[Annika van Zyl]
Is jy gereed vir ‘n onderwateravontuur soos min? Gespe jou snorkel vas en reis saam deur koraal, kreef en kabeljou.
Alhoewel dit nie naastenby so tegnies en uitdagend soos diepseeduik is nie, het snorkel sy eie uitdagings. Hier is die lysie wat jou eerste snorkel-ervaring se sjarme sal laat voortleef.
Stap 1: ‘n Jas wat stewig pas
Maak seker jou duikbril, snorkelmondstuk en vinne pas perfek. Jy wil lekkasies en lospassende vinne vermy. Sou jy verkies om die water met ‘n kleiner duikbril aan te durf, sal ‘n neusknippie baie handig te pas kom.
Stap 2: Toewasem-tameletjie
Smeer ’n druppel babasjampoe in jou duikbril. Só verhoed jy dat jou bril toewasem of jou oë brand.
Stap 3: Bly bo
Trek jou vinne eers in die vlak water aan – anders koop jy dalk grond op die strand.
Stap 4: Skop stadig
Dryf eers rustig bo die water en oefen só om asem te haal. Skop stadig, sonder om die seelewe te versteur.
Stap 5: Knibbelkouse
‘n Klein vissie kan miskien aan jou knibbel of ‘n krappie kan aan jou knyp, maar bly kalm. Jy is nou in húlle wêreld en dit is asemrowend.
Stap 6: Waak waar jy trap
Maak seker jy trap nie op die koraal nie. As jy sou moeg raak, vind ‘n lappie sand om op te staan waar jy die koraal nie kan beskadig nie.
Stap 7: Moenie jou vingers verbrand nie
Maak seker dat jy gereeld sonroom aansmeer, veral op jou rug. Koue water is bedrieglik as dit by sonbrand kom.
Op ons voorstoep lê Windmill-strand naby Simonstad. Dit is ҆n perfekte snorkelgebied vir beginners. Daar sal jy kalm water, kleurvolle visse en selfs ҆n wegkruippikkewyn of twee vind. Verder van die tuisfront, lê Mauritius met sy swarttip-rifhaaie en papegaaivisse. Dan kry jy ook die Maldives en Seychelles se enorme seeskilpaaie – elke seeavonturier se droom.
Die Herout hoop om alle Dee-Effers binnekort in die snorkelwaters te sien, besig om die onderwaterwêreld verder te verken.
Annika van Zyl
Annika is altyd op ‘n drafstap en geniet atletiek, seevakansies en ‘n boeiende speurverhaal. Sy is vanjaar in graad 10, Hoërskool DF Malan is haar hart se punt en tyd saam met vriende en familie is vir haar kosbaar.