Reën

[Emma Steffen]

Dit reën.

Die wolke bedek die lug soos ‘n sagte wolkombers.  Die ritmiese drup-drup van water teen die dak is soos koresang wat goeie tyding verkondig – dit is tyd om my stewels aan te trek.

Mamma sluit die voordeur vir my oop.  My stewels raas soos die gallop van ‘n resiesperd terwyl ek oor die houtvoorstoep jaag.  My eindstreep is die modderpoel in die middel van ons voortuin se enorme grasperk.

Met een groot sprong land ek in die poel en die modder spat oor my hele lyf.  Ek skaterlag terwyl die reën reeds besig is om my gesig skoon te was.  Ek gaan sit kruisbeen op die grasperk om verdere speletjies in die modder te speel.

Aan die ver punt van die tuin sien ek hoe Pappa haastig deur die spierwit hek inkom.  Hy dra sy deftige werkspak en probeer so gou as moontlik om onder die druppels uit te vlug.  Van die droë voorstoep af wink hy vir my en dan gaan hy in om vir Mamma met aandete te help.

Ek wonder stilletjies hoekom grootmense dan nie daarvan hou om in die reën te speel nie.

🞼 🞼 🞼

My kar staan stil langs die wit hek.  Ek stap die voortuin binne en die “te koop”-bordjie op die grasperk draai my maag onderstebo.

Stadig wandel ek tot op die voorstoep.  Die ou planke kreun toe ek op hulle trap.  Die verbleikte, outydse gordyne keer dat ek deur die vensters kan inloer.  Die voordeur lyk nie so groot soos wat ek dit altyd onthou nie.

My grasperk is verwaarloos.

Dit is nou al twee jaar sedert my pa se afsterwe.  My ma kan nie meer na haarself omsien nie.  Die huis is nou al vir ‘n jaar in die mark.  My huis is nou uiteindelik verkoop.  Hierdie plek van lag en ontelbare herinneringe – hierdie plek waar ek grootgeword het – moet ek nou in ‘n vreemdeling se hande oorlaat.

Ek stap vir ‘n laaste keer af tot op my grasperk.  Ek gaan sit kruisbeen.  Die donker kombers van wolke wat nou die lug omvou, is onheilspellend.  Die ritmiese drup-drup op die dak klink nou meer soos ‘n hartseer lied.  Vir ‘n laaste keer neem ek alles in en ek groet my tuiste.

Dit reën.

Emma Steffen