[Ons plaas graag drie kort ervarings van ons nuwe graad 8-joernaliste.]
Mia Venter skryf:
My eerste week in DF Malan was FANTASTIES!
Toe ek my voet in die skool sit, was ek binne ‘n millisekonde papnat gespuit deur ‘n waterpistool. Nooit was ek al so bang vir gel in my lewe soos in die oorbruggingsweek nie. Die aktiwiteite wat ek moes doen om my hare te beskerm teen die gemotiveerde SR-lede was vreesaanjaend. Enige iets vanaf ring a rosie sing tot vir ‘n SR-lid vra om te trou.
Van al die nuwe ervaringe was die stap die lekkerste. Ja, ons het op party plekke gevoel soos ‘n omgedopte kameel in die Sahara-woestyn en asof ons papgekookte spaghetti vir bene gekry het. Verder was dit 100% die moeite werd, want na die stap het ons nie een nie, maar twee McDonald’s burgers gekry!
Toe ek en my beste vriendin in DF aangekom het, was ek baie angstig oor die 248 nuwe leerders en die hele storie van nuwe vriende maak. Die gevoel van angs het egter baie vining in opwinding verander. Ek het begin uitsien na my hoërskoolloopbaan en die tyd wat ek hier gaan spandeer. Ek wil nie sê ek het nie die leerders geglo toe hulle sê DF gaan jou tweede huis word nie, maar nou glo ek hulle 100%.
My eerste week in DF Malan was verskriklik lekker en ek sien uit om nog artikels te skryf … nie toetse nie, dit kan maar so ver as moontlik van my wegbly!
Christina Bradley skryf:
Ek is nou in die Wilde Weste. Nie meer ’n voor-in-die-koor skouperd nie, maar ‘n agteros. Ek is nou op ‘n plek waar jou naam uitgeveë en oorgeskryf word en waar jy NIEMAND in die oë mag kyk nie.
Dadelik is ek in ‘n kraal gejaag: Daar is bekende en onbekende gesigte oral waar ek kyk. Voor ons staan die sheriffs met hul waterpistole en potte vol gel om ons hare kamstig “reg te maak”.
Ons moet ons arms flap soos voëls en Baby Shark se familie voorstel deur sang. Ons is toe by die AS ingejaag en is aan die hele skool bekendgestel as die Warrels.
Die res van die dag was ‘n warrelwind van aktiwiteite. Van nuwe onderwysers ontmoet tot ‘n toer van die Wilde Weste, ons nuwe tuiste vir die volgende vyf jaar.
Na ‘n vinnige nagrus is ons weer blinkoog, kamstig reg vir nog ‘n dag. Maar min het ons geweet wat vir ons gaan voorlê …
Dag 2 en ons voete ken al die pad na die nou bekende kraal. Die trop begin mekaar al leer ken. Vinnig-vinnig is ons die VRIEND-waardes geleer deur verskeie groepsaktiwiteite. Uitgeput, maar tevrede na ‘n BAIE lang dag is ons almal huis toe gestuur om rus in te kry vir die volgende dag.
Vroeg uit die vere en met ‘n behoorlike ontbyt agter die blad was ons reg om die wa deur die drif te trek van Melkbosstrand tot Bloubergstrand.
Gewapen met net water en ‘n plastieksak was ons reg om die onbekende in te vaar. Om dié Groot Trek aan te pak, moes elke Warrel skouer aan die wiel sit en voor ons ons oë kon uitvee, was ons mildelik met lekker McDonald’s beloon.
Gedaan en papnat van die see se branders is ons almal in die bus geprop om dié naweek reg te maak vir Maandag se baadjieplegtigheid waar ons nou as volwaardige Dee-Effers ingehuldig sal word.
Lynn-Marie Louw skryf:
Waarheen sal ek waai…
Soos enige iets in die lewe begin ‘n tolbos ook as iets kleins; ‘n veer, ‘n takkie, maar soos hy deur die lewe gaan, verander hy, verbeter hy, groei hy …
Nes jy dink die tolbos is nou groot, tref hy ’n klip … Die tolbos begin weer van voor af en moet gryp na enige iets wat hy kan bykom: rommel, doringtakke en probeer om weer sy voete in ‘n nuwe plek te vind.
Dag een en my hart klop in my ore, maar terwyl ek deur daardie hek stap, weet ek dat die Warrel nou die Wilde Weste moet aanvat.
Die tolbos begin saam met baie ander, maar selfs die beste vriende se paaie verskil ook soms van rigting …
Ons word in ons verskillende seksies ingedeel en vriende word geskei, maar dit maak plek vir nuwe vriendskappe.
Die Warrel, nou al ‘n bietjie groter, daag op in ‘n groot stuk veld. Nou is daar baie nuwe Warrels om te leer ken.
Dit is ‘n lang pad om te stap, maar met sy vriende aan sy sy, weet die Warrel: Daar is niks wat hy nie kan doen nie.
Dit was ‘n week vol avonture en geluk noudat ons regte Dee-Effers is, maar dit stop nie hier nie. Daar is nog vyf jaar se avonture wat voor ons lê. Dit mag dalk moeilik wees, maar ek weet, dié Warrel gaan nog ver gaan. Jy het een lewe, leef dit. Nou waarheen sal die wind jou waai?