[Amé Breytenbach en Mieke Verster]
Drie weke van skool en ons noem dit ‘n kwartaal? En dit tesame met ‘n nuwe skoolhoof, ‘n hartseer uitstapdag en ‘n Herout propvol stories. As jy bang is dat die warrelwind van ‘n kwartaal jóú ook wegwaai, klou vas aan jou skoolbaadjie en laat die stories van die Herout jou anker.
Die vierde kwartaal was een gevul met laastes – van uitstapdag tot meneer Conradie wat self van DF moes afskeid neem. Met die trane kom daar ook ‘n glimlag. Ons is baie opgewonde om meneer Hannes Oosthuizen aan die begin van volgende jaar te verwelkom en hom in die DF-familie in te nooi. Saam met ‘n nuwe skoolhoof kom daar ook ‘n nuwe naam – DF sal nou amptelik bekend staan as DF Akademie en akademie is mos ons besigheid! DF se hart bly egter steeds dieselfde, met al die waardes wat óns skool laat uitstaan.
Met ‘n nuwe skoolhoof en ‘n nuwe naam vir 2026, moet daar natuurlik nuwe leierrade ook kom. Die matrieks se tyd het tot ‘n einde gekom en dit is nou die graad 11’s se beurt om hul leierskapsvaardighede te wys. Met ‘n angstige graad 11-dag agter die rug, sowel as onderhoude wat jou van kop tot tone laat bewe het, voel die graad 11’s reg vir hulle finale jaar van hoërskool, alhoewel hulle groot skoene het om te vul. Met die belangrike besluite, soos ‘n ontgroeningstema en slagspreuk vir die jaar, al klaar op hierdie jong volwassenes se skinkborde, is ons opgewonde om te sien wat hierdie groep kan doen om die DF-waardes en familie in 2026 te versterk en te verbreed.
DF se glansgeleentheid van jaar (of vir sommige matrieks ‘n stresvolle dag van haarafsprake, hoop dat jou rok nog pas en probeer leer hoe om ‘n das te vou) het op 1 Oktober plaasgevind en dit was verseker een vir die boeke. Met reën en wind wat ons hier ver aan die Suiderland getref het, sou niks hierdie matriekgroep kon stop om die beste aand van hul lewens te hê nie. Met die tema “Hoofstuk 25” het ons matrieks van 2025 gedans, gesing en hul laaste hoofstuk saam met hul skoolvriende geniet. Daar was wel nog een hoofstuk wat die matrieks moes afsluit en dit was uitstapdag. ‘n Dag vol trane en herinneringe, maar ook ‘n dag van nuwe drome. Ons wens al ons matrieks sterkte toe vir die blink toekoms wat voor hulle lê.
Na ‘n besige kwartaal, was daar nog een kans vir Dee-Effers om hul medleys te oefen en hulle 100 meter se tyd te verbeter voordat die MTBS-seisoen vlamvat. Op 2 Oktober het Dia de Solaris, Proteus on the red carpet en Hurricane Artius, na weke se oefening, vir agt ure lank op en af gespring en hul deursettingsvermoë op hierdie somersdag bewys. Met seer voete en ‘n paar nuwe medaljes om vir Mamma en Pappa te gaan wys, het Solaris met die geesbeker weggestap en Proteus met die atletiekbeker. Gaan lees gerus Jurgen Steyn se artikel om meer uit te vind oor wat persies op hierdie dolle dag gebeur het. Ons sê baie geluk aan ons nuwe MTBS-span vir 2026 en wens hulle alle sterkte toe om DF se Flashes-beker terug huis toe te bring.
Met die “groot” eksamen van die jaar om die draai, is elke Dee-Effer verwoed besig om te hersien en te leer (of altans, dít is elke onderwyser se droom). Onthou om julle deel te doen en dan net jul beste te gee. Ons wens alle Dee-Effers ‘n voorspoedige eksamen toe, wat nie te veel spanning inhou nie. Gaan lees gerus Caro Thirion se artikel vir wenke oor hoe om die eksamenstres baas te raak.
Alhoewel die Herout se stories altyd diep in DF se hart geanker sal wees, het hierdie kwartaal ‘n paar nuwe gesiggies wat agter die skerms werk. Lohen, Etienne, Jacques en Nienke het definitief hul hart en siel vir die Herout gegee, maar is nou reg vir ‘n nuwe stap in hul lewens. Daarom sê ons baie geluk aan ons nuwe hoof van fotografie, Milandi van Eck en aan Hanler van Eck (nee, hulle is nie familie nie) wat ons webtuiste gaan oorneem. Mieke Verster beklee nou die posisie van hoofredaktrise, met Amé Breytenbach as subredaktrise. Hierdie vier is definitief nie bang vir ‘n uitdaging nie en is opgewonde om die Herout net verder te verbeter.
Ontmoet vir Amé:
Ek is die meisie wat van kleins af vir my ouers balletkonsertjies in die sitkamer gehou het, op elke geleentheid sou dans en in elke situasie sal glimlag. Ek is (nou) lief vir lees, alhoewel boeke hard moes werk om op my gunstelinge-lysie te kom. Ek is mal oor moderne dans en het vir baie lank ballet gedoen – ek sal mooi vir almal vertel dat dans wél ‘n sport is.
As jy wil hê dat ek iets moet doen, dan moet jy vir my vertel dat ek dit nie kan doen nie. Ek sal altyd ‘n uitdaging aanpak of ‘n oplossing probeer vind. Tydens ‘n eksamen of toetsreeks verdwyn ek gewoonlik van die samelewing soos wat ek myself té deeglik probeer voorberei.
Ek kan jou nie oor myself vertel sonder om te sê dat ek lief is vir Jesus nie. Hy speel baie beslis ‘n belangrike rol in my lewe!
Om myself op te som: Ek is lief vir my gesin en sal altyd genot probeer vind in dit wat ek doen. Ek is baie opgewonde om die Herout saam met Mieke aan te pak.
Met ‘n kwartaal vol vreemd en veranderinge, het die Herout verseker niks gemis nie. So, wanneer daardie warrelwind jou skoolbaadjie afpluk en die wêreld om jou begin raas, sit terug, ontspan en laat die Herout jou vrees wegwaai.
Amé Breytenbach en Mieke Verster
