Waar is die vrouekunstenaars?

[Misha Coetzee]

Die kunswêreld se konstante weiering om vrouekunstenaars erkenning te gee, moet gestop word.

Die Britse Nasionale Galery huisves 2 300 kunswerke wat alles van Van Gogh tot Monet insluit. Uit daardie kunswerke is slegs 21 gemaak deur vroue en slegs agt vrouekunstenaars se werke word uitgestal. Maar kan die argument gemaak word dat daar net nie baie vrouekunstenaars in die geskiedenis is nie?

Die kort antwoord: nee.

Die langer antwoord handel oor hoe vrouekunstenaars  amper heeltemal uit die geskiedenis uitgeveë word. Vrouekunstenaars soos Rachel Ruysch en Artemisia Gentileschi raak verlore in die oseaan van manlike kunstenaars.

Vroue van vroeër as die 19de eeu bly vergete. In die verlede is daar geglo dat vroue nie die vermoë het om behoorlike kuns te maak nie. Vroue is vanaf die 16de tot en met die 19de eeu verbied om naak kunswerke te skilder, iets wat as noodsaaklik geag word vir die CV van kunstenaars. Daar is geglo dit sou hulle onsuiwer maak. Vroue is nie toegelaat om kunsopleiding te ontvang nie. Dié wat wel die geleentheid gehad het om as ‘n assistent vir ‘n kunstenaar te werk, het alle oefening en opleiding vanaf kopieërwerk ontvang. Hulle is aangemoedig om eerder handwerke te maak as skilderye aangesien dit as meer vroulik gesien is. Kunswerke deur vroue is as onbelangrik en nie goed genoeg nie geag, daarom was baie van vroue se kunswerke nie gestoor nie en bly steeds verlore in die geskiedenis.

In plaas van erkenning vir hulle werke te ontvang, is vroue gekenmerk as die maat of muse van manlike kunstenaars. Leonora Carrington, ‘n kunstenaar van die middel 19de eeu, is as Max Ernst se muse gestereotipeer. Sy het wel haar irritasie met hierdie etiket duidelik gemaak.

Dit is nog ‘n manier hoe vrouekunstenaars se impak uit geskiedenisboeke geveë word.

Die kunswêreld is gelukkig besig om te verander met die groeiende feminisme-beweging. Aktiviste, soos Guerilla Girls, se konstante bewusmaking van die gebrek aan vroulike kunstenaaruitstallings veroorsaak dat meer en meer galerye erkenning aan vrouekunstenaars gee.


Mischa Coetzee

Misha se liefde vir geskiedenis sal altyd deel wees van enige van haar gesprekke. Sy is nie bang is om oor sosiale kwessies te debatteer nie. In haar vrye tyd sal jy haar by ʼn oudhedewinkel of by die bioskoop saam met haar vriende vind.