Kaylin Grobler
Ek kyk op. Skerp geel lig verspoel my oë.
Die strale sny deur my kop. Ek kyk weg.
Dit brand en ek vryf my ooglede.
Soos ’n trop hiënas
bekruip
swart en pers en groen spikkels my pupille. Dit dreig om my sig te oorval — maar dit doen nooit nie.
Die waarheid, soos die son: ’n Mens kan dit nie miskyk nie. En dis skerp en dit brand en die UV maak my angstig. Maar die waarheid roep my terug. En dis helder en dis warm. Die Lig verwelkom my. Die son skyn.
Daar is sondruppels in my oë — en met die glinster van my trane kan ek net
een
stappie
voor
my
kyk.
Maar die Son lei my, want dit is Lig.
En met die glinster in my oë kan ek die Waarheid sien.
Laasjaar Februarie is my ma gediagnoseer met fase IIIC ovariële kanker.
39% van vroue wat met hierdie kanker gediagnoseer word, het ‘n lewensverwagting van vyf jaar. My ma het ’n histerektomie gekry en vir ses maande chemoterapie ontvang. Ná hierdie ses maande het die skanderings gewys dat daar nog baie kanker tussen haar organe versprei het.
Die dood het gedreig om my ma stukkie vir stukkie op te eet. Dit was ’n donker tyd. Ek kon dit nie juis herken nie, want ek kon nie die lig onthou nie. As ‘n mens kyk na die ses fases van rou, het ek die langste in ontkenning rondgehang. Maar na ’n ruk kan jy nie meer die waarheid in die wolke wegsteek nie.
Wat vir my baie mooi was om te beleef, was (en is) die Here se goedheid in hierdie tydperk. Ons hele gesin kon Sy warm liefde by ons voel. Hy is die Waarheid en die Lig. Ons kon voel hoe Hy ons lei op die pad en is soos ‘n Lamp voor ons oë. Die toekoms was onseker, maar die ewigheid was nie. Daar het soveel gebeure hieruit gevloei, wat my wildste drome en wense oortref het.
Op 7 November, het my ma ingegaan vir ‘n sewe uur lange operasie met skanderings wat wys dat haar ingewande vol kanker is. Die doel daarmee was om net sommige kanker uit te sny om sodoende haar lewenskwaliteit te verbeter. Twee ure in die operasie in, het die chirurge gebel om te vertel dat hulle byna geen kanker kon vind nie. Nóg ses weke later en ons sit met skanderings wat wys dat my ma sonder kanker is — iets wat in die mediese wêreld byna onmoontlik is in haar situasie.
Ons het die voor-gehoopde uitkoms gekry: ’n kort pad om te stap en my ma wat gesond raak. Maar ek weet daar is mense wat nie altyd so bevoorreg is nie — en iets wat ek besef het, is dat ’n mens se omstandighede, wat buite jou beheer is, niks sê van wie jy is nie. Ons weet nie altyd hoekom die Here, vir dié wat in Hom glo, doen wat Hy doen nie. Ons weet wel dat Hy alles met Sy wyse hande beheer.
Ten slotte: Ons almal het pilare in ons lewe waarop ons staatmaak vir sekuriteit. Hierdie pilare kan finansiële stabiliteit, gesondheid of goeie verhoudings wees. Partykeer word hierdie pilare neergeslaan.
Dit verkrummel stukkie vir stukkie of soms stort dit inmekaar. Sonder enige waarskuwing – doef. Ons verloor ons balans. Ons tref die vloer hard. Maar dit is in tye soos hierdie, waar ‘n mens rock bottom tref, waar ’n mens besef Wie die werklike Rots is. En met ons voete op die rots kan ons kyk na die Lig — hoop vir almal (insluitend JY)!
Psalms 121:1-2
Ek slaan my oë op na die berge, waar sal my hulp vandaan kom? My hulp is van die HERE wat hemel en aarde gemaak het.