Vreesvoos

[Andrea van Wyk]

Vrydagmiddag hang ek my skoolbaadjie op. Nóg ‘n week is verby. So ook die maand van Januarie. Ek besef vir die soveelste keer sedert die skool weer begin het, dat ek die afgelope twee en ’n half weke in vrees geleef het. Ek leef skaam, onseker, twyfelend, nietig en bang.

Vrydagmiddag besef ek ook weer dat ek al vir ‘n paar weke ‘n inspirerende artikel probeer skryf. Dit staan stil; dit stagneer; niks klink reg nie. Ek probeer mense aanmoedig om sonder vrees te leef, maar ek kan nie eens my eie raad volg of toepas wat ek preek nie. Dis te moeilik. Vrees oorweldig my té gereeld. 

Maar, ek het besluit dat ek weier om so te bly. Ek besef dat dit tyd is dat ek my vrees aanspreek. Dit vierkantig in die oë kyk. Dit verg baie moed, diep asemhaling en onmiddellike oorgang tot aksie. Daar is absoluut géén manier dat ek in ‘n permanente toestand van vrees en onsekerheid gaan bly nie. 

Ek wil lééf. 

Dít is my doel vir Februarie en Maart en die res van die jaar en volgende jaar en die res van die tyd wat ek bestem is om op hierdie aarde deur te bring. Ek gaan al die bangmaakgoed trotseer en my gedagtes en fokus doelbewus rig op dit wat goed en mooi is. Ek gaan doen wat ek graag wíl doen, want ek wil vóluit lééf. 

Ek besef dat baie mense met vrees sukkel. Vrees is oral – in skole, by werke, by die flieks, in restaurante, in opstelle, oorsee, in jou beste vriende. “Twyfel en onsekerheid sit vlak in die oë van oud en jonk.” (Nataniël) Sien, partykeer kom geleenthede oor ons pad wat ons belangstelling prikkel of wat ons graag wil nastreef, maar ons is baie keer te bang om dit na te streef ten koste van ons wil, passies en ambisies. Dan, voor ons ons oë uitvee, is die geleentheid weg en het ons dit gemis. 

Ons weet nie wat die toekoms vir ons inhou nie – Kom ons aanvaar dit net. Want ons gaan nooit enige iets weet as ons altyd in vrees lewe nie, nooit vir enige iets ja sê of geleenthede deur ons vingers laat glip nie. 

Dis nie hoe ‘n mens lewe nie. Twyfel en spanning en onsekerheid maak ons mal. Vrees raak ons baas. Ek besef dat “jy eers in ‘n lied kan leef as jy vreesloos en vry is.” (Nataniël)

“I want to live the most vividly decorated temporary life that I can. I don’t just mean physically; I mean emotionally, spiritually, intellectually. I don’t want to be afraid of bright colours, or new sounds, or big love, or risky decisions, or strange experiences, or sudden changes, or even failures. I’m going to spend as much time as I can creating delightful things out of my existence, because my creativity brings me awake and it brings me alive.” – Karam Nwilati 

So híér is waar ek die streep trek: Ek is vreesvoos. Maandagoggend gaan ek my skoolbaadjie aantrek en ek gaan lank en lig loop. 


Andrea van Wyk

Andrea (An3a) verteenwoordig ‘n gelukkige bondel energie. Jy sal haar heel waarskynlik langs die sportveld vind in haar noodhulphempie reg om enige besering te behandel – fisies of emosioneel. Om haar dag te maak, is heel eenvoudig:  ‘n vriendelike groet in die gang of ‘n koppie tee enige tyd van die dag.