paddas” en ons moes 14 verskillende groete geleer het, wat ons moet doen wanneer ons elkeen van die seniors by die skool sien. Ons mag ook nooit by enige deur in- of uitstap voor al ons seniors nie het nie.

Minke: Die ontgroening was langdradig. Toe ek ‘n pj of promising junior was, het daar baie goed met ons gebeur. Ons moes omtrent elke toernooi ‘n konsert hou vir ons afrigters en seniors met verskillende onderwerpe elke keer. Die proses het aangehou tot ons gedoop is as ‘n premierspeler tydens ‘n baie interessant ritueel, waaroor ek eerder nie sal uitpraat nie. Jy moet ‘n premierspeler wees om dit te beleef. 

Voel jy ooit dat ander jaloers is dat jy in die premierspan is en hulle nie?

Famke: Ek voel nie hierdie jaar so nie, maar in graad 10 het ek. Baie van my vriendinne is hokkiespelers, so kompetisie is groot tussen almal.

Carma: Nee, ek dink glad nie so nie. Ek voel DF se hokkiemeisies is ‘n klomp meisies wat liefde, passie en trots vir dieselfde ding het en ons almal het dieselfde doel en dit is om DF se hokkie te versterk. 

Amelie: Soms. Ek voel aangesien ek die jongste een in die span is, dat daar baie druk is om myself te bewys.

Hoe dink jy verbeter jy jou span?

Minke: Ek dink ek verbeter die span deur my positiewe houding. Ek probeer altyd positief bly met my spanmaats, maak nie saak wat die omstandighede is nie. 

Famke: Ek hoop my span kan saamstem, maar ek voel ek bring eenheid in die span. Ek probeer om die gapings tussen die juniors en seniors te verklein en sekere spelers wat mekaar nie so goed ken nie bymekaar te bring. Ek hou ook die span se energie hoog en sal altyd ‘n grappie probeer maak in moeilike tye. Dit is vir my belangrik dat ons nie net ‘n span is nie, maar ‘n familie.

Carma: Ek is die persoon wat altyd luister as iemand iets op die hart het. Ek probeer altyd probleme oplos en probeer ook altyd die regte antwoorde hê.

Wat gee jou daardie laaste bietjie energie aan die einde van ‘n wedstryd?

Emma du Toit: ⁠My span gee my die laaste bietjie energie asook die gevoel om vir my skool te speel.

Emma Steffen: Ek dink my grootste motivering om goed te speel, is om my span en my skool trots te maak. Dit is ‘n enorme eer om my skool te kan verteenwoordig op die sportveld, so dit motiveer my definitief om my beste te gee en ek wil natuurlik ook nie my span in die steek laat nie.

Amelie: Jesus is altyd by my en het my so ver gebring in my hokkieloopbaan en die enigste rede hoekom ek hier is, is as gevolg van Hom.

Karoline: Aan die einde van ‘n wedstryd, wanneer jy alreeds fisies en emosioneel baie gegee het, deur te kyk na my spanmaats en te luister na my afrigters, gee my die energie om ‘n wedstryd sterk te eindig. Om te speel vir my spanmaats sowel as vir die wapen op my bors, laat my harder speel.

Hierdie meisies staan bymekaar deur dik en dun en jy kan werklik die liefde in die span voel. Ondersteun hulle asseblief langs die veld en kom ons gee dié meisies die liefde wat hulle verdien.


Mieke Verster

Mieke se gunstelingstokperdjies is om netbal te speel, boeke te lees en om vir 6-jariges gimnastiek af te rig. Haar vriende en familie beskryf haar as entoesiaties en gedrewe en sy pak enige uitdaging met selfvertroue aan.