[Andrea van Wyk]
“It never ceases to amaze me: we all love ourselves more than other people, but we care more about their opinions than our own.” – Marcus Aurelius
Volgens die DSM-5 (Diagnostic and Statistical Manual of mental disorders) word sosiale angs gedefinieer as die intense vrees om negatief beoordeel of verneder te word in sekere sosiale situasies, wat dikwels lei tot óf die vermyding daarvan óf die angs-gevulde verduring daarvan.
Ek het laas jaar spesifiek vreeslik gesukkel met sosiale angs – my ekstreme angs was basies ‘n normale deel van elke skooldag. My gedagtes was heeltyd gevul met bekommernisse oor ander se menings. Hulle dink ek is vreemd, Hulle dink ek is awkward, Hulle lag vir my. Dit het nooit ooit na enige iets goed gelei nie, net na talle angsaanvalle.
Gedurende die Desember-vakansie het ek oor sekere gebeure wat in die jaar plaasgevind het, nagedink. Ek kon logies daaroor dink en ek het toe tegnieke gevind om my te help met sosiale angs en het dit grotendeels oorkom. Ek wil graag my tegnieke hier deel met die hoop dat iemand anders ook baat hierby sal vind:
- Besef en erken
Dit mag dalk voor die hand liggend klink, maar dit is van kardinale belang dat jy besef dat jou gedagtes en mindset moet verander: Dit is die begin van jou pad na genesing. Selfs as dit vir jou moeilik is om sosiale angs te oorkom of as dit voel dat jy nêrens kom nie, onthou dat jy dan ten minste alreeds óp die pad is.
- Probeer om jou situasies van buite af te sien
Julienhimself, ‘n motiveringspreker op Instagram het vir my in een van sy video’s hierdie waardevolle les geleer. Hy het dit met betrekking tot ‘n bekende storie oorgedra:
Daar is ‘n bekende episode in Friends waar Ross Geller vir homself ‘n leerbroek koop. Hy kyk ‘n fliek saam met iemand wat hy nog nie goed ken nie en terwyl hulle so sit en kyk, begin hy vreeslik warm te kry as gevolg van hierdie broek. Hy gaan dan badkamer toe en ruk die broek af sodat hy kan afkoel. Wanneer hy dit weer probeer aankry, besef hy dat hy nie kan nie en die angs word duidelik sigbaar op sy gesig. Hy bel sy vriend in hierdie toestand van paniek en dié gee hom dan die raad om poeier en later room te gebruik sodat hy sy broek kan aankry, maar sy pogings bly onsuksesvol. Op die ou end gee hy moed op en stap met sy broek in sy hand by die deur uit.
Julien het toe gesê dat alhoewel dit vir die gehoor ‘n skreeusnaakse episode was wat almal onbedaarlik laat lag het, kan jy dink hoe die situasie vir Ross moes wees? Dit was ‘n verskriklike angswekkende situasie en as jy meer aandagtig na die episode kyk, kan jy sien dat hy baie angs ervaar het – maar die mense buite sien dit nie so nie. Hulle sien net die snaakse aspek daarvan.
As jy kan probeer om in jou Ross-oomblik jouself in die gehoor se skoene te plaas, sal jou situasie skielik minder ernstig voel. Dit maak hierdie aanhaling so waar: “We suffer more in imagination than in reality.” – Seneca
- Werk aan jouself
‘n Lae selfbeeld is die penwortel van sosiale angs– Dit anker sosiale angs binne jou. Dis iets wat ek eers laat besef het. My fake-it-’till-you-make-it-houding het my angs baie versterk, omdat ék geweet het dat ek glad nie so kalm en in beheer was soos wat ek probeer voorkom het nie. Ek het altyd eerder ‘n front opgesit in plaas daarvan om myself innerlik te verbeter, want ek het gedink dit was die oplossing – dit was nie. Jy moet aan jouself wérk:
Leer nuwe vaardighede, ontwikkel stokperdjies, besef waarvan jy hou en nie hou nie, wie vir jou goed is en wie ‘n slegte impak op jou verstandelike gesondheid het, ensovoorts. Dit sluit wonderlik aan by my volgende twee tegnieke:
- Druk jouself uit
Dit is by enige iets te doen met selfverbetering, van kardinale belang om jouself uit te druk. Dit help absoluut niks om te maak of jy oukei is as jy nie is nie – dinge gaan net opbou en opbou en uiteindelik ontplof. Om jouself uit te druk, help om sin te maak van hoe jy voel en hoekom jy so voel. Deur byvoorbeeld te skryf oor wat jy voel wanneer jy sosiale angs ervaar, maak dat jy meer logies oor jou situasie kan dink.
‘n Paar voorstelle oor hoe om jouself uit te druk (vir enige persoon): skryf in ‘n dagboek, foeter jou kussing, teken iets, slaan jou deur toe, skryf ‘n storie, luister klipharde musiek en sing saam.
- Volg die paadjie van hoekoms
Ek is seker ons almal het al die woorde dive deeper gehoor. Dit beteken net om dieper te kyk en dit is baie van toepassing op die oorkoming van sosiale angs. As jy in ‘n situasie is waar jy angs ervaar, vra vir jouself: Hoekom? Hoekom voel ek angstig? Hoekom sal hulle hierdie goed van my dink? Hoekom het hulle niks beter om aan te dink nie? Moet nooit die ontleding vermy nie.
- Wees realisties
‘n Onderwyser het my eendag in ‘n situasie geplaas wat vir my verskriklik vernederend was. Ek het gegló dat almal vir my lag en myveroordeel – My verleentheid was intens. Die situasie het vir wéke in my gedagtes gebly tot op ‘n dag waar dieselfde onderwyser iemand anders toevallig in presies dieselfde situasie geplaas het. Toe die gebeutenis plaasgevind het, het ek dit gehoor maar net aangegaan met my werk – Ek het eers oomblikke later besef wat pas gebeur het: niémand, nie eens ek, het omgegee oor die situasie nie. Ons was almal te besig met ons eie dinge.
Mense dink nie aan jou nie; hulle is te besig om oor hulself te dink.
Die volgende woorde sluit hierby aan: What I advise you to do is, not to be unhappy before the crisis comes… some things torment us more than they ought; some torment us before they ought; and some torment us when they ought not to torment us at all. We are in the habit of exaggerating, or imagining, or anticipating, sorrow. – Seneca
Sosiale angs kom van binne af. Ons is die skeppers van ons angs – Dit beteken dat ons daarvan ontslae kan raak. Ons kan onsself daarvan losmaak. Dit voel heel waarksynlik oorweldigend en moeilik, maar met tyd en moeite kan jy, nes ek, dit laat gaan.
Today I escaped anxiety. Or no, I discarded it, because it was within me, in my own perceptions – not outside. – Marcus Aurelius
Andrea van Wyk
Andrea (An3a) verteenwoordig ‘n gelukkige bondel energie. Jy sal haar heel waarskynlik langs die sportveld vind in haar noodhulphempie reg om enige besering te behandel – fisies of emosioneel.