Tikwoorde en trane op die rapport

[Mia Nel]

In die lig van hul skerms, veg leerders baie gevegte wat onderwysers nie altyd raaksien nie, soos kuberafknouery. 

Omdat hierdie aanlyn-teistering hulle oral volg, raak dit nie net leerders se emosionele gesondheid nie, maar ook hulle akademiese prestasies. Konsentrasie in die klas verminder, punte daal, en die liefde vir leer raak verlore. Maar hoe presies beïnvloed iets so klein soos ‘n selfoon leerders se rapportpunte?

Leerders wat oor die internet afgeknou word, voel 24% tot 35% meer angs, stres en lae selfagting teenoor leerders wat nie kuberafknouery ervaar nie. Dit het tot gevolg dat leerders se punte en konsentrasie daal. Hulle begin in hulself twyfel, wat hulle motivering en moeite met hul skoolwerk negatief kan beïnvloed. Studies het bewys dat afknouery en mishandeling een van die grootste redes is waarom leerders swak doen op skool en sukkel met konsentrasie. Kuberafknouery is dikwels die toprede, omdat dit so maklik is om te doen en omdat tieners elke dag beïnvloed word deur sosiale media. Jy kan ‘n vals profiel op sosiale media skep en negatiewe kommentaar lewer, terwyl niemand weet dat dit jy is nie. Tieners is dus meer geneig om aanlyn afgeknou te word as in die regte lewe.

Dalende akademiese prestasies is nie die enigste aspek wat deur kuberafknouery geaffekteer word nie. Leerders se geestesgesondheid word ook baie negatief beïnvloed. Kuberafknouery is ‘n internasionale probleem wat duisende leerders se emosionele welstand raak. Kuberteistering sluit dikwels liggaamskritiek of -bespotting, verspreiding van gerugte, bespotting van voorkoms en uitsluiting van vriendegroepe in. Hierdie afknouery laat leerders ‘n lae selfbeeld ontwikkel. Dit kan lei tot vermyding van nuwe ervarings, negatiewe selfspraak, middelmisbruik en selfmoordgedagtes.

Die woorde wat verskyn op ‘n selfoonskerm mag dalk vinnig getik word, maar die impak word vir lank gesien in die slagoffer en selfs hul rapport.

Mia Nel

Mia  is in gr. 8 en ‘n totale boekwurm wat verlore raak in ‘n goeie boek. Haar gunstelingkos is pasta en sy is mal oor groen.