[Lynn-Marie Louw]
Die media gons die afgelope tyd oor skole wat selfoongebruik tydens skooltyd verbied, maar soos alles in die lewe het elke storie twee kante. Wie trek op die ou einde die lyn tussen reg of weg?
Hier ’n lys van die verskeie voor- en nadele van selfoongebruik op die skoolgrond.
Voordele:
● Spaar papier
Nou hoef Juffrou nie 30 werkvelle uit te druk nie. Sy stuur net ’n foto op die klasgroep.
● Verskillende onderwysmetodes
Al is dit ’n Powerpoint-aanbieding op Google Classroom of ’n lekker Kahoot, leerders sal nooit weer klastyd omwens nie.
● Vinnige toegang tot inligting
In die haas van ons daaglikse lewe, val dinge soms voor, maar nou kan navorsing sommer tydens pousetyd gedoen word in plaas van die aand voor die inhandigingsdatum.
● Veiligheid
Selfone is handig wanneer planne verander of as iets skeefloop. ’n Selfoon kan lewens red.
Nadele:
● Verswakte konsentrasie
Leerders fokus soms meer op wat hulle volgende op Instagram gaan plaas as op akademie tydens en buite die skoolomgewing. Die selfoon kan dus leerders se akademie verswak.
● Ongelykheid
Daar is party studente met die nuutste fone en dan is daar dié met ouer weergawes. Dit spoor ongelykheid aan en kan lei tot uitsluiting.
● Afhanklikheid word aangespoor
Alles wat ons doen, is gebonde aan ons selfoon, soos alarms, skedules, jou beste vriend se nommer en selfs jou bankkaart. Hoe ver sal jy daarsonder klaarkom?
● Onttrek jou van die werklike lewe
Waar ons in die laerskool handjietennis en sokker gespeel het, is ons nou op TikTok en Instagram. Dit verhoed ons om mekaar beter te leer ken en vriendskappe te bou.
Het selfone ’n plek in DF? Met so ’n vraag is daar baie om in ag te neem: die omgewing, die ouderdom van die kind, maar aan die einde van die dag is dit net jy wat die lyn kan trek en besluit wie jy wil wees: Die een wat op sy foon besig is tydens klastyd of die een wat streef om beter te wees.
Lynn-Marie Louw
Lynn-Marie is ‘n boekwurm wat hou van kultuur. Sy hou van skryf en stories oor nonsens vertel.