Totsiens, juffrou Warnich: ‘n Reflektiewe onderhoud

Leah Coetzee

Juffrou Warnich het haar stempel hier by DF afgedruk. Na 27 onvergeetlike jare, groet ons haar met ‘n seer hart.  

Wat is een van Juffrou se gunstelingherinneringe hier by DF?  

As ‘n leerder, en nou ‘n onderwyser, het ek DF van beide kante af beleef. Die musiekblyspele, musiek- en balletklasse is voorbeelde van ervarings wat ek as kind opgedoen het. Dit was ook ‘n vorm van ontvlugting en balans vir my saam met akademie en sport.

As onderwyser het die personeel-konserte gesorg vir baie lag-oomblikke. Ek het baie liefde en moeite in DF se tuine ingesit, wat vir my ‘n groot passie is. En dan natuurlik die pad wat ‘n mens stap saam met die leerders. ‘n Mens raak baie lief vir sommige leerders. Van hulle was vier jaar in my klas en spesiale verhoudings word so gebou.

Wat het verander toe Juffrou hier op skool was, in vergelyking met vandag?  

Toe ek hier op skool was, was hier baie minder fasiliteite. In my tyd as leerling is die gimnasium gebou en die saal is groter gemaak. In my tyd as onderwyseres is die UK-gebou, Aktiwiteitsentrum  en die astro gebou.

Die personeel was nog altyd ‘n baie toegewyde span. Ek dink spesifiek aan my Wiskunde-juffrou. Ek en ‘n vriendin het voor die eindeksamen vir ure by haar eetkamertafel  wiskunde geoefen!  Dit was voor die dae van ekstra lesse.  Haar arme man. DF se personeel het oor die algemeen ‘n x-faktor. Dit dra in ‘n groot mate by tot DF se sukses op vele terreine.

‘n Eienskap van DF wat oor die jare vir my opgeval het, is dat DF se personeel  toonaangewende  besluite neem.  

Uit Juffrou se ervaring, het Juffrou ‘n stukkie raad vir die leerders en die onderwysers van DF Malan?

Iets wat vir my baie belangrik is, is om altyd nederig te bly. ‘n Talent kan enige oomblik van jou af weggeneem word, deur byvoorbeeld ‘n ongeluk. Dis hoekom dit so belangrik is om te verstaan dat talente gawes is wat ons onverdiend ontvang. Hoe ons dit ontwikkel, hang van onsself  af.

Die manier wat mense met mekaar praat, is belangrik. Jy kan byna enige iets vir iemand sê, maar die manier hoe jy dit sê, is wat werklik saak maak.

Laastens, tydbestuur. ‘n Kennisontploffing het veroorsaak dat leerders deur baie meer inhoud moet werk en daarom moet jy leer om jou tyd goed te bestuur. Moenie uitstel nie. Dit lei tot groter effektiwiteit en minder angs.  

Hoe wil Juffrou graag onthou word?

Ek het probeer om elke leerling spesiaal te laat voel met hul unieke kwaliteite. My vak is nie almal se gunsteling nie en almal het nie diesefde aanleg  daarvoor nie, maar dit lei tot so baie geleenthede. Dit is belangrik dat hulle weet: Jy is nie Wiskunde nie. Wiskunde is net ‘n vak en jy is soveel meer as dit.  

Ek hoop  dat almal  meestal goed gevoel het in my teenwoordigheid en dat my vak nie skade aangerig het aan iemand se selfbeeld  nie.

Wat gaan Juffrou die meeste van die skool mis?

My vriendskappe. Ek het kosbare, lewenslange vriendinne gemaak. Ek gaan beslis na die mense verlang, maar ons sal kontak hou!

Wat het Juffrou deur die jare hier by DF geleer?

My vak het my geleer om altyd nederig te bly!  

Ek het die voorreg gehad om in die Libertas Koor  te sing. Daar het ek geleer ons moet eers ‘n pad met mense  stap en weet wat in iemand se lewe aangaan voor ons menings vorm oor mekaar.  

Jy moet die gevolge dra van keuses wat jy uitoefen. Jy kan ‘n verkeerde besluit omkeer. Dit is in jou vermoë om dit te verander. Niks hoef vir altyd dieselfde te bly nie. Ek het al so baie voorbeelde beleef van leerders wat heeltemal ander mense is na skool. Leer uit jou foute. Jy bepaal jou eie toekoms. Glo in jouself. Dit is my wens vir elke leerder.

Wat is Juffrou se toekomsplanne?

Ek is tans in my papiefase en gaan  verander in ‘n skoenlapper, maar ek weet nie eers watter kleur haar vlerke gaan wees nie. Ek gaan eers net rus. En dan wil ek nuwe dinge ondersoek en probeer, soos  skilder.

Ek wil meer tyd maak vir vriendskappe en my vriendinne. En weet jy wat? Ek wil nooit haastig wees nie!

Ons wens Juffrou alle voorspoed toe. Dankie vir Juffrou se hart wat kliphard klop vir DF en sy mense.

One Comment

Comments are closed.