[Annika van Zyl]
Ons voel dikwels, as tieners, dat eksotiese reisbestemmings buite ons bereik is. Vir tyd en wyl mag dit so wees, maar daar lê dalk ’n ongekunstelde avontuur net om die draai. Dan moet jy gereed staan met jou reislys, want as die gogga eers byt, is daar geen omdraaikans nie. Hier volg ’n paar opwindende bestemmings vir elke voorkeur.
Groenland: fjords en visvang
Groenland bied ’n ervaring soos min. Ruim landskappe, klein vissersdorpies en indrukwekkende fjords sal jou asem wegslaan. Of jy ’n somer visvang-besoek beplan of in die winter ’n ski-toer en die Noorderligte wil aanpak, bly Groenland ’n verrassingsavontuur. Met nuwe lughawens en beter toegang, begin meer reisigers Groenland ontdek as ’n realistiese, eerder as onmoontlike bestemming. Groenland is gemik op dié wat wil wegkom van die samedromming van die stad en ’n waardering vir die natuurskoon het.
Ho Chi Minh-stad, voorheen Saigon, Viëtnam: kultuur en kos Hierdie Viëtnamese stad beleef ’n toeriste-ontploffing en is ’n ideale bestemming vir kos-avonturiers en rugsaktoeriste. Beleef die straatkos, kuier by kafees en ontdek die lewendige geskiedenis van Ho Chi Minh. Meer avontuurlustige reisigers sal ook tempels en grafkelders van Tomb Raider-faam in die omgewing geniet.
Barcelona: kultuur, kuns en kookplekke
Barcelona se ikoniese bouwerke van Gaudí sal jou asem wegslaan. Van Park Güell tot die Sagrada Família volg jy in die voetspore van ikoniese reisigers. Besoek ook die standbeeld van Christopher Columbus by die Ou Hawe aan die onderpunt van La Ramblas. Kunsliefhebbers sal beide moderne en klassieke kuns, van Picasso tot Dalí, hier vind. Barcelona is ’n verfrissende belewenis wat jy nooit sal vergeet nie.
Rio de Janeiro: strande van genot
Vir dié van julle wat die Seven Sisters-reeks van Lucinda Riley gelees het, behoort Rio de Janeiro bekoring in te hou. Die beroemde Copacabana- en Ipanema-strande is ’n perfekte plek om te ontspan of jou beste samba-danspassies uit te haal! Hier vind jy ook die ikoniese Christus die Verlosser-beeld, Sugarloaf-berg en ’n besondere karnaval-atmosfeer in die strate. Rio bied ’n mengsel van kultuur en kleurvolle genot vir sy besoekers.
Singapoer: ’n stad van die toekoms
Singapoer is die toonbeeld van innovering en effektiwiteit, terwyl kultuur en erfenis steeds om elke hoek en draai wink. Hier vind jy ’n mengsel van futuristiese argitektuur, geïntegreerde natuurskoon sowel as kosliefhebbers se droom by die bekende hawker markets. Waar het jy al gehoor van ’n padstal met ’n Michelin-ster? In Singapoer beslis! Van Gardens by the Bay se lig-skouspel tot ’n bootrit voor die Marina Bay Sands, is Singapoer ’n droombestemming in sy eie reg.
Waar gaan jy heen?
Of jy nou van berge, strande of stede hou, reis bied iets vir almal. Laat 2025 daarom die jaar wees waarin jy jou eie reisverhaal skryf. Die wêreld is gereed. Is jy?
Annika van Zyl
Annika is altyd op ‘n drafstap en geniet atletiek, seevakansies en ‘n boeiende speurverhaal. Sy is vanjaar in graad 10, Hoërskool DF Malan is haar hart se punt en tyd saam met vriende en familie is vir haar kosbaar.