Jana Burger
Nie almal is mal oor die tradisionele seevakansie nie en daar is beslis ‘n paar DF-boekwurms wat hulself in hierdie kategorie bevind.
Gelukkig is daar ‘n winkel in die suidelikste dorpie van Afrika waarheen die boekwurms kan ontsnap, terwyl die res van die gesin op die strand lê. Die Beachcombers Agulhas is ‘n tweedehandse boekwinkel in die hoofstraat van Kaap L’Agulhas en word deur oom John en tannie Susie Thomson besit. Oom John het hierdie klein besigheid, waarna hy verwys as sy stokperdjie, byna twee jaar terug begin. Ten spyte van die feit dat die tweedehandse boekwinkel ‘n redelike nuwe toevoeging tot al L’Agulhas se uiteenlopende toeriste-attraksies is, het die boekwinkel alreeds die aandag van die permanente inwoners, sowel as toeriste van alle ouderdomme vasgevang. Oom John verduidelik dat dit grotendeels te danke is aan die feit dat die winkel op die hooftoerismeroete geleë is.
Oom John se enigste doel met sy boekwinkel is om mense tevrede te stel. Hy wil net vreugde aan die lesers van die dorp verskaf. Die boekwinkel het oorspronklik as ‘n persoonlike stokperdjie begin wat nou, as gevolg van die grootte daarvan, in ‘n voltydse werk verander het.
Die boekwinkel het oorspronklik min of meer 2 000 boeke gehad wat oor die afgelope twee jaar eksponensieel gegroei het. Dit is te danke aan die boeke wat tweedehands aangekoop word om nog ‘n groter verskeidenheid van skatte vir gretige boekwurms te bied.
En dit word met alle erns bedoel.
Jy gaan dalk nie die nuutste roman van Colleen Hoover of Madeline Miller daar vind nie, maar gelukkig is daar ‘n hele wêreld van fantastiese literatuur buite BookTok, ‘n plek waarin so baie tieners hulself deesdae bevind. Van bekende classics tot fantasie en nie-fiksie, Beachcombers het iets vir almal. Jy mag dalk net jou nuwe gunstelingboek hier tussen die rye en hoë rakke vind.
Tensy jy natuurlik glo dat ‘n boekwurm nooit regtig ‘n gunstelingboek kan hê nie. Volgens oom John is dit een van die moeilikste vrae wat jy vir ‘n leser kan vra. Hierdie boekliefhebber erken dat hy nie een gunstelingboek of -genre het nie, maar dat hy wel rillers en geskiedkundige boeke die heel meeste geniet.
So, as jy op soek is na jou volgende Desember literêre obsessie of net ‘n verskoning soek sodat jy nie tyd in die son hoef te spandeer nie, is die Beachcombers Agulhas tweedehandse boekwinkel die perfekte plek vir enige boekwurm wat na ‘n ander wêreld wil ontsnap.