[Teané van der Merwe]
Wat het die Groot Koraalrif, Nemo en Dee-Effers met mekaar te doen?
Die grootste versameling van koraal is langs die ooskus van Australië geleë. Dit staan bekend as die Groot Koraalrif en strek oor 2 300 kilometer. In sekere areas is die koraalrif slegs 16 kilometer weg van die kus af. Die koraalrif huisves 1 600 verskillende spesies vis, insluitend anemoonvis waarvan ’n bekende voorbeeld Nemo van Finding Dory is.
Die koraalrif is ’n pragtige gesig. Die 400 spesies koraal waaruit hierdie koraalrif bestaan, maak ongelooflike foto’s. Bont kleure van koraal en aanskoulike visse maak dit gewild onder toeriste.
Die koraalrif is ’n Wêrelderfenisgebied wat beskerm word deur die United Nations Educational Scientific Cultural Organization (UNESCO). Ongelukkig is die koraalrif in groot gevaar, want aardverwarming veroorsaak dat die koraal sterf.
Die helfte van die koraal waaruit die Groot Koraalrif bestaan het, is reeds vanaf 1995 dood. Die koraalrif kan herstel indien die water weer begin afkoel, maar dit sal omtrent 10 tot 15 jaar neem vir die koraal om te vernuwe. Die optimale temperatuur vir die koraal om in te lewe is 26 of 27 grade Celsius.
Alhoewel aardverwarming ’n oorsaak is van die afsterwe van koraal, is dit nie die enigste rede nie. Koraal kan doodgaan as gevolg van storms en stygende seewatertemperatuur. Dalende pH-vlakke van die water, wat gebeur as gevolg van koolstofdioksied in die lug wat deur die oseaan geabsorbeer word, en die kwaliteit van die water in die oseaan wat verswak, het ook ‘n invloed op die afsterwe van koraal. Die kwaliteit van die water wat verswak, word veroorsaak deur sediment wat van plase naby die kus van Australië in die see inspoel. Baie van die oorsake van die afsterwe van die koraal word veroorsaak deur mense, op ‘n direkte of indirekte manier.
Die koraalrif benodig ons hulp. Ons kan help deur op te hou om fossielbrandstof te gebruik en eerder groener alternatiewe te soek. Ry dus eerder fiets of stap skool toe. Indien jy finansieel wil help, kan jy ‘n donasie maak aan organisasies soos die Reef Restoration Foundation, die Great Barrier Reef Foundation of Save the Reef.
Teané van der Merwe
As Teané nie by die krieketnette is nie, verslind sy leesboeke. Sy hou van nuwe resepte probeer en spandeer baie tyd by die perdeplaas.