Warmsjokolade, sneeu en sterre

[Teané van der Merwe]

Droom jy daarvan om warmsjokolade te drink terwyl die sneeu saggies buite jou venster neerval? Geniet jy die knetter en klap van die vuur wat die vertrek verwarm? As jy ’n boekwurm is en graag onder warm komberse lê en boeklees, is Sutherland die plek vir jou! 

Sutherland is die koudste dorp in Suid-Afrika. Tydens die winter kan temperature in Sutherland tot onder 15 grade Celsius daal! Dus is dit baie belangrik dat jy warm klere inpak, tensy jy nie sal omgee om soos Frosty die sneeuman te lyk nie! Die koue is egter die ideale weer vir warmsjokolade. Wat kan dan nou lekkerder wees as om jouself van binne te verhit?

Ek beveel niemand aan om in die dorp self te bly nie. Probeer om eerder blyplek buite die dorp, op ’n plaas, te kry. ‘n Voorbeeld van ‘n plaas buite Sutherland is Rogge Cloof. Rogge Cloof is egter nie net ’n plaas nie – dit is ook ’n natuurreservaat. In hierdie reservaat is daar jagluiperds! Perfek vir enige amateurfotograaf met ’n passie vir diere.

Die sneeu wat die dorp in ’n wit kombers bedek, lyk ook pragtig in ‘n foto. Sneeu is egter nie die enigste rede om hierdie dorpie te kom besoek nie. Sterre is eintlik die rede hoekom Sutherland so bekend is. 

Jy het seker al in jou tuin gestaan en die sterre bewonder. Gewoonlik is daar net so een of twee sterre wat helder blink in die naglig. Sutherland is hier om vir jou te wys dat daar veel meer sterre is as wat jy ooit sou gedink het. Die aande in Sutherland is asemrowend. Die heelal is vol sterre wat helder skyn. 

Die dorp huisves ook Suid-Afrika se bekende teleskoop, Southern African Large Telescope (SALT). Daar is verskeie redes waarom die teleskoop juis in Sutherland gebou is. Die eerste rede is dat die dorp minder ligbesoedeling as die stede het. Die aande in Sutherland is donkerder as ander areas in die land en dus kan die sterre beter bestudeer word. Tweedens is die heuwel, waarop SALT gebou is, 1 800 meter bo seevlak. SALT is ook nie die enigste teleskoop wat op hierdie heuwel staan nie. Ander lande het ook teleskope hier opgerig en betaal vir Suid-Afrika om dit te onderhou. 

Die South African Astronomical Observatory of SAOO bied toere aan vir diegene wat belangstel om SALT te gaan besoek. Ek was al self op hierdie toer en sal dit vir enigiemand met ‘n liefde vir sterrekyk aanbeveel – of as jy sommer net meer oor die teleskoop, sterre en die melkweg wil uitvind.

Die SALT-teleskoop is nie die enigste plek waar jy na sterre in Sutherland kan kyk nie. Daar is ook ’n plaas net buite die dorp wat sterrekyksessies aanbied. Sterland Stargazing, op die plaas Sterland, het ’n uurlange toer. Tydens hierdie toer wys die toergids vir jou eers ’n DVD oor Sutherland en die sterre. Na die video word jy buitentoe geneem waar daar agt groot teleskope is om na die sterre te kyk. Die toergids gebruik ’n laser om vir jou die sterre uit te wys en verduidelik vir jou hoe om die Suiderkruis te gebruik om te bepaal waar suid is. Ek was op ‘n yskoue aand op Sterland se toer en al het ek verwag om meer sterre deur die teleskoop te kan sien, was dit steeds ’n wonderlike ervaring.

Indien jy op soek is na jou volgende vakansie-avontuur, oorweeg dit sterk om Sutherland te besoek vir ’n wonderlike wintervakansie. 

Teanè van der Merwe

As Teané nie by die krieketnette is nie, verslind sy leesboeke. Sy hou van nuwe resepte probeer en spandeer baie tyd by die perdeplaas.