Toemaar, dit is net ‘n bietjie bloed

Eileen J Vermeulen 

Na ’n lang dag ry jy en jou gesin huis toe. Uit die bloute verskyn ’n kar en veroorsaak dat julle motor bollemakiesies in die pad doen. In jou staat van semi-bewusteloosheid, sien jy net bloed. Na ’n jaagtog tot by die naaste hospitaal, word daar gesê dat hulle jou nie kan help nie. Daar is nie genoeg bloed om jou lewe te red nie.

Jy is deel van die vyf miljoen mense wat nie toegang tot ’n bloedoortapping het nie.

Bloed. Die rooi mengsel wat mense laat flou val of laat nader hardloop om te help. Ook die sleutel tot lewe. Die vloeistof wat lewe en dood bepaal en die sleutel tot een van die wêreld se grootste tekorte.

Volgens Biomedcentral, is 40% van die wêreld se ongevallesterftes as gevolg van pasiënte wat uitbloei. Dit wil sê, meer as 2,5 miljoen mense sterf weens bloedverlies. Dit is ’n groot probleem in die mediese wêreld. Gelukkig vir ons, is daar ‘n oplossing.

Bloedskenk is ’n veilige proses wat lewens red. Die konsep om bloed te skenk, is al in 1818 deur James Blundell ontwikkel en hy het ook die eerste suksesvolle bloedoortapping op sy eie suster gedoen.  

Elke bloedskenking wat ontvang word, kan drie lewens red. Baie mense is skrikkerig oor die feit dat hulle dalk ‘n siekte kan opdoen wanneer hulle skenk, maar dit is egter baie skaars. Algemene nagevolge sluit hoofpyne, die moontlikheid om duiselig te word en so ’n effense naar gevoel in. Verskillende mense het verskillende menings oor die bloedskenkkrisis. Sommige sê daar is geen krisis nie terwyl ander sê ons is te laat om dit te keer.

Al is die feite grys ingekleur, twee goed is seker: Bloedskenk red lewens en JY kan deel wees van die oplossing. Indien jy ouer as 15, maar jonger as 75 is, ’n minimum van 50 kilogram weeg en ’n gesonde leefstyl volg, kan jy deel van die oplossings wees. Lees meer oor die bloedskenkproses hier: Western Cape Blood Service – Do something remarkable (wcbs.org.za)

Vergeet jou hemofobie en maak ’n verskil in iemand se lewe. So ’n klein daad maak só ’n groot verskil.