Skoonheid sonder fieterjasies: ’n kitsgids tot kontemporêre velsorg

[Annika van Zyl]

Die wêreld van velsorg kan oorweldigend wees. Ons bevind onsself dikwels in ’n doolhof van serums, sure en aktiewe bestanddele met name wat selfs gesoute wetenskaplikes laat kopkrap. ’n Velsorgvertoonvenster kan maklik soos ’n chemie-eksperiment voel. Een verkeerde kombinasie en jou gesig slaan aan die brand.
Die doel van velsorg is egter eenvoudig: om jou vel gelukkig, gehidreerd en gesond te hou. Hier volg ’n kitsgids tot kontemporêre velsorgneigings wat tans die Instagram-tonge laat klap.

Beskerming: keramiede
Keramiede is natuurlike lipiede (vette) wat jou vel se beskermingslaag versterk. Keramiede hou ook vog binne, en bind en onderhou die struktuur van die vel.
Gebruik keramiede om jou vel se beskermingslaag te herstel en irritasie te kalmeer.

Elastisiteit: peptiede en koperpeptiede
Peptiede is kleiner weergawes van proteïene wat maklik deur die vel opgeneem kan word. Dit stimuleer kollageen vir ’n stewiger vel. Dit bevorder ook selvernuwing, verminder rooiheid en bekamp inflammasie. Koperpeptiede help met genesing, voorkoming van plooie en ’n verbeterde velstruktuur.
Gebruik peptiede wanneer jou vel fermheid verloor of fyn lyntjies begin wys.

Glans en helderheid: niasinamied en vitamien C
Niasinamied (’n afgeleide stof van vitamien B3) help om jou gelaat egalig te hou. Dit verminder ook inflammasie en hiperpigmentasie. Dit word verder aanbeveel vir die behandeling van inflamasie en velkondisies soos rosacea. Vitamien C is ’n kragtige antioksidant wat jou vel se natuurlike verdediging teen oksidasie versterk. Oksidasie gebeur wanneer jou vel beskadig word deur die son, besoedeling of stres. Dit breek kollageen af en laat jou vel dof agter.
Gebruik niasinamied en vitamien C wanneer jou vel dof of onegalig lyk en jy ekstra beskerming teen besoedeling nodig het.

Hidrasie: hialuroonsuur
Hialuroonsuur is ’n natuurlike stof wat met kollageen en water verbind om jou vel sag en gehidreer te hou. Die molekule kan tot 1 000 keer sy eie massa in water stoor en tree soos ’n spons op. Omdat dit vog in jou vel vaskeer, help hialuroonsuur om fyn lyntjies en plooie te verminder. Jy vind hialuroonsuur in serums, oogdruppels en selfs aanvullings.
Gebruik hialuroonsuur wanneer jou vel droog of vaal voel. Dit hidreer, herstel en kalmeer jou vel vinnig.

Voeding: squalane
Squalane is ’n olierige maar ligte stof wat natuurlik in jou vel voorkom. Dit hou vog in sonder om vetterig te voel. Dit is ideaal vir droë of sensitiewe velle.
Gebruik squalane wanneer jou vel droog of dof voel. Dit verleen sagtheid, vog en ’n gesonde glans.

Vernuwing: retinoïede (vitamien A-verbindings)
Retinoïede versnel selvernuwing, verminder fyn lyntjies en verbeter veltekstuur. Die sleutel lê daarin om stadig te begin terwyl jou vel gewoond raak aan die aktiewe bestanddele. Retinoïede kan irritasie veroorsaak en moet altyd saam met sonskerm gebruik word.
Gebruik retinoïede wanneer jy jou vel gladder wil maak en wil vernuwe. Dit verminder plooie en gee ’n vars, jong voorkoms.

Oggendroetine:

  1. Sagte reiniger
  2. Niasinamied of vitamien C
  3. Hialuroonsuur vir vog
  4. Ligte bevogtiger
  5. Sonskerm (jou belangrikste stap!)

Aandroetine:

  • Reinig jou vel
  • Hialuroonsuur of peptiede (vir herstel)
  • Retinoïed (2 tot 3 keer per week)
  • Bevogtiger of squalane-olie vir ekstra voeding

In Suid-Afrika sal plaaslike apteke en kettingwinkels hierdie formules verkoop met pryse wat varieer tussen R200 tot R400, afhangend van die handelsmerk.
Velsorgsukses lê in die kombiansies. ‘n Reeks soos The Ordinary se webblad bied mengwenke wat by jou unieke veltipe pas. Onthou: die doel van velsorg is nie om perfek te wees nie, maar om jou vel gelukkig, gehidreer en gesond te hou.

Annika van Zyl

Annika is altyd op ‘n drafstap en geniet atletiek, seevakansies en ‘n boeiende speurverhaal. Sy is vanjaar in graad 10, Hoërskool DF Malan is haar hart se punt en tyd saam met vriende en familie is vir haar kosbaar.