Uitstappie-idees voor die somer eindig

Anika Burger

Die Desembervakansie is verby en ons almal smag daarna om terug te keer na pret in die son. Daar is steeds ’n paar weke oor voor die herfs begin en daar is nog oorgenoeg tyd vir lekker someraktiwiteite. Hier volg ’n paar idees:

Besoek die Waterfront

Die Waterfront word gesien as ’n plek vir toeriste, maar daar is eintlik oorgenoeg aktiwiteite om te doen vir mense wat hier woon. Jy kan op die bote ry, by ‘n restaurant gaan eet, in die winkelsentrum rondloop en nog baie meer. 

Gaan strand toe

As Kapenaars maak ons nie altyd gebruik van die lang lys strande wat so naby aan ons is nie. Selfs al wil jy nie swem nie, is dit nog steeds lekker om op die strand te lê, roomys te eet of selfs weer sandkastele te bou.

Hou ‘n piekniek

Om ’n piekniek te hou, is een van die mees gewilde somer- en lenteaktiwiteite. Van die beste plekke hier naby ons om piekniek te hou, is die Kompanjiestuin, Kirstenbosch en Magic Forest. By die Kompanjiestuin kan jy ook neute of sade saamvat om die duiwe en eekhorings te voer. 

Spandeer die dag in Stellenbosch

Dit is defintief die moeite werd om vir die dag deur te ry Stellenbosch toe. Daar is baie goeie restaurante en op Sondae is daar stalletjies in Dorpstraat waar jy klere en juweliersware kan koop.

Probeer nuwe eetplekke

Die volgende keer as jy gaan uiteet of koffie bestel, oorweeg dit om iewers te gaan waar jy nog nooit voorheen was nie. So kan jy iets nuuts probeer en moontlik jou nuwe gunstelingrestaurant vind.

Gaan klim ‘n berg uit

As jy nog nie Tafelberg, Leeukop of Duiwelspiek uitgeklim het nie, is dit nou defintief die beste tyd om dit te doen. Daar is selfs ‘n restaurant bo-op Tafelberg van waar jy die hele Kaapstad sal kan sien. Dit is ook die beste plek om saam met jou vriende ‘n paar kiekies te neem.

Maak volle gebruik van die paar weke wat ons van die somer oor het en maak goeie herinneringe wat ’n leeftyd sal hou.