[Vasti le Roux]
Op 4 September 2025 is Romi Crawford aangewys as die wenner van die Huisgenoot se jaarlikse Mej. Tiener. Na talle onderhoude is daar steeds vrae wat ons brand om te vra.
Hoe het jy die besluit geneem om aan Mej. Tiener Huisgenoot deel te neem?
Juffrou Filmalter het my daarvan vertel nadat Mej. DF nie uitgewerk het nie, maar ek wou myself ook uitdaag en vir myself bewys dat ek dit kan doen. Ek wou myself dwing om in myself te glo en moed te hê.
Wat was die moeilikste deel van die kompetisie?
Daar was definitief oomblikke waar ek in myself getwyfel het en begin dink het: Hoekom het ek dit gedoen? Moes ek dit rêrig doen? Was dit die regte besluit? Maar ek het net vir myself bly sê dat die Here altyd ’n plan het en dat daar ’n rede is hoekom hierdie dinge alles gebeur het en dat ek net in myself moet glo. Die top tien was definitief waar ek die meeste getwyfel het of ek dit werklik moes doen, maar ek is so dankbaar dat ek bly glo het.
Watter advies sal jy vir enigiemand gee wat graag aan so ’n kompetisie wil deelneem?
Volhard in dit wat jy doen. Moet nooit opgee totdat jy nie bereik het wat jy wil nie. Al is die eerste uitkoms nie wat jy wil hê nie, hou aan en probeer weer.
Wat wil jy met die prysgeld doen?
Ek weet eintlik nog nie, maar ek sal dit definitief vir iets goeds gebruik.
(Romi het toe 15 minute later gesê sy wil ’n nuwe foon koop…)
Voel jy dat die feit dat jy gewen het, jou daaglikse lewe beïnvloed?
Ja en nee. Ja, want ek het natuurlik nou baie aandag by die media begin kry, maar ook nee, want ek is nog steeds die mens wat ek was. Ek het nie verander net omdat ek gewen het nie.
Watter vraag het jy verwag om gevra te word by ander onderhoude wat jy toe nie gevra is nie?
“Hoe wil jy die wêreld verander?”
So, hoe wil jy die wêreld verander?
Ek sou seker een van daai robotantwoorde gee, soos deur “Wêreldvrede!”
My laaste twee vrae het eintlik niks te doen met Mej. Tiener Huisgenoot nie:
Hoe voel dit om uit te stap en jou DF-ervaring klaar te maak?
Natuurlik baie hartseer om dit wat ek ken agter te laat, maar super opgewonde oor als wat volgende gaan kom.
Laastens, watter boodskap wil jy vir DF los noudat jy klaar is?
Dankie vir al die pragtige herinneringe en ervarings wat ek andersins nie sou gehad het nie. Dankie vir almal wat ek leer ken het en dankie vir die nuwe vriendskappe.
Vasti le Roux
Vasti is die grootste katliefhebber wat jy ooit sal ontmoet. Sy is mal oor lees, geskiedenis van enige aard, musiek luister, en het ʼn ongesonde obsessie met mediese dramas.
