Rotte: pelle of peste?

[Sandrine Steyn]

Die swart plaag vertoef soos ’n donker skaduwee oor die geskiedenis van Europa en Noord-Afrika. In sy versmorende greep is massas lewens verwoes: ’n geskatte 40% tot 60% van Europa se totale bevolking is uitgewis tussen 1346 tot 1353. Die ergste pandemie in menslike heugenis word wel nie vernoem na die donker tydperk nie, maar na die draer van die dodelike patogeen, die swart rot. 

Dit is nie juis uitdagend om ’n walglike prentjie van hierdie algemene geeltandknaagdier op te roep nie. ’n Gedierte met ’n vuil, grillerige voorkoms en ondenkbare gewoontes, ontwikkel uit die nood van oorlewing. Die beknopte, onhigiëniese toestande waarin die Europeërs hulself bevind het in daardie tydperk, was ideaal vir die vinnige aanteel van die swart rot. Vlooie en luise wat op die rotte gefloreer het, was die draers van die bakterie, Yersinia pestis, wat baie mense se dood veroosaak het. Deur die eeue heen het die swart rot die volle skuld gedra vir die die swart plaag en die spoedige verspreiding daarvan. 

Daar is egter eers onlangs beweer dat rotte moontlik nie die hoofoorsaak van die massauitsterwing was nie. Moderne navorsing toon dat mense wat luise en vlooie gedra het, direk verantwoordelik kon wees vir die spoedige verspreiding van die skadelike patogeen. 

Hierdie teorie is bewys deur ’n span navorsers verbonde aan twee universiteite, Oslo en Ferrara. Hul navorsing het bestaan uit eksperimente en wiskundige modelle van sterfterekords om te bepaal hoe die plaag in verskillende situasies in gemeenskappe sou versprei. Hierdie modelle van aansteeklikheid het getoon dat die siekteverspreiding veel vinniger deur mense, as draers van luise en vlooie, eerder as rotte, plaasgevind het. 

’n Paar eeue terug was daar min weerstand teen die ondraaglike pes, ektoparasiete. Goeie, algemene en persoonlike higiëne was nie ter sprake nie. Mense het nie gereeld gebad nie, en het boonop selde hul klere, beddegoed en besittings skoongemaak. Luise en vlooie het dus gewemel met lewe. 

Rotte het beslis hare op hul tande om deur al die eeue heen as ongewensde pes voort te bestaan. Die oorlewing van enige spesie word deur natuurlike seleksie bepaal. Rotte besit die nodige eienskappe om voort te bestaan en uitstekend aan te pas in hul omgewing.  Rotte is van die slimste diere ter wêreld. Hulle besit die vermoë om patrone te herken, roetes te memoriseer en probleme op te los. 

Verder behels hul intelligensie ook metakognisie. Wetenskaplikes het vasgestel dat rotte hul eie verstandelike prosesse en kennis kan assesseer en daarop kan reflekteer.  Hulle is dus bewus van die kennis wat hulle het of nog nie het nie om te bepaal of hulle iets kan doen. Bonop teel rotte ook maklik aan en kan al vrugbaar op die ouderdom van ses weke wees. Daarom kom hulle volop en byna regoor die wêreld voor, behalwe in Antarktika.

Ten spyte van die stigma wat aan rotte kleef, is daar menige diereliefhebber wat verknog is aan hul rotte. Sedert die 18de eeu is rotte gewilde troeteldiere. Hierdie unieke metgeselle is hoofsaaklik afkomstig van bruin rotte (Rattus Norwegicus). Hulle intelligense en liefdevolle geaardhede maak dat nou bande met hul eienaars gesmee word. 

Dus kan nie alle rotte oor dieselfde kam geskeer word nie. Is die neerhalende titel van vyand en ongerief dan volkome gepas?


Sandrine Steyn

Sandrine is ‘n passievolle danser en dol oor diere. Sy vind aanklank by vakke soos musiek en wiskunde en geniet die vermaak van ‘n boeiende boek. Vanjaar is sy in graad elf en neem graag deel aan Afrikaanse debat. Kom gesels (of argumenteer) gerus met haar!