Waarom jý by Engelse debat moet aansluit

[Ellie Herbst]

Wanneer die mense wat betrokke by en passievol oor Engelse debat is, dié buitemuurse aktiwiteit probeer bemark, is daar gewoonlik twee redes waarom mense wegskram:

Die eerste verskoning is ’n aanvaarbare een: “Ek hou nie daarvan om te stry nie.” Partykeer is dit moeilik om te glo, aangesien ons tieners is, maar as jy werklik nie daarvan hou nie, is dit verstaanbaar dat jy nie aan debat sou wou deelneem nie.

Die tweede verskoning is egter baie frustrerend: “Ek word senuweeagtig wanneer ek voor mense moet praat.” Baie min mense is van nature gemaklik wanneer hulle voor ’n groot groep moet praat. Vir die meeste van ons, is dit ’n vaardigheid wat aangeleer moet word, omdat dit noodsaaklik is vir effektiewe kommunikasie.

Debat is dus ’n baie goeie geleentheid om te oefen! Jy sal elke keer wat jy voor jou span, jou opponente en die beoordeelaars staan, ’n bietjie meer selfvertroue kry. Wanneer jy sê dat jy nie gemaklik voor mense kan praat nie, sê jy net dat jy onervare is en dit is heeltemal oukei! Die reis na selfvertroue begin met die eerste tree.

Dit is maar net één van die voordele wanneer jy aan debat deelneem. Daar is vele ander wat verder hieronder bespreek word:

Debat leer vir jou hoe om vinnig te dink. Op senior vlak, kry jy ’n uur om jou toesprake voor te berei, waartydens jy glad nie jou selfoon mag gebruik nie. Tydens die debat, moet jy dink aan maniere om op die opponerende span se argumente te reageer, terwyl jy ook moet kophou oor die debat as geheel. Jy leer hoe om vinnig te dink, tyd te bestuur en hoe om jouself op die beste manier moontlik uit te druk.

Jy word meer bewus van wat in die wêreld om jou gebeur. Baie debatte handel oor onderwerpe wat vandag baie relevant is en jy moet genoeg kennis oor die wêreld hê om effektief daaroor te argumenteer. Dit forseer ’n mens om navorsing te doen, die nuus te lees en te leer oor onderwerpe wat jy nie noodwending op jou eie sou ondersoek nie. Byvoorbeeld, het jy geweet dat stamselle gebruik kan word om MIV te genees? Of dat ’n hofregter meer geneig is om vir jou lewenslange tronkstraf te gee voordat hulle middagete gehad het? Dit is die tipe feite wat die basis kan vorm van belangrike argumente en wat daarna interessante onbenullighede word wat jy met mense kan deel.

Wil jy leer hoe om ’n argument teen jou ma of pa te wen? In debat leer jy oor die struktuur van argumente en sodoende hoe om jouself te verdedig. Jy leer hoe om foute in ander mense se argumente raak te sien, wat jy dan vir hulle kan uitwys. Sodoende kan jy herken wanneer daar gate in iemand se argument is, in jou daaglikse lewe of in die nuus.

Engelse debat bied jou ook die geleentheid om met ’n wye verskeidenheid mense te praat. Die beste gesprekke gebeur buite die lokaal, nadat die debat plaasgevind het en die beoordeelaars daarbinne die debat bespreek. Julle praat oor wat julle wens julle gesê het, oor hoe baie of min julle werklik voorberei het of komplimenteer mekaar se toesprake. Sodoende leer jy ook hoe om met mense te netwerk. Jou vriende in ander skole vertel vir jou oor die swakpunte van die span teen wie julle volgende debat gaan praat, sodat julle goed kan voorberei. Oefendebatte word gehou om wenke te deel en meer gemaklik te word met praat. Julle sien mekaar by kompetisies en vertel mekaar van julle navorsing voor die debatte begin.

Debat leer jou ook hoe om in ’n span te werk. Jy moet goed kommunikeer oor die argumente sodat julle saak sterk kan wees. Tydens die debat moet julle notas deel sodat julle argumente goed vloei. Sê byvoorbeeld jy is die eerste spreker en jy het vergeet om iets te sê tydens jou toespraak of jy het ’n goeie teenargument vir wat jou opponente nounet gesê het. Jy kan nou vir jou tweede en derde sprekers daarvan vertel en hulle kan dit in hul toesprake inwerk.

Dit leer ook vir jou hoe om krities te dink oor ’n situasie. Jy moet altyd albei kante van ’n debat in ag neem en dus moet jy altyd jou perspektief kan verander. Dit is ’n belangrike vaardigheid wat jy jou hele lewe lank sal gebruik, om konflik op te kan los, om ondersoeke te doen en selfs om eendag te besluit vir wie jy sal stem.

Soos jy kan sien, is daar baie redes om debat te neem, maar waarom moet jy juis aan Éngelse debat deelneem en nie Afrikaanse debat nie? Natuurlik kan jy by albei aansluit, maar as jy net tyd het vir een, is hier ’n paar redes waarom jy dalk Engelse debat sou kon kies:

Die struktuur van Engelse debat en Afrikaanse debat verskil baie. In Engelse debat het die derde spreker byvoorbeeld nie hul eie argumente nie en daar is geen debatsgesprek soos in Afrikaanse debat nie. Engelse debat se struktuur is meer universeel aanvaar, daarom kan jy aanhou daarmee op universiteit en jy kan internasionaal kompeteer. Omdat elke spreker (eerste, tweede en derde spreker) sy eie unieke rol het, kan jy die rol kies wat vir jou die beste sal pas.

Verder, het jy “meer vryheid” in terme van wat jy alles kan sê tydens jou toespraak. Jy kan grap oor die korrupsie in ons regering en daar is tegnies geen reëls teen vloek nie (wees net versigtig, want party beoordeelaars sal minder gelukkig daaroor wees as ander). Solank as wat jy respekvol bly, is daar min reëls oor wat jy alles nie kan doen nie.

As jy goed is met Engels of as jy jou Engels wil verbeter, is hierdie ’n goeie geleentheid om jou vaardighede op te skerp! Jy word omring deur mense wie se huistaal Engels is en daar is definitief baie wat jy by hulle kan leer.

Engelse debat is ’n wonderlike geleentheid om vaardighede aan te leer, vriende te maak en pret te hê. Ek sluit af met die aanhalings van sommige van ons spanlede oor dit wat Engelse debat vir hulle geleer het:

“I really like how it enriches our minds and broadens our horizons, helping us with public speaking and encouraging us to grow as people.”

-Anoniem

“Debating has given me confidence in expressing my thoughts and the ability to think critically under pressure, creating a deeper understanding of different perspectives.”

– Mildred le Roux

Ellie Herbst

Ellie is die een wat sportdae met ‘n hoop boeke op die pawiljoen deurbring. Haar kop is in die wolke, maar haar voete is stewig op die grond geplant. Sy hoop om eendag ‘n kinderboekskrywer of joernalis te word.