Strategie, spanning en spantriomf

[Lisemarie van Dyk]

Het jy geweet dat daar ’n sportspan in DF is wat nog nie een keer in die afgelope vier jaar teen Bellville verloor het tydens Interskole nie? 

As jy van Clash of Clans, League of Legends of Minecraft hou, sal jy ook hierdie sport geniet. Dit is gebaseer op strategie, besluitneming onder druk, respek en sportmanskap.

Skaak, net soos enige ander sport, is fisies veeleisend, mededingend en spannend. ’n Hele uur se skaak brand net soveel kalorieë as ’n vinnige stap om die blok of ’n halwe sessie op die treadmill. Dit vereis ook konsentrasie en vaardigheid. Volgens Chess.com, is die roetine van ’n professionele skaakspeler net so veeleisend soos dié van ’n professionele atleet.

DF se skaakspan bestaan uit meer as 30 lede, waarvan die beste spelers die eerste en tweede skaakspan volmaak. Elke span bestaan uit ses lede en een reserwe, en hulle word  sedert die begin van die jaar afgerig deur juffrou Smit, wat ’n SA-skaakspeler was. 

Die eerste span is hierdie jaar eerste in hul liga en die tweede span is tweede in hul liga. Albei het deurgedring na die Top Schools-toernooi, wat op 1 en 2 Augustus plaasgevind het. 

Ek het in Julie ’n onderhoud met Ben Vermaak in graad 10 en Jean Kühn in graad 9 gevoer. Ek het ook ’n onderhoud gevoer met Inge Vermeulen in graad 11, wat al vanaf haar graad 8-jaar die kaptein van die skaakspan is en tans een van twee meisies in die span is.

Wanneer het jy met skaak begin?

Inge Vermeulen: Ek speel al skaak vandat ek in graad 2 was.

Jean Kühn: Ek het in graad 1 met skaak begin.

Ben Vermaak: Ek het in graad 1 geleer, maar eers in graad 8 begin speel.

Hoekom hou jy van skaak?

Inge: Ek dink dat dit ’n mens nogal baie in die lewe kan help. Die speletjie gaan oor strategie en dit kan ’n mens met baie goed help, byvoorbeeld met hoe om te beplan.

Jean: Ek geniet dit, want dis stil en ek kan aktief dink aan wat ek alles moet doen – en ek is goed daarin.

Ben: Dit verg baie strategie en daar is baie goed wat jy uit skaak kan leer. Daar is baie teorie wat jy moet leer om goed daarin te wees en dit is baie bevredigend om te sien hoe jou harde werk beloon word.

Wat is jou gunstelingopeningsbeweging?

Inge: Ek hou baie van die Sisiliaanse verdediging. As jou opponent nie weet hoe om daarteen terug te speel nie, is daar ’n goeie kans dat jy goed sal doen in die spel.

Jean: Ek sou sê die Caro-Kann vir swart en die Londen vir wit.

Ben: Ek speel gereeld met die Italiaanse opening.

Skaakopeninge lê die fondament vir ’n sterk, strategiese spel deur jou posisie te vestig, tyd te bespaar en jou strategiese begrip uit te brei. Dit word gewoonlik benoem volgens die geografiese ligging waar dit vir die eerste keer gewild geraak het, die naam van die eerste speler wat dit gebruik het of die eerste toernooi waarin dit prominent verskyn het.

Die Sisiliaanse verdediging is ’n aggressiewe manier om die spel te begin en help swart om vinnig aan te val. Die Caro-Kann is ’n stewige verdediging wat swart gebruik om veilig te bly. Die Londen-stelsel is ’n maklike en betroubare manier om jou stukke neer te sit. Die Italiaanse opening help om jou stukke vinnig te ontwikkel en druk op die teenstander se koning te plaas.

Wat is die beste wedstryd wat jy al gespeel het?

Inge: Ek het al ’n amazing comeback gemaak, waar ek my koningin verloor het en steeds gewen het. Ek sal dit nooit vergeet nie. My beste wedstryd was egter by WP-champs, waar ek teen een van die beste spelers gespeel het. Ek het verloor, maar dit was steeds ’n lekker wedstryd.

Jean: Ek sal sê my beste game was toe ek SA’s toe is. Ek moes teen ’n baie sterk speler speel en toe wen ek.

Ben: Ek het al een keer teen ’n Candidate Master gewen.

’n Candidate Master is die vierde sterkste FIDE-titel in skaak, na Grand Master, International Master en FIDE Master. FIDE is die Franse akroniem vir die Internasionale Skaakfederasie.

As skaak n fliekgenre was, watter een sou dit wees en hoekom?

Inge: Ek sou sê dat dit ’n riller sou wees, want daar kan so baie goed tydens die game gebeur wat ’n mens nie verwag nie. Daar kan iets soos ’n sacrifice wees om te wen of daar kan ’n oomblik wees waar jy agterkom dat jy nie gaan wen nie en heeltemal vas is.

Wat is die beste deel daarvan om deel te wees van DF se skaakspan?

Jean: Daar is nogal baie mense wat speel. Jou tipiese skaakspeler is gewoonlik ’n nerd, maar by DF is amper almal so, so dit voel asof jy meer inpas as jy ’n skaakspeler is.

Ben: Ons het ’n baie lekker gees by die skaakspan. Almal is gelukkig en almal ondersteun mekaar.

Hoe is dit om een van die enigste meisies in die span te wees? Word die sport definitief gedomineer deur seuns?

Inge: Ek sou sê dat daar definitief meer seuns as meisies is. By die toernooie sien ’n mens hoeveel minder meisies as seuns deelneem. Daar is egter steeds ’n goeie hoeveelheid meisies teenwoordig.

Hoe voel jy oor die toekoms van DF skaak?

Jean: Ek voel goed daaroor. Ek voel ons het ’n goeie skaakafrigter wat ons kan help en daar is ’n klomp jong spelers in die senior span met baie potensiaal.

Ben: Ons skaakspan het baie verbeter in die afgelope twee jaar en daar is baie juniors wat dit selfs nóg kan verbeter. Ek dink oor vier jaar gaan hulle ’n baie sterk span wees.

Wat sou jy vir mense sê wat dink dat skaak vervelig is?

Inge: Ek verstaan hoekom mense sê dat dit vervelig is – ek bedoel, jy sit daar in stilte en speel ’n bordspeletjie vir twee ure – maar as ’n mens net ’n bietjie moeite doen om uit te vind hoe dit werk en wat die doel is, kan dit eintlik baie interessant wees.

Jean: Dis baie anders as jy self speel en aktief dink. Dit is soos ’n bordspeletjie en dis eintlik baie lekker as jy dit ’n kans gee.

Ben: Mense wat sê dat skaak vervelig is, het dan nog nie eintlik skaak gespeel nie. Skaak kan jou angs baie verhoog en jy sweet nogal baie as jy skaak speel.

Watter raad het jy vir iemand wat wil begin om skaak te speel, maar nie weet waar om te begin nie?

Inge: My raad sal wees om maar met die basics te begin en om baie skaak-puzzles te doen. Dit help ’n mens om goed raak te sien, soos hoe om ’n stuk te wen of hoe om jou opponent in skaakmat te sit.

Jean: Leer net ’n basiese opening. Jy hoef nie baie te leer nie. Ken net ’n paar beginskuiwe, doen dan so ’n bietjie puzzles en speel met vriende. 

Ben: Vir elke move wat jy maak, moet jy net die ander speler mooi dophou en seker maak dat daar niks is wat jy mis nie.

Ander lede van die skaakspan raai aan dat as jy ’n beginner is, jy lesse moet neem en tot aksie gaan deur aan te sluit by DF se skaakspan. Die junior oefening is Woensdae 15:30 tot 16:30, waar juffrou Smit poog om die beginners op te lei. Nuwelinge wat bereid is om te leer en iets nuuts te probeer, is altyd welkom.

Lisemarie van Dyk

Lisemarie is mal oor musiek en wiskunde. Haar beste vriend is haar skeinatboek en jy sal haar gewoonlik by die naaste klavier opspoor.